Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié liefde bedek, glo en hoop amper alles

Hartlam

Saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair

Kortverhale

TAFELBERG, R250

Hartlam is Tinder in boekvorm: Met so ’n verskeidenheid stemme en stories maak dit nie saak of jy op soek is na ontspanningsverhale of iets meer literêr nie, skryf Frederick Botha.

Tafelberg-uitgewers het die laaste paar jaar verskeie tematiese versamelbundels gepubliseer om die lewenskragtigheid van die Afrikaanse kortverhaal te verseker.

Daar was erotiese kortverhale in Bloots (2012) en Skarlakenkoors (2013), bangmaakstories in Skrik op die lyf (2015) en speurverhale in vroeër vanjaar se Op die spoor van.

Hartlam is die nuutste toevoeging en bevat 42 kortverhale oor die liefde deur bekende skrywers en ’n hele paar debutante.

Die skrywers Gerda Taljaard en Deborah Steinmair, wat ook die samestellers van Skrik op die lyf was, speel dié keer Cupid wat die lekkerleesromanse namens die leser fasiliteer.

Soos dit maar met ’n blind

date

gaan, weet jy nie altyd presies wat om te verwag nie, en so sorg Hartlam ook vir sy eie verrassings.

Die verhale handel oor die vele gesigte van liefde, onder meer erotiese liefde, verbode liefde, onbeantwoorde liefde, moederliefde, obsessiewe liefde en selfs liefde tot die dood toe.

Die kort lengte van die verhale laat die lees daarvan soos speed dating voel. Van die verhale bied die leser ’n vinnige fling vol leesgenot – ontspanningsverhale wat die leeslus bevredig.

Chantél Venter se prettige vertelstyl roep in “Dikker as water” die Hantamwêreld op en gee ’n humoristiese uitbeelding van die liefde-haatverhouding tussen susters. Ook B. Clarke se “Die Boerpampoenkoning” is ’n komiese uitbeelding van ’n boerseun wat sy boerpampoene vir ’n meisie verruil, terwyl die verrassende slot van Marlize Hobbs se “Dans” enigiemand twee keer sal laat dink om ’n geliefde te verneuk.

Die lokteks op die voorblad waarsku dat die liefde alles verdra, maar dat dit dikwels ook tande het. Dit verwys allesbehalwe na daardie love bite wat jy ná ’n passievolle naweek moet probeer wegsteek: baie van die verhale verken die donker kant van liefde.

Marianne Venter se “Jou ooilam, Ma” skets die tragiese gevolge van kindermolestering, en in “Dis nie perdekoop nie” van Ann Hiemstra vind die leser ’n uitbeelding van die spreekwoordelike geluk by die ongeluk. Gerda Taljaard se “Bloed” en Jaco Jacobs se “Woorde kom daar nie by nie” wys onderskeidelik hoe moederliefde en liefde tussen man en vrou tot in die doderyk voortduur.

Malene Breytenbach gebruik die Grensoorlog as agtergrond in “Geen groter liefde” waar die vriendskap tussen twee vriende wys hoe ongeneesbaar die hart se wonde is. In Maria du Pré se “Daardie pragtige, swart nommertjie” skraap die verteller moed bymekaar om ’n metgesel na die Valentynsbal te vra, en bewys Du Pré dat sy die belangrikheid van ’n treffende kortverhaalslot verstaan.

’n Handjievol van die verhale is knap toevoegings tot die Afrikaanse kortkuns, en verleen nie net statuur aan die bundel nie, maar sal ook ’n blywende indruk op die leser laat, net soos daai eerste crush op skool vir wie jy nooit sal vergeet nie.

'Bouwerk', die openingsverhaal deur Christine Barkhuizen-Le Roux, is ’n roerende uitbeelding van ’n ma se liefde sonder oordeel vir haar gay dogter.

“Bouwerk”, die openingsverhaal deur Christine Barkhuizen-Le Roux, is ’n roerende uitbeelding van ’n ma se liefde sonder oordeel vir haar gay dogter. Keina Swart se “O, die liewe Martatjie” is hartseer en ontstellend en uiters relevant in die lig van die hele #MeToo-veldtog wat tans op sosiale media heers.

In Nini Bennett se “Ek is tog Mamma se liefste ou dingetjie” word die gelykenis van die verlore seun na ’n ma-dogter konteks verplaas, en Ilse van Staden se uitstekende “Koms van die blou fiets” beeld die ontwikkeling, duur en afloop van ’n verhouding aan deur slegs te fokus op die tuin en nie-lewende objekte buite die huis.

Pieter van Zyl se treffende “Ek is omdat ons is” fokus op hoe ’n gay verhouding deur Vigs geaffekteer word met die kragtige slot wat (heel gepas) ’n interteks van Eben Venter se 1996-roman, Ek stamel, ek sterwe, bevat. Ook “Nagbloeier” van Roela Hattingh betrek die Suid-Afrikaanse aktualiteit van misdaad om man en vrou weer met mekaar te herenig. Henning Pieterse se knap “Twee wette” word ’n uitbeelding van obsessiewe liefde wanneer ’n tale-student ’n getroude digter-akademikus begin teister.

Die liefde is ongelukkig nie altyd perfek nie, en so het die bundel ook ’n paar gebreke.

Die klimaks in Evert Louw se interessante “Die tyding” word bederf deur oorverduideliking in die slot. Ook Louis Lategan se “Soos baaisiekel ry” het die potensiaal gehad om ’n humoristiese, dog deernisvolle uitbeelding te wees van oumense wat weer hul sekslewe wil laat herleef, maar ongelukkig is die eindproduk ietwat oordrewe.

Ten spyte van twee of drie verhale wat eerder kon gebly het, is Hartlam Tinder in boekvorm: met soveel verskeidenheid stemme en stories maak dit nie saak of jy op soek is na ontspanningsverhale of iets meer literêr nie – swipe na hartelus links of regs, want ’n match sal jy wel iewers tussen die 42 gewillige kortverhaalkandidate kry.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Frederick J. Botha is ’n draaiboekskrywer van Kaapstad en doktorale student in Afrikaanse letterkunde.
Meer oor:  Liefde  |  Skrywer  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.