Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die man met ’n duisend stories in sy kop
Harry Kalmer

Drie jaar gelede, op ’n skrywersparty, het Harry Kalmer ’n paar woorde met my gewissel. Hy was besig om sy roman, ’n Duisend stories oor Johannesburg, in Engels te vertaal (met insette van Ivan Vladislavic en Michael Titlestad) en dit was vir hom ’n lekker, maar moeisame proses. Lekker omdat hy die wonder en eenvoud van woorde herontdek het. Dit was vir hom openbarend, het hy met kinderlike entoesiasme erken.

Dit het my getref: lewenslank ’n woordsmid, ’n veelbekroonde reklameman, dramaturg, romansier, kortverhaalskrywer, essayis. En hy herontdek laat in sy 50's steeds die mag van woorde en eenvoudig skryf. Harry het dit laat klink asof hy ’n belangrike deurbraak gemaak het.

Die Engelse weergawe, A Thousand Tales of Johannesburg (Penguin Random House), is bekroon met die Sunday Times se Barry Ronge-fiksieprys, en pryk op winkelrakke saam met sy jongste Afrikaanse roman, In ’n land sonder voëls (Penguin), ’n distopie wat in die nabye toekoms afspeel. Klinkklare bewys van sy vlot tweetaligheid en ’n rustelose verbeelding.

26 toneelstukke, ’n dosyn boeke. Die titels sing met eiesoortige poësie, bepaald modern én uitdagend: Die waarheid en ander stories (1989), X-Ray Visagie en die vingers van God (1993), Die man met die dertien kinders (1998), Vlieger en die gevare van die close dance (2012), ’n bundel nostalgiese rubrieke vir MyTyd in Rapport. In 2007 was En die lekkerste deel van dood wees naaswenner van die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd. Dit spreek alles vanself.

In 1991 was my eerste onderhoud vir De Kat met Harry die kopieskrywer, vir ’n artikel oor Afrikaanse taalmense in die reklamebedryf. Toe al was hy behep met die woord, slagreëls, klingels, hoe woorde vlytig ingespan word om enige produk te verpak.

Maar Harry wou ook wyer gesels, oor skrywers, filosowe en boeke waarvan ek niks geweet het nie, oor politiek, idees, denkrigtings. Hy het oorgeloop met konsepte en gebroei oor projekte. Een beroep kon hom kwalik definieer. Later sou hy in ’n radioveldtog vir dié glanstydskrif met die ongeveinsde slagreël vir Nataniël vorendag kom: “Koop net die bleddie ding!”

Lankal was ek bewus van sy vindingryke verhoogtekste; die magies-realistiese Antjie Somers and I (1989), waarin ’n skrywer met ’n karakter in haar boeke in gesprek tree, was veral vars en onkonvensioneel. Prosa het die weg berei vir ekskursies in ander genres soos drama, kabaret (The Secret of my Excess, 1992) en televisie.

Harry was altyd aan die lees, herlees en navors, onversadigbaar en byna obsessief, maar hy was geensins koesterend oor boeke nie. Hy wou nie boeke opgaar nie, het hy my meegedeel, eerder weggee. Plek maak vir die volgende ontdekking en leesavontuur.

Sy solostuk vir Elize Cawood, Briewe aan ’n rooi dak, bekroon met die Anglo-Gold Smeltkroes-prys vir die beste nuwe verhoogteks op Aardklop, het die hart van eensaamheid met deernis en vlymskerp insig oopgevlek.

Harry was altyd aan die lees, herlees en navors, onversadigbaar en byna obsessief, maar hy was geensins koesterend oor boeke nie. Hy wou nie boeke opgaar nie, het hy my meegedeel, eerder weggee. Plek maak vir die volgende ontdekking en leesavontuur.

Sy nugter kyk op sake blyk uit elke sin en paragraaf van sy werk. Oogklappe is daar nie. In een onderhoud het hy gebieg dat hy altyd geboei was deur “verskuilde geskiedenisse”, stories wat onvertel gebly het. Sy verkennende gees en dikwels eksperimentele aanslag was trompop, onthutsend, gestroop. Hy was deeglik bewus van neigings in die letterkunde, maar kon sy eie koers onbeteueld inslaan. Stories was belangriker as postmodernistiese speletjies; resensente moes dans om by te bly met die veelheid van narratiewe drade, karakters met kruiskulturele identiteite, die wye belangstelling van ’n outodidak, aanhalings en fragmente wat hy om ’n tema geweef het.

“As skrywer het Harry onvergeetlike karakters geskep en hy was een van die beste humoriste in enige taal in Suid-Afrika. Vir sy vele vriende het hy lojaliteit bo alles gestel; hy was ’n ware mensch met ’n diep insig in ons lewens. My kinders sê hulle onthou die warmte van ons aande saam. Hy het ons male sonder tal vermaak met sy unieke humorsin; daar het nooit ’n onoorspronklike woord oor sy lippe gekom nie. Sy heengaan laat ’n groot gat in my lewe.”

“Harry was my sielsgenoot, my broer, my kameraad,” vertel Hans Pienaar, sy boesemvriend van 36 jaar, en Harry se uitgewer by Taurus. “As skrywer het Harry onvergeetlike karakters geskep en hy was een van die beste humoriste in enige taal in Suid-Afrika. Vir sy vele vriende het hy lojaliteit bo alles gestel; hy was ’n ware mensch met ’n diep insig in ons lewens. My kinders sê hulle onthou die warmte van ons aande saam. Hy het ons male sonder tal vermaak met sy unieke humorsin; daar het nooit ’n onoorspronklike woord oor sy lippe gekom nie. Sy heengaan laat ’n groot gat in my lewe.”

Sy vrou, die digter Corné Coetzee: “Ek wil skaars glo dat ons vriend van meer as drie dekades nooit weer met ’n bottel wyn by ons stoeptrappe sal opstap nie. Hy kon lekker kuier omdat hy in byna alles, en bowenal mense, belang gestel het. En hy kon luister. Sy geesdrif oor dinge was wonderlik. Oor ’n boek wat hy gelees het, ’n toneelstuk, ’n plek, ’n song, ’n spesiale dis wat Sanpat gemaak het. Harry het dikwels verwonderd gesê: ‘Dis beautiful!’

“Een van die heel mooiste goed van hom was sy liefde vir sy kinders, Jana en Daniel, en sy vrou, Sanpat. Ek dink dis in een van sy kortverhale dat ’n karakter na sy vrou van baie jare sit en kyk, en hy dink: ‘Ek besef ek is nog steeds verlief op haar.’ En almal wat vir Harry en Sanpat saam geken het, weet dit is geen persona nie, dit is Harry self wat hier praat, uit sy groot, liefdevolle hart uit.”

Enkele jare gelede is ek en Harry deur ’n skrywersfees op die Wits-kampus genooi om te gesels oor ons nuwe romans wat albei in en om Johannesburg afspeel. Die gespreksleier was Jo Prins, Beeld se boekeredakteur.

Ons drie het opgedaag en gedwee in ’n klein lesinglokaal gaan sit en wag vir ons gehoor om op te daag. Daar was toe presies een, ’n gemeenskaplike vriendin. Vier van ons teenwoordig: Jo, Harry, die vriendin, en ek.

Harry het net gegrinnik, skouers opgehaal, en voorgestel ons gaan gewoon voort met die sessie. Ons het ons stoele in ’n sirkel getrek, mekaar in die oë gekyk en land en sand gesels oor boeke, skrywers, die vreugdes en opofferings van die skryfproses. Lonend was dit toe vir dié viertal in die koue saaltjie. Stimulerend, vermaaklik, besielend.

Ons kon saamstem dat skrywers allereers vir hulself skryf sonder om te weet of enigiemand die boek gaan koop of lees. Of kom luister na hul diep en groot gedagtes.

Net een van die duisend stories oor Harry.

Meer oor:  Dramaturg  |  Skrywer  |  Harry Kalmer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.