Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die man wie se kinderjare ’n staat van inperking was

Die joernalis en skrywer Brent Meersman se memoires oor sy naargeestige kinderjare in Milnerton met ’n skisofreniese kunstenaarsma en alkoholis-pa sou in die verkeerde hande maklik in ’n oorsensasionele sirkus kon ontaard, maar in ‘A Childhood Made Up’ speel hy nooit die rol van die slagoffer nie, skryf Herman Lategan.

Brent Meersman. Een van sy heel bestes.Foto: Jonathan Burton

A Childhood Made Up: Living with My Mother’s Madness deur Brent Meersman. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

Milnerton in Kaapstad is bekend vir sy lagune, Woodbridge-eiland, ’n fraai vuurtoring, sy aanskoulike strand met branderplankryers, en ’n uitsig oor Tafelberg wat die visuele tafereel vervolmaak. Soms staan daar helderpienk flaminke, hul nekke soos vraagtekens, kniediep in die blink strandmeer. Pragtig.

Maar soos in die meeste voorstede skuil die werklike kloppende hart met sy kleppe wat lek in die brose borskas ágter die mure van die wonings. Dit is hier waar die donker dramas in die verweefde lewe van families afspeel.

Die Kapenaar, skrywer en joernalis Brent Meersman vertel in sy nuutste boek – memoires – oor sy naargeestige kinderlewe wat meestal in Milnerton in ’n armoedige woonstelblok afspeel. Die tydperk strek van die laat 1960’s tot die 1980’s.

Daar is vier dramatis personae in hierdie soort van People Are Living There, waar almal saam woon, maar eintlik buitestanders is: Sy ma, Shirley, is ’n skisofreen wat meestal in ’n dwaal is, skaars uitgaan en haar verdiep in haar kuns.

Soms staar sy ure lank voor haar uit. ’n Mens kan jou indink: Die suidoostewind suis buite, vensters ratel en die dag se nerf is af. Meersman se ma stoei weliswaar met donker magte, ’n begaafde kunstenaar dié was sy beslis. Sy het vroeër jare tydperke in die psigiatriese hospitale Valkenberg en Stikland deurgebring.

Sy pa, William, het uit België gevlug om van sy buffelagtige, suinige ouers weg te kom. Hy is as kind emosioneel verwaarloos. Omdat hy ’n gesplete lip en verhemelte gehad het, is hy nie net deur sy eie pa wreed gespot nie, maar ook deur ander mense. Hy het mettertyd aan depressie begin ly en ’n alkoholis geword.

Shirley het op hom verlief geraak omdat hy ’n breë algemene kennis gehad het, al het hy net st. 5 voltooi. Hy was ’n kranige outodidak. Tog het hulle ’n sukkelbestaan gevoer omdat hy in fabrieke gewerk het waar die ure lank en die geld min was.

Die memoires lees plek-plek soos ’n roman.

In ’n radio-onderhoud vertel Meersman hy vermoed sy pa het ook aan grenstipe persoonlikheidsversteuring gely. Dit wil voorkom of hy ’n rokjagter en lief vir dobbel op perde was, al was die gesin arm.

Meersman se pa het soos baie alkoholiste gemaak. Soms verdwyn vir dae aaneen terwyl die gesin tuis gespanne wag om te sien of hy weer gaan terugkom en of daar genoeg geld gaan wees vir kos. Hulle het partykeer honger gely as hy so wegraak.

Eendag het hy sommer al sy tande laat trek en toe hy later die kunsgebit kry, het hy graag daarmee gespot. Hy het dit uitgehaal en op ’n stuk vleis gesit – tot die groot afsku van die res van die gesin.

Dan is daar Meersman se broer, Paul-Henri, wat so min as moontlik met sy familie te make wou hê. Hy en Meersman moes ’n kamer deel en die plek was beknop.

Hierdie sensasie van inperking en afsondering is ’n draad wat deur die boek loop en ’n mens voel soms die versmoring wat met vandag se staat van inperking vergelyk kan word. Later, toe sy broer in ’n tiener ontluik, het hy daagliks see toe gestap om te gaan branderplank ry, weg van die disfunksionele hel by die huis. Sy broer is mettertyd landuit en praat al vir 30 jaar nie met Meersman nie.

Uiteraard was sy afsku vir sy kinderlewe van so ’n aard dat hy dit totaal wou afsny. Hy het egter ná die verskyning van hierdie boek wel per e-pos met Meersman kontak gemaak.

Brent Meersman. Een van sy heel bestes.  Foto: Jon
Brent Meersman. Een van sy heel bestes. Foto: Jonathan Burton

Meersman self was ’n skaam kind wat nuuskierig was oor alles, wyd gelees het en op skool goed gevaar het. Om van die huis weg te kom het hy partykeer alleen op die strand gaan slaap en ’n klein vuurtjie gemaak.

Toe hy groter word, was sy eie vrees dat hy soos sy ma ’n skisofreen kon word en het hy sy emosies beheer deur die fyn net van die woord en om te skryf. In ’n ander radio-onderhoud sê hy: “I took control over my lan­guage, so that I didn’t go the same way as my mother. But I’m way past that age now [wanneer die siekte kan ontwikkel].”

Om uit so ’n huishouding in een stuk uit te kom, wil gedoen wees, en Meersman het ’n sukses van sy lewe gemaak. Hy het al sewe ander boeke gepubliseer, plaaslike en internasionale artikels geskryf en sy poësie het in verskillende publikasies verskyn.

Hy is ook mederedakteur van die nuuswebwerf GroundUp en voorsitter van die Kaapse Persklub.

Die titel van dié boek is belangrik, maar hierdie resensent gaan nie verklap waarom nie. Daar is ook ’n reis waarop die familie gaan wat in ’n volslae nagmerrie ontaard.

Die memoires lees plek-plek soos ’n roman. Meersman se skryfstyl voel by tye te terughoudend, maar waarskynlik gee dit meer trefkrag as dit subtiel en in ’n laer rat geskryf is. Soiets kan immers maklik in ’n oorsensasionele sirkus ontaard as dit in die verkeerde hande beland en nêrens in dié boek speel hy die rol van die slagoffer nie.

Dit laat ’n mens sekerlik weerloos om so oor jou kinderjare te skryf omdat skaamte, onsekerheid en ’n lae selfbeeld altyd onder die oppervlak prut. Hy is dapper om so eerlik te wees en die kans is goed dat die skryfproses van hierdie boek groot heling by die skrywer bewerkstellig het.

Van al sy boeke kan hierdie resensent sê A Childhood Made Up is een van sy heel bestes.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Groenpunt.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.