Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die meetsnoere val nie perfek vir almal
Foto:

Fiksie

Geen engel nie

André Krüger

PENGUIN, R270

As bildungsroman slaag Geen engel nie ongetwyfeld. Wat onder die loep geneem word, is die faktore en invloede wat ons menswees vorm, skryf Francois Bekker.

Die grimmige voorblad van André Krüger se vierde roman verklap iets van wat die leser te wagte kan wees. Die donker engel adem onheil, ’n noir-verhaalgegewe, die dood selfs. Daarby bevestig die titel – Geen engel nie – dat hierdie nie ’n kuis o, die-lewe-is- ’n-lied-storie is nie.

Dat die meetsnoere nie vir almal altyd perfek in plek val nie, is vir sommige mense meer waar as vir ander. Om op die regte plek te wees, op die regte tyd en om die regte mense te ontmoet is dikwels bepalend van ’n mens se kans op sukses. Oor hoe die dobbelstene van die lewe vir jou gaan val, het mens min beheer.

Omdat Geen engel nie maklik as die skrywer se memoire gelees kan word, is die credo voorin belangrik: “Hierdie boek is nie die waarheid nie, maar die waarheid is in hierdie boek.” Om by T.T. Cloete te leen: “Die waarheid gelieg.”

’n Man wat ’n lewenspad van snot, trane en bloed ge­stap het, bevind hom op die drumpel om ’n nuwe koers in te slaan. ’n Koers weg van die misdadigheid waarin hy verstrengel geraak het. Met ’n rewolwer in sy hand om vir oulaas te doen wat gedoen moet word, is hy dit dalk meer teenoor homself verskuldig as hy ons, die lesers, vertel hoe hy tot hier gekom het.

Hierdie man, wie se naam nooit genoem word nie, se lewe begin aan die verkeerde kant van die treinspoor. ’n Armoedige, onstabiele gesinslewe en ’n gemeenskap wat klaar besluit het dat hy juis daarom eerder weggestoot, op ’n afstand gehou moet word.

Dit begin op Randfontein met oomblikke van gelukkig wees hier en daar. Sy pa vat die pad om nooit weer van hom te laat hoor nie. Sy ma struikel om kop bo water te hou. Die gesin verhuis na Germiston. Mansvriende kom en gaan.

Sy niggie Maggie is die belangrikste persoon in sy lewe. Hulle gee om vir mekaar. Sy alleen kan hom egter nie teen die lewe of selfs haar sadistiese broer, Markus, beskerm nie.

Dis veral op skool wanneer ’n kind nie oor die geestelike weerstand beskik nie dat die lewe jou oordeel, tipeer en as sodanig vir die lewe in die grootmenswêreld voorberei. Dikwels word jou plek in die gemeenskap reeds hier bepaal.

Vir hierdie man was die keuses van die begin af skraps. Sy akademiese prestasie laat veel te wense oor. Sy tweedehandse skoolklere wat te groot is vir hom maak hom bespotlik. Geen ondersteuningsnetwerk nie. Dit alles saam met die tipe vriende in die praktiese klas is lotsbepalend. Moeilikheid skuil om elke hoek en draai.

Te vroeg uit die skool uit, weg van die huis af en skielik op straat. Hier ontmoet hy mense soos Cora, wat hom laat besef daar is mense wat selfs slegter af is as hy. Sy afkeer in die mensdom word elke dag groter. Hongerte maak mens desperaat. Die val kan nie meer gestuit word nie.

Op ’n dag kry hy ’n tweede kans. Maar ouens soos hy ontkom selde indien ooit aan die lotsbestemming wat vir hom gekies is.

Op ’n dag kry hy ’n tweede kans. Maar ouens soos hy ontkom selde indien ooit aan die lotsbestemming wat vir hom gekies is.

Ontdaan van enige intellektuele pretensie of ’n resepmatige literêre opset, volg André Krüger ’n interessante benadering. Die teks lees vlot. Dit resoneer met die taal op straat, veral die agterstrate. Baie interessant egter is wat ek wil tipeer as ’n enkelbeurtvertelling wat die leser van die eerste oomblikke af by die ek-verteller as protagonis betrek en jou laat voel of jy die lewenspad elke tree van daardie pad saam met hom stap. Daar is nie tyd- of ruimtelike spronge nie. Nie afwisselende storielyne of beurtelingse fokalisering nie.

Die risiko met so ’n benadering is dat die vertelling van die storie ’n monotone gevoel kan kry. Iets gaan ook verlore met ’n noodwendige gebrek aan karakterontwikkeling by die newekarakters. Die randfigure wat die hoofkarakter se jonger broer en suster is, het ek steurend gevind. Die interessante en skokkende verhaalgegewe vergoed egter hiervoor.

Die storie se aweregse humor bevestig die menslikheid van die karakters. So byvoorbeeld verklaar die hoofkarakter teenoor sy “partners in crime”: “As julle op my intelligensie reken het ons verloor voor ons begin het. Ek moet studeer vir ’n bloedtoets.” (bl. 240)

Geen engel nie slaag ongetwyfeld as bildungsroman. Wat onder die loep geneem word, is die faktore en invloede wat ons menswees vorm. Die lewe is ’n universiteit sonder glans of gradeplegtigheid. Gestroop van eufemismes herinner hierdie storie ons daaraan dat die lewe ’n mens soms hard kan bliksem.

Hierdie waarheid tref ’n mens nadat jy die boek gelees het wat ook as ’n pikareske roman beskou kan word: Die ek-verteller sonder ’n naam kon my of jou naam gedra het. Want die vraag wat by my spook, is in welke mate ek ander keuses sou maak as ek in sy skoene gestaan het.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Resensies  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.