Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié ontvoering tref jou soos trosbom

‘Losprys’, die krimiskrywer Martin Steyn se vierde en  indrukwekkendste roman, verteenwoordig ’n nuwe hoogtepunt in sy oeuvre waarteen toekomstige plaaslike pogings in dié genre gemeet sal word, skryf Jonathan Amid.

Losprys deur Martin Steyn. Uitgewer: Lapa. Prys: R295.

Vergeet van die inkopielys vol clichés wat gewoonlik vir die beste plaaslike misdaadfiksie gebruik word – snaarstywe spanning, sekure skryfwerk en veral die spreekwoordelike vuishou in die maag. Martin Steyn se vierde en indrukwekkendste roman tref jou soos 'n trosbom.

Wanneer presies sal van leser tot leser verskil, maar daar is verskeie geleenthede wat ’n mens eenvoudig laat steier. En dít verg veel meer as die opstapeling van lyke, die beskrywing van gruwels of die manipulasie van gebeure en emosies om die soort emosionele deurbraak en verbintenis te bewerkstellig wat Steyn met reëlmaat in sy romans vermag.

Hier het ons te make met ’n skrywer wat te midde van ellende en verlies die kleinste, mees intieme oomblikke van patos en empatie kan raakboor, maar, soos met die onvergeetlikste leeservarings, kom saam met dié gevoelens van ontnugtering ook ’n soort euforie: Jy het die aanslag oorleef; jy is ’n getuie van die optekening van ’n soort werklikheid wat nog lank by jou sal spook.

Lesers weet teen dié tyd die plaaslike misdaadfiksiespens is oorlopens toe vol, maar dit is ook so dat die heel bestes onder dié gros elkeen ’n unieke soort bevrediging bring en volgens ’n ander resep te werk gaan. Net soos ’n Peet Venter van ’n Henk Breytenbach, Karin Brynard of Irna van Zyl verskil, is dit ook al hoe makliker om die raakpunte en veral ook die verskille tussen ’n Deon Meyer, ’n Rudie van Rensburg en ’n Martin Steyn aan te teken.

Verskeie geleenthede laat ’n mens eenvoudig steier.

Tog is dit steeds die skrywers wat elemente van die speurverhaal of polisieprosedure aangryp – Meyer, Brynard, Van Rensburg – wat die meeste aftrek kry by lesers én resensente. Om verskeie redes, wat hopelik in die loop van dié bespreking duidelik sal word, is Martin Steyn vir my moontlik die beste polisieprosedure-krimiskrywer in Afrikaans.

Losprys verteenwoordig Steyn se interpretasie van polisieprosedure-as-gyselaarsdrama, een wat aanvanklik afspeel in ’n klein paleis in Llandudno. Die legkaartstukke is uiteindelik legio, maar die kern behels die ontvoering van ’n tienerseun, Stephen Gordon, en ’n ontvoerder wat ’n losprys van R20 miljoen van sy ryk Amerikaanse ouers eis.

Die Gordons is op die oog af die vergestalting van vooruitgang en wit bevoorregting, maar die ontvoering van hul seun noop hulle om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en spesifiek ’n spesialis-gyselaarseenheid te gebruik. Bewaar die siel wat die wipwarit van Losprys se plot op die lappe bring! Die groot wending is niks minder as briljant nie en stel Steyn in staat om die werk wat hy oor die bevraagtekening van die kontoere en karakter van skuld, verantwoordelikheid en aandadigheid in veral Skuldig en Swartval gedoen het, tot nóg groter hoogtes te voer.

Hoewel die ambisieuse kaptein Lu­bambo gretig is dat dié hoëprofielsaak opgelos moet word (om ’n mate van vertroue in die polisie te herstel), word die leser stelselmatig ingetrek by die persoonlike lewe van adjt. Enzo Ariefdien en adjt. Karla Blanckenberg wat in baie opsigte ’n spilpunt is waarom die persoonlike agter die prosedure wentel.

Die geloofwaardigheid van Steyn se verhale, sy toewyding tot navorsing en sy voorliefde vir galgehumor is bo verdenking. Soos veral in Deon Meyer se mees onlangse romans word die SAPD as ’n mikrokosmos van ’n veelrassige, veeltalige Suid-Afrika geskilder. Die polisie-as-mikrokosmos-idee is ten minste so oud soos die gewilde romans van Ed McBain en sy 87th Precinct-karakters. Ek vermoed Steyn het ’n groot deel van sy inspirasie gekry by David Simon se onverbeterlike Homicide: Life on the Street.

Steyn klim sonder skroom in die koppe van slagoffers en “skuldiges”, maar is sonder gelyke in die skep van feilbare en eg menslike speurfigure soos Ariefdien. Dit is juis die verhouding tussen Ariefdien en sy vrou en tienerdogter – ’n slim teenvoeter vir die verhouding tussen die Amerikaanse gesin en die ontvoerde Stephen – wat eenvoudig jou hart vermurwe en verpletter. Die slottoneel is gestroop en verbysterend en sal beslis sorg vir ’n lewendige gesprek onder getroue Steyn-lesers.

Oordeelkundigheid, fyn waarnemings, maksimale funksionele waarde vir elke gekose hoof- en newekarakter asook ’n sterk prosastyl is almal teenwoordig. Steyn vermy sekere tonele wat lesers sou verwag, soos kort en gekursiveerde afsonderlike hoofstukke wat óf van die ontvoerder óf die ontvoerde Stephen as verteller gebruik maak. Vergeet daarvan – hierdie skrywer hou daarvan om oor die lyne in te kleur.

Ander plaaslike krimi’s soos Karin Brynard se Onse vaders, Jeanette Stals se Vermis, Margie Orford se Daddy’s Girl en veral Michéle Rowe se Hour of Darkness, wat in baie opsigte met Losprys vergelyk kan word, het ook die plotdrywer van ontvoering as spilpunt, maar geen van dié romans – Onse vaders en Hour of Darkness kom wel naby – het die trefkrag óf die herleeswaarde van Losprys nie.

Daar word ook nooit in stroperigheid of naïewe sentiment verval nie, en die skrywer kry dit reg om met die motief van ontvoering sy studie van die menslike psige, maar ook die stryd teen geweld in veral voorheen benadeelde gebiede, op die voorgrond te plaas.

Indringende vrae word gestel oor die rol van die media, die wanfunksionerende regstelsel en die ongelykhede wat meer as twee dekades ná apartheid voortduur en vererger.

Kyk byvoorbeeld hoe mooi Steyn die verhouding tussen ruimte en plek en menslike subjektiwiteit laat afspeel. Is misdaad, soos die dood, die groot gelykmaker tussen ryk en arm, en oor rassegrense heen?

Losprys verteenwoordig ’n nuwe hoogtepunt in die skrywer se oeuvre. Bes moontlik is dit ook ’n nuwe baken van uitnemendheid waarteen toekomstige plaaslike pogings in dié genre gemeet sal word. Dié literêre trosbom sal geeneen onaangeraak laat nie.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Martin Steyn  |  Resensie  |  Losprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.