Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die realiteit van onmenslike omstandighede

Historiese Fiksie

The Courier

Kjell Ola Dahl

ORENDA BOOKS, R220

Op 9 April 1940 val Duitse magte Noorweë in en vir die res van die Tweede Wêreldoorlog, tot 8 Mei 1945, word dié neutrale Skandinawiese land beset deur die Nazi’s.

Aan die begin van die besetting was daar net oor die 2 000 Jode in Noorweë van wie amper 800 sou afsterwe. Huishoudings is gedurende hierdie tydperk verdeel en families van mekaar geskei. The Courier vertel die verhaal van een so ’n familie, die Lemkovs.

Dis Oktober 1942. Ester Lemkov lewer in Oslo koerante per fiets af vir die Noorweegse weerstands­beweging. Propagandakoerante soos Friheten, Vart Land en Fritt Land word wyd versprei, maar enige betrokkenheid by anti-Nazi-propaganda is strafbaar met die dood.

Wanneer Ester ’n oorhandiging op Tasen-stasie maak, vermy sy nouliks inhegtenisneming deur die Gestapo en vlug noodgedwonge, sonder haar familie, na Swede.

Wanneer haar familie kort daarna na Auschwitz gestuur word, moet sy saamleef met die skuld dat sy ontsnap het en haar familie nie. Daarbenewens word haar beste vriendin, Ase, onder verdagte omstandighede dood aangetref in haar woonstel in Oslo.

In Stockholm hervat sy haar werk en help om vlugtelinge uit Noorweë te hervestig – ook Gerhard Falkum, ’n berugte lid van die weerstandsbeweging en Ase se verloofde en pa van haar kind.

Wie het Ase vermoor? Gerhard, die Nazi’s of ’n onbekende besoeker aan haar woonstel?

Wie het Ase vermoor? Gerhard, die Nazi’s of ’n onbekende besoeker aan haar woonstel? Vir die volgende 20 jaar bly Ase se dood onopgelos.

In 1967 verskyn Gerhard onverwags in Oslo met ’n ander naam en ’n vae verklaring van 20 jaar tevore se gebeure. Die motief vir sy terugkeer is twyfelagtig en wat Ester as die waarheid aanvaar het, is ver daarvan.

Dit word duidelik dat gedurende oorlog andersins onetiese optrede soos moord, diefstal en verraad aanvaarbaar word ter wille van oorlewing.

Die trefkrag van The Courier lê in Dahl se uitbeelding van die omstandighede in Noorweë en Swede gedurende die tydperk van Nazi-besetting. Dit wys die stremmende en vernietigende uitwerking wat oorlog op families en verhoudings gehad het sonder enige sentimentaliteit, maar deur eerder te fokus op die realiteit van onmenslike omstandighede.

Dahl is bekend vir sy kontemporêre prosedurele polisierillers, maar met The Courier vermeng hy historiese fiksie met sy kenmerkende misdaadfiksie.

’n Deel van die sukses van die boek is Dahl se kort, kragtige sinne wat bydra tot ’n gevoel van angs en onrustigheid, selfs wanneer hy iets so gewoon soos Ester se fietsrit beskryf.

Ten spyte van hierdie skryfstyl gee Dahl se gedetailleerde waar­nemings van die omgewing en karakters steeds lewe aan ’n verhaal wat reeds propvol intrige en atmosfeer is.

Dahl se keuse van historiese tydperk is in pas met ’n klaarblyklike oplewing in fiksie gegrond op die Tweede Wêreldoorlog, waarvan Philip Kerr se Bernie Gunther-reeks wat deesdae ook in Afrikaans vertaal word, een voorbeeld is.

The Courier is ’n waardige toevoeging tot die genre en bied iets waardevols vir lesers van sowel historiese as misdaadfiksie.

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.