Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié reeks laat tradisie van storievertel herleef
Jemma Kahn

’n Plaaslike reeks podsendings, The Story Animal, bring stories deur plaaslike skrywers ingekleur met die stemkuns van akteurs na luisteraars.

Ses skrywers en ses akteurs neem deel aan dié uitsondelike projek, wat poog om die eeue-oue tradisie van stories om ’n kampvuur te laat herleef, sê die sameroeper, Liese Kuhn. Daarby is dit ’n manier om aan plaaslike skrywers ’n platform vir hul skryfkuns te gee asook om ’n inkomste te genereer tydens die staat van inperking.

Tans is daar een storie wat in Engels en Tswana vertel word, ’n Engelse storie en die res is Afrikaans.

“Ons wil so divers moontlik wees, en gee die skrywers vrye teuels om hul stories in die taal van hul keuse te skryf. Dit is ons werk om ’n akteur, wat die betrokke taal magtig is, te soek vir die vertolking.”

Die skrywers is Jemma Kahn, Mercy Kannemeyer, Herschelle Benjamin, Kanya Viljoen, Buhle Ngaba en Philip Theron.

Hul stories kry lewe met die stemkuns van die akteurs Carlo Daniels, Melanie Scholtz, Maite Rakabe, Karli Heine, Nina Smit en Kathleen Stephens.

Die projek het eintlik uit ’n storie ontstaan, ’n storie wat net neergeskryf moes word.

Herschelle Benjamin

“Ons (die vervaardigers is Kuhn en Anrico Goosen) is aan die begin van die inperking na ’n winkelsentrum toe. Daar het ons ’n man gesien met drie maskers aan en ’n gesigskerm. Dit het Anrico so geprikkel dat hy ’n storie geskryf het. Dit het ons aan die dink gesit om stories te skep en dan met podsendings te versprei omdat die medium nou so gewild word,” vertel Kuhn.

Sy is ook ’n rolprentmaker en is vanjaar gekies vir Durban Talents in samewerking met Berlinale Talents om ’n vollengte-draaiboek te ontwikkel. Goosen is ’n veelsydige kunstenaar, marionettemaker, akteur en werk op rolprentstelle in die kunsafdeling.

Mercy Kannemeyer

The Story Animal moes op klein skaal gebeur om koste laag te hou. En hulle het geld nodig gehad. “Ons het aansoek gedoen by die departement van sport, kuns en kultuur, maar ons e-pos het nooit deurgegaan nie. Later het ons op die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se Twitter-boodskap gereageer. Hy het teruggekom na ons toe en net daarna het ons ’n boodskap gekry dat ons e-pos ontvang is.”

Al die repetisies en ontmoetings is virtueel gehou om die projek so veilig moontlik vir almal in die tyd van die koronavirus te hou. Die akteurs het hulself opgeneem en die redigering is by die ateljee gedoen.

“Ons het op ses skrywers en ses akteurs besluit sodat almal ordentlik betaal kon word. Ons wou nie ’n presedent skep en kunstenaars verniet laat werk nie, veral ook nie in hierdie moeilike tyd nie.”

Sy voorsien dat dit uitgebrei kan word tot 12 skrywers en akteurs, maar dan is nog finansiering nodig. Hulle droom ook om die stories dalk op te voer.

Die eerste stories is reeds op die platforms Spotify, Deezer, Stitcher en Apple Podcast beskikbaar. Nuwe stories word weekliks gelaai.

“Die eerste seisoen wys die ongelooflike talent en rykheid wat ons storievertellers bied,” sê Kuhn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.