Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die ruimte tussen objekte

Met ‘Die dekonstruksie van Retta Blom’, haar eerste roman vir volwassenes, wys Zelda Bezuidenhout sy verstaan die kuns van ’n goeie roman, skryf J.B. Roux.

Die dekonstruksie van Retta Blom deur Zelda Bezuidenhout. Uitgewer: Kwela. Prys: R270.

As daar één rede sou wees om Zelda Bezuidenhout se Die dekonstruksie van Retta Blom ’n ligte dwarsklap te gee, is dit ’n frase op bl. 215: “ . . . amper-uitgebrande sigaret wat gevaarlik tussen haar lippe hang soos die doodsnikke van ’n slegte verhouding”.

Huh? Hoe het so ’n liederlike stylfout-vis deur die net geglip? (En soos altyd is ’n mens nooit seker wie verantwoordelik gehou moet word nie – die skrywer of die redakteur?)

Bezuidenhout is ’n bekroonde jeugverhaalskrywer wat ook onder meer kortverhale en rubrieke agter haar naam het. Die dekonstruksie van Retta Blom is haar eerste roman vir volwassenes.

Die titel verklap reeds wat jy van dié boek kan verwag: Iemand gaan deeglik verniel en tot op die been gestroop word. Só ’n dekonstruksie lê aan die hart van die meeste romans: Die uitdaging van fiksie lê daarin dat die skrywer én lesers die hoofkarakter(s) diep moet leer ken – en hoe doen jy dit sonder om jou karakter(s) nakend deur brandnetels en oor gebreekte glas te sleep?

Die slagordes is opgestel. Retta het tot die skrywer en haar lesers se vreugde baie om te verloor.

Deur so ’n titel te kies, suggereer Bezuidenhout sy gaan die universele roete volg en nie die spul heeltemal verongeluk nie. Die vraag is: Hoe góéd gaan sy die universele ding doen?

Die skrywer kon nie ’n beter teiken vir haar “vernielsug” gekies het nie. Lauretta Blom het op die oog af ’n perfekte lewe: Sy woon in ’n praghuis op ’n duur landgoed en is getroud met ’n goeie man, To­bias, wat geld soos bossies maak.

Hul twee seuns, Dawid en Ben, het onlangs die huis verlaat en hul lewens is min of meer op koers. Sy het ’n eklektiese bondel vriende, sommige heel aweregs, en dan is daar Charlie, haar getroue hond wat nooit ’n poot verkeerd sit nie.

Retta glo in God. Sy doen welsynswerk en vind vreugde in haar obsessief-kompulsiewe versteuring: Haar wit-en-beige huis skitter en alles staan op hul plek.

Die slagordes is opgestel. Retta het tot die skrywer en haar lesers se vreugde baie om te verloor.

Die middeljare staan inderdaad nader en Retta begin wonder oor die lewe wat sy nié het nie, oor die ruimte tússen twee objekte in ’n skildery.

Dan gebeur iets “onbenulligs”, die domino wat as’t ware ál die domino’s gaan laat kantel: Haar man, wat op pad Kaap toe is op nóg ’n sakereis, pak sy tasse in die kar se kattebak, sorgvuldig, asof hy wil plek maak vir iemand anders se tasse ook . . .

’n Affair? Nee, so voorspelbaar is die storie nie – daar is veel meer as dit.

Retta en haar kunstenaarsvriendin, Leigh, pak kort daarna ’n motorreis Kaap toe aan. Tydens dié toer dink Retta oor haar lewe en doen sy introspeksie.

Op Bethulie maak sy kennis met die jonger, aantreklike Adam en natuurlik is daar vonke tussen die twee.

Tot hier toe is die boek interessant en stel ’n mens regtig belang in Retta en wie sy is. Dis goeie, leesbare skryfwerk. Maar dinge gebéúr eers regtig ná die eerste sowat 200 bladsye: Daar wag ’n skokkende ontdekking op Retta, gevolg deur ’n skokkende gebeurtenis wat haar emosioneel kaal stroop.

Die ontknoping en slot is soos dit moet wees, met die klem op sluiting en ’n nuwe begin. Of dalk ook nie: Jy sal self moet lees om uit te vind.

Die geheelindruk is dat Bezuidenhout die kuns verstaan om ’n goeie roman te skryf. Haar karakters is eg, geloofwaardig en boeiend en sy weet hoe om met woorde ruimte tússen objekte te skep en te benut. Pleks daardie een vissie nie deur die net geglip het nie.

  • J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.