Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die saam anders maak van ‘ ’n gewone man’

Niefiksie

One Day in Bethlehem

Jonny Steinberg

JONATHAN BALL, R270

Niefiksie-lesers weet alte goed dat elke Jonny Steinberg-boek ’n belewenis in eie reg is.

Veral in die sin van Derek Att­ridge se beskouing van die letterkunde en die teks as ’n “event”, soos omvat in sy The Singularity of Literature. Attridge stel voor dat elke (goeie) teks, met elke lees, iets nuut na vore bring. Nuwe moontlikhede, nuwe interpretasies, nuwe uitdagings.

Die joernalis en akademikus Steinberg se skrywe – forensies ingestel op detail, onberispelik nagevors, vol patos en komplekse handelinge, buite blote joernalistieke blootlegging – is juis so prikkelend en waardevol as tydsdokumente omdat dit iets vasvang van die tydsgees, maar ook iets universeel oproep. Sien die skip in die botteltjie, hemel in die wilde blom.

Die nimmereindigende soeke na waarheid en geregtigheid, en die waarde van lewe en menswaardigheid, word opnuut beklemtoon soos elke publikasie die voriges in nuwe lig stel. Elke herlees, en lees in die konteks van die skrywer se ontwikkelende oeuvre, bied verdere wyshede en pitkos. Dit verklap ’n skrywer in voortdurende gesprek met ander, maar bowenal met homself. Soos die skrywer self ontwikkel, as mens, as vakman, as wêreldburger, so ontwikkel die voortdurende gesprek.

Met die lees van Steinberg voel dit soos talm in Delphi, en te ervaar hoe die orakel iets van die toekoms kan verhelder en voorspel.

Midlands, Three Letter Plague, The Number, en veral Steinberg se laaste publikasie voor hy oor die water is, A Man of Good Hope, het die grense rondom die vertelkuns uitgedaag: kompulsief en met ’n versengende intensiteit word Steinberg se pen ’n poort na nuwe maniere van kyk, nuwe wyses van verstaan, nuwe vorms van wees en saamwees.

Soos Breyten Breytenbach begelei deur sy digkuns na die weg van “saam anders maak” durf Steinberg om ons bloot te stel aan besonderse individue, soms groots, soms alledaags en uiters feilbaar, wat ons blik op die ander versag. Die besonderse eise wat lewe in Suid-Afrika aan ons stel.

Elke huis het sy kruis. Reg en onreg, subjektiwiteit en die onmoontlikheid van objektiwiteit en neutraliteit, verwonding en versoening, gebrokenheid en heel word, skoonheid en brutaliteit, barmhartigheid en onverdraagsaamheid, andersheid en aanvaarding. Saam leef, saam groei, eerder as blote saam oorleef.

Met die lees van Steinberg voel dit soos talm in Delphi, en te ervaar hoe die orakel iets van die toekoms kan verhelder en voorspel. Wanneer niefiksie die regte storie op die regte tyd vertel, soos so dikwels met Steinberg se skrywe gebeur, vind daar iets alchemies plaas tussen teks, konteks, en leser. Iets wat moeilik in woorde omgesit kan word, maar wat die afstand tussen binne en buite, toe en nou, daar en hier, en tussen objekte en mense vernou.

Ons verstaan meer oor wat ons gedink het ons weet, maar nooit die regte woorde voor kon vind nie.

Ons verstaan meer oor wat ons gedink het ons weet, maar nooit die regte woorde voor kon vind nie. Een tree nader aan empatie, herinner om herbesin alledaags te maak.

Steinberg, Suid-Afrikaanse joernalis en akademikus, het onlangs sy terugkeer na Suid-Afrika ná jare in Oxford so beskryf: “This is what going home means for me. It is to stand outside myself and watch my bourgeois life prodded and pushed and buffeted around by lives quite unlike my own. It is to surrender myself to a world so much bigger than I am and to the destiny of a nation I cannot control. In this surrender is an expansion, a flowering, of what it means to be alive.”

Tyd weg van die huis het One day in Bethlehem gebaar. Soos Joan Didion se klassieke Slouch­ing Towards Bethlehem (1968) wat die Kalifornië van die 1960’s vasvang, is hierdie ’n niefiksie-teks wat oor die lyne inkleur, een wat soos ek dit lees probeer sin maak van Suid-Afrika.

Eksplisiete sin maak van die land as ’n ruimte, ’n tuiste, die Griekse oikos – die gesin, die eiendom, en die huis – en implisiete sin maak van Suid-Afrika as ’n konsep, ’n ideaal, ’n strewe, ’n plek om voor bang te wees en ’n onlosmaaklike deel van die siel. Een wat dikwels onverklaarbare vreugdes verskaf en die onmoontlike moontlik maak.

Wie is Fusi Mofokeng, inwoner van Bethlehem? Hoe is ’n onskuldige man en sy drinkebroer, Thsokolo Mokoena, skuldig bevind aan misdade waaraan hulle geen aandeel gehad het nie? Watter waarde het die lewensverhaal van ’n gewone man wat 19 jaar in die tronk moes oorleef om die breër publiek op te voed oor die skreiende onregte van die verlede, en as rigtingwyser vir ’n meer bedagsame, minder antagonistiese “saam anders maak”?

Yeats verklaar in “The second coming”: And what rough beast, its hour come round at last, Slouch­es towards Bethlehem to be born? Lees One Day in Bethlehem. Kyk met sagter oë na die wat Steinberg aan die vergetelheid ontruk.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Jonny Steinberg  |  Resensies  |  One Day In Bethlehem  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.