Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die sinne oor sy lewensreis koer

Louis Jansen van Vuuren se ‘Amper Frans’ is ’n boeiende kampvuurverhaal gevul met ironiese anekdotes oor hoe twee hardwerkende Suid-Afrikaners met hul talente in Frankryk woeker. Dis die perfekte ontvlugting vir almal wat voos is van 2020, sê Herman Lategan.

Amper Frans: ’n Lewe van fanfare en faux pas deur Louis Jansen van Vuuren. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R240.

Toe hierdie resensent in die 1980’s vir Louis Jansen van Vuuren ontmoet het, was hy ’n kunstenaar en lektor wat dit nie juis breed gehad het nie.

Hy het in ’n klein huis in Observatory, Kaapstad, gewoon, maar kon toe reeds met min bestanddele gewone kos in fynproewersmaaltye omskep. Geen kuier was sonder fanfare en goeie geselskap nie. Sy uitstallings was feestelike geleenthede in die dae toe daar nog gratis goeie kaas en wyn bedien is.

Die aanhangers en groupies was ’n mengsel van modelle, akteurs, skrywers, avant-garde-akademici en ’n paar uitbundiges wat sommer wilde danspassies in die agtergrond gedoen het. Dit was ’n happening, nie sommer ’n hierjy- vervelige affêre nie. Hy het toentertyd al ’n liefde vir Frans gehad en vir my gesê die woord “vyand” is banaal – bête noire klink soveel lekkerder. Jy moet jou lippe tuit. Proe dit.

Toe hy op ’n slag na Parys reis, is hy na ’n uitstalling van Paloma Picasso wat juwele wat sy ontwerp het tentoongestel het. Daar was groot visitekaartjies waarop sy in potlood haar naam geteken het. Hy het met ’n hele pak hiervan teruggekom. Een aand het ons by Les Coulisses, ’n spotgoedkoop boheemse Franse restaurant in die agterstrate van die middestad, gaan eet. Hier het hy sommer ’n paar van dié kaarte met Paloma se handtekening aan dankbare klante uitgedeel. Iemand het dadelik in Frans ’n liedjie op ’n ou klavier aan haar opgedra.

’n Ruk daarna het die kind wat op Middelburg grootgeword het sy droom bewaarheid en in Frankryk gaan woon (met nog een voet in ons Weskus). Op 16 hou hy sy eerste tentoonstelling van skilderye in die saal van die Metodistekerk op dié dorp. Hy skryf hoe opgewonde hy was toe twee koerantresensente die werke kom besigtig. Een moes toe ’n stekie inkry oor die abstrakte werk Middernag in Parys en vra toe of dié knaap al in Parys was? “Natuurlik was ek,” skryf Jansen van Vuuren. “In my drome!” Vir sy ma sê hy: “In Parys stal ek nog eendag uit!”

Die skryfstyl is boeiend en Jansen van Vuuren weet hoe om ’n sin te laat koer.

Soos die Engelse sê: Beware what you wish for. Hy vertel nadat die lewe ’n paar guitige wawiele met hom gemaak het, beland hy in 1998 met sy kop steeds op sy skouers in Frankryk. Op die vooraand van sy eerste uitstalling in Rue de Seine sê hy: “In die galeryvenster word die tentoonstelling in volkleur aangekondig. By die openingsaand is daar ’n Franse filmster of twee, die musikant Jean-Michel Jarre en sy blinkoog metgesel, en ’n trop uitspattige artísticos.”

Later ontmoet hy die modeontwerper Hubert de Givenchy asook Philippe Junot, prinses Caroline van Monaco se eerste man. Ná sy tweede tentoonstelling in Parys neem hy en sy lewensmaat, Hardy Olivier, die besluit om ’n klein vakansiehuis met ’n ateljee te soek. En só begin die heerlike verhaal van hulle twee se avonture in die Franse platteland.

Oorspronklik het hierdie resensent gedink die boek gaan vol pretensieuse koeterwaals wees – ek verkies die ou Louis van destyds. Toe nou nie, want van eiewaan en pronksug is daar niks nie: Amper Frans is ’n kampvuurverhaal gevul met anekdotes oor hoe twee hardwerkende, kreatiewe mense met hul talente in die vreemde woeker. Lewens waar goeie smaak met die gewone soos olieverf op ’n palet vermeng word om ’n kunswerk op sigself te vergestalt. Daar is humor, selfspot, ironie en ook tyd vir meer ernstige besinnings oor identiteit en hul lewensreis.

Die skryfstyl is boeiend en Jansen van Vuuren weet hoe om ’n sin te laat koer. Die koerantman Ton Vosloo skryf die voorwoord, wat gevolg word deur 21 hoofstukke vol relase en wonderstories.

Opvallend is dat hierdie paartjie nie op hul hande sit en wag dat iets moet gebeur nie, hulle gaan moedig voort en laat waai dat die stof staan. Mure word platgeslaan of geverf, vloere en meubels word gerestoureer, tuine word geplant, uithalerkos word gekook en tussendeur moet daar Frans geleer word.

Die Franse manier van dinge doen verskil hemelsbreed van ons eie en daar is paplag-tonele waarin Jansen van Vuuren beskryf hoe hulle op die harde manier moes leer om sekere sosiale kodes te ontsyfer en korrek op te tree.

As jy byvoorbeeld sjampanje oopmaak, moet daar ’n sagte sug uit die bottel ontsnap, soortgelyk aan die sug van ’n tevrede madame. Nie soos hier waar iemand se oog deur die kurk papgeskiet word en almal soos ’n vol rugbypaviljoen aan die gil raak nie.

Jy ontdek saam met hulle hul eerste Hansie-en-Grietjie-huis in die dorpie Lapeyrouse – dié dorp en sy mense is elkeen ’n veelkleurige skets in die kleine.

Later trek hulle na die Château de la Creuzette in die middel van die dorp Boussac in Creuse. Dit is hier waar hul lewens in volle vlug opwaarts gaan en daar geen keer aan hul entrepreneurskap is nie.

Hier moet die leser self verder gaan lees. Daai madame wat so saggies sug kan nie nou al haar geheime ontbloot nie. As jy voos is van 2020, lees dié boek en verbeel jou jy is op reis in Frankryk.

Net soos Jansen van Vuuren destyds gemaak het toe hy 16 jaar oud was. En kyk waar is hy nou. Santé!

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis van Groenpunt.
Meer oor:  Louis Jansen Van Vuuren  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.