Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die slagting van die natuur se ‘argitekte’

Niefiksie

The Last Elephants

Saamgestel deur Don Pinnock & Colin Bell

PENGUIN RANDOM HOUSE, R490

Hierdie omvattende dokument, wat met sy uitmuntende foto’s die voorkoms het van ’n koffietafelboek, is geskryf en saamgestel ná die onthulling van die Groot Olifantsensus van 2016. Die uitslag van die sensus was dat daar na raming minder as 450 000 olifante in Afrika oor is. In minder as 100 jaar het Afrika se olifantbevolking van tussen 3 en 4 miljoen tot ’n handvol geval.

Die olifantsensus se bevinding was dat ’n olifant elke 15 tot 20 minute iewers in Afrika doodgemaak word: hetsy deur vergiftiging (soos dié by Hwange wat steeds met sianied vergiftig word), gifpyle, AK47’s van stropers of deur die loop van ’n grootkaliber-jaggeweer. Die sensus is gedoen deur dr. Mike Chase en Kelly Landen van Elephants Without Borders.

Die uitslag van die sensus het skokgolwe deur die internasionale bewaringsgemeenskap gestuur.

Die uitslag van die sensus het skokgolwe deur die internasionale bewaringsgemeenskap gestuur waarna 40 kundiges (wetenskaplikes, veldwagters, digters, skrywers, ondersoekende joernaliste, fotograwe, kriminoloë en bewaringsbewustes) ingestem het om bydraes tot hierdie boek te lewer.

Dr. Don Pinnock, kriminoloog, historikus en omgewingsjoernalis en Colin Bell, omgewingsaktivis en deurwinterde veldgids, was die hoofouteurs en samestellers.

In die flapteks van die boek, The Last Elephants, skryf hulle: “Is dié titel profeties? Ons hoop nie so nie. Maar die tekens is kommerwekkend.”

Die outeurs sê hulle het drie oogmerke met die boek:

  • Dat lesers vanoor die wêreld heen hierdie dokument “oor die kontinent se laaste olifante” en die diepte-inligting oor hierdie magiese soogdiere en die foto’s sal geniet;
  • Dat verbruikers van ivoor – in China, Viëtnam, Laos en Japan –die boodskap sal kry dat Afrika deurdrenk is van olifantbloed. “Ons hoop hierdie lande sal ná dese die handel en gebruik van ivoor verbied.”
  • Derdens het hulle die boek opgedra aan almal wat hul lewens opoffer vir die welsyn en voortbestaan van olifante.

Maar die boek stuur veral ’n kragtige boodskap uit aan die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) om olifante by sy volgende beraad in Sri Lanka in Mei die hoogste beskermingstatus te bied.

Dit beteken hulle hoop dat ’n verbod geplaas sal word op die handel in lewende olifante of enige van hul liggaamsdele. Dié stryd om olifante op aanhangsel 1 van Cites te kry, duur al etlike dekades. Olifantkenners meen in een van die hoofstukke Cites moet verantwoordelikheid aanvaar vir die voortdurende stropery omdat daar steeds in hierdie hoogs intelligente, sagmoedige en sosiale diere handel gedryf mag word – glo onder streng voorwaardes, maar dít is ’n teelaarde vir korrupsie.

Die boek begin met ’n aanhaling deur Brian Jackman, Brittanje se voorste skrywer oor die Afrika-wildernis:

Africa changes you forever, like nowhere on earth. Once you have been there, you will never be the same.

“Africa changes you forever, like nowhere on earth. Once you have been there, you will never be the same. But how do you begin to describe its magic to some-one who has never felt it? How can you explain the fascination of this vast, dusty continent, whose oldest roads are elephant paths?”

The Last Elephants bestaan uit 42 hoofstukke. Elkeen is geskryf deur ’n kenner. Die foto’s is van die hoogste gehalte: dié van olifanttroppe wat stof trap in die Namib, in Mapungubwe, dié wat reik na die groenste blaartoppe in Manapoele, in die Okavango-Delta, die Groot Skeurvallei in Kenia en van die feitlik tandlose olifante van Addo. Foto’s van olifantkarkasse waarvan die tande pas uitgekap is, hope draadstrikke wat uit die veld verwyder is en stapels ivoor in Kenia wat verbrand word, is lewensgetrou.

Iain Douglas-Hamilton, olifantkenner en dierkundige, skryf wanneer lande ivoor verbrand, is dit ’n simboliese maar ook praktiese gebaar dat dié tande geen geldwaarde het nie, maar alleen noodsaaklik is vir die voortbestaan van olifante.

Die boek is propvol inligting en feite:

In hoofstuk 8 skryf James Currie, ’n omgewingsbestuurder, oor die gevaar van trofeejag. Hy sê in die olifantgemeenskap is die jag van ’n trofee-olifantbul gelykstaande aan die uitwis van wys­heid wat oor jare opgebou is. Dit is ’n geweldige verlies vir die res van die trop.

Colin Bell skryf in die volgende hoofstuk hoe die olifantbulle met die groot ivoortande oor die hele Afrika heen uitgejag is en hoe dit olifantbevolkings se genepoel beïnvloed, maar ook oor die sielkundige uitwerking wat dit op lede van die oorblywende trop het.

Hierby sluit ’n hoofstuk aan oor die invloed van olifanthervestiging op die hele ekologie.

Garth Thompson, professionele veldgids, skryf in hoofstuk 12 in die fynste besonderhede hoe olifante inpas in die ekologie. Hy noem hulle die “argitekte” van die natuur. Hy beskryf hoe hulle watergate vorm vir ander wild, hoe hul mis die veld bemes en voëls sade daaruit kry en dit versprei. Olifante skep ook “hoofweë” in die veld wat dit vir ander diere moontlik maak om op hul beurt by kos en water uit te kom. Hy skryf hulle is as’t ware boomplanters en nie soos baie mense kla: die vernietigers van groot en ou bome nie.

In hoofstuk 13 word die groeiende konflik tussen mens en olifant beskryf en daar word ook ’n oplossing daarvoor gebied.

In hoofstuk 13 word die groeiende konflik tussen mens en olifant beskryf en daar word ook ’n oplossing daarvoor gebied deurdat gemeenskappe regstreeks betrek word by die bewaring van die diere. Trouens, die sensusopnemers, wat 300 000 km oor Afrika gevlieg het, het ook 1,3 miljoen beeste en meer as 200 tydelike vestings van stropers uit die lug getel.

’n Hele hoofstuk word daaraan gewy om te illustreer hoe olifant­stropery gewapende konflik finansier, tot terrorisme lei en hoe dit ineengeskakel is met die handel in dwelms.

Op die laaste bladsy wat in swart gedruk is, skryf dr. Paula Kahumbu van WildlifeDirect en stigter van die organisasie #HandsOffOurElephants in wit letters: “It’s war now. We are losing our national heritage; we are losing our elephants.We have to act now.”

Onder die sterrehemel op hierdie bladsy is die vae, grys gestaltes van Afrika se laaste olifante sigbaar terwyl hulle in die donker wegstap.

As ’n mens hierdie boek deurgelees het, sal jy nooit weer na olifante in isolasie kyk nie.

Elise Tempelhoff is ’n spesialis-omgewingsjoernalis.

Meer oor:  Don Pinnock  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.