Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die strand en branders van verkwikking

Marius Diemont se insiggewende hardebandboek oor die ongerepte kuswildernis Blombos gee Emile Joubert so ’n lekker warm rittel teen die ruggraat af om te kan sê dat die eerste beskaafde, kunstige mense op aarde in die Suid-Kaap gebly het.

Blombos: Dawn of Modern Human Behaviour and Fishing Paradise deur Marius Diemont. Uitgewer: Historical Media. Prys: R300.

Toe ek aanvanklik die naam “Blombos” op die omslag van ’n boek sien, was my onmiddellike kommer dat dié magiese Suid-Kaapse kuswildernis, 300 km oos van Kaapstad, sy privaatheid kan verloor.

Hierdie strook ongerepte strand en duineveld word sedert die 1930’s, toe Kaapse stedelinge die eerste private eiendomme van die plaaslike duineboere bekom het, jaloers bewaak deur diegene wat bevoorreg genoeg is om ’n lappie grond daar te besit.

Die geringste teken van kommersiële ontwikkeling teen dié stuk kusgebied is die laaste ding wat enigiemand vir wie Blombos ’n hartspunt is ooit wil sien.

Dus bly kennis van Blombos se eindelose strand, donderende branders, uitstekende hengelplekke en karig beboste duineveld beperk tot sy paar grondbesitters en diegene wat gelukkig genoeg is om nou en dan ’n hengeluitnodiging daarheen los te slaan.

Die Blombos van vandag is steeds privaat, grootliks verlate.

Dit is egter verbasend dat dit so lank geneem het voordat ’n kommersiële publikasie oor Blombos verskyn, want al is die grondeienaars hoe heilig op die privaatheid van die plek, die feit bly staan dat Blombos drie dekades gelede een van die wêreld se belangrikste erfenisgebiede geword het met die ontdekking van die Blombos-grot.

Die feite, deeglik uitgespel in die eerste helfte van dié insiggewende hardebandboek deur Marius Diemont, is dat Blombos tereg as die wieg van menslike beskawing beskou kan word. In die Blombos-grot, wat in 1992 ontdek is deur Christopher Henshilwood, kleinseun van die eerste stadsjapie wat ’n stuk Blombos-grond by ’n plaaslike boer gekoop het, is die eerste tekens gevind van die moderne mens (Homo sapiens) se vermoë tot kreatiewe uitdrukking. Hierdie grotbewoners het 77 000 jaar gelede graveermerke op stukkies klip getrek – 30 000 jaar vroeër as wat wêreldkundiges beweer het voordat Henshilwood en sy span die oerbewoning van Blombos begin navors het.

Hoewel die grot sedert 1992 op die radar was van akademici en ander belangstellendes in die mensdom se ontwikkeling, het die ontdekking in 2018 van die vroeë Homo sapiens se kunssinnigheid Blombos wêreldwyd bekend gemaak.

Diemont draf hierdie oerhoofstuk in sy Blombos-storie kaf in ’n paar bladsye, boonop op ’n vernuftige en toeganklike wyse, wat nie anders kan as om die leser bloot te stel aan die enorme belang van hierdie plek nie. Die Romeine het gemeen “altyd iets nuuts uit Afrika”, maar dit gee my so ’n lekker warm rittel teen die ruggraat af om te kan sê dat die eerste beskaafde, kunstige mense op aarde in die Suid-Kaap gebly het.

Van die oermens blaai die boek oor na die Khoi, wat 5 000 jaar gelede skape en beeste laat wei het in die sanderige bossieveld op die Blombos-duine. Met die koms van die VOC in 1652 was dit ook nie lank nie of die Khoi word vervang deur Europeërs, wat maar ook ’n sukkelbestaan moes voer met hul vee. Die natuurlike weiding raak skraal in die warm somermaande en water is skaars. Hiervoor moes beeste duin-af geneem word tot op die strand, waar die varswater in fonteine uitgeloop het.

Dit is met die afstammelinge van hierdie setlaars, met vanne soos Van Schalkwyk, Kasselman, De Jager en De Necker, dat die eerste inkommers van Kaapstad in die 1930’s begin onderhandel het om grond te bekom wat toegang bied tot Blombos se manjifieke hengelwater.

Dit is ook hier waar die boek van rat verwissel en van sy geskiedkundige trant afwyk om hom toe te spits op die roeping van die see.

Dit is die Blombos waarmee dies wat hom ken vertroud is: Die nimmereindigende dreun van die branders; die reuk van rooi-aas wat met bibberende hande aan ’n vishoek geheg word; en die gespook van ’n gehaakte galjoen of mosselkraker. Diemont skryf oor die bekender families wat afsondering en vis op Blombos kom soek het, onder meer sir De Villiers Graaff, destydse leier van die NP-regering se opposisie. Sir Div, ’n knap hengelaar, was van mening dat ’n paar dae in afsondering langs hierdie kus al is wat hom in die 1960’s en ’70’s “aan die gang kon hou” tydens sy stryd deur die parlementêre wandelgange. Dit was eweneens ’n stryd om tydens sy besoeke met die oorblywende paar Blombos-duineboere te gesels, want elke vraag aan hulle is beantwoord met slegs twee woorde: “Ja-nee.”

Die Blombos van vandag is steeds ’n private gebied, grootliks verlate.

Benewens die internasionaal erkende grot val die groter strand-en-duineveldgebied in ’n bewaringsgebied.

Tog, dit blyk dat selfs eksklusiewe natuurgebiede soos hierdie nie die invloed van die mens kan vryspring nie. Volgens Diemont toon hedendaagse vangste dat die visgetalle merkbaar agteruitgegaan het oor die afgelope 50 jaar, al is toegang tot Blombos uiters beperk.

’n Groot rede hiervoor is uiteraard te sien in hierdie boek, naamlik swart-wit foto’s van Blombos-hengelaars wat met enorme dooie mosselkrakers, poenskoppe en kabeljoue poseer. Hopelik is vandag se bevoorregte vissermanne meer bedagsaam. Anders sal hierdie kiekies oor 70 000 jaar ál wees wat oorbly om mens te herinner aan dít wat was.

* Stuur e-pos na info@riverview.co.za of hmedia@mweb.co.za om die boek te bestel.

* Emile Joubert is ’n wynkenner en -bemarker en skrywer van Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.