Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die suggestiewe krag wat klank voortbring

Poësie

Nagblind

Francis Grobler

NALEDI, R240

Die vlaag van hermetiese poësie wat in die tyd tussen die twee wêreldoorloë deur Italië geswiep het, het in betekenis minder belang gestel as in die suggestiewe krag van woordklanke.

Die oogmerk was gereduseerde gedigte sonder die luukse van leestekens wat kort en kragtig uiting gee aan intens subjektiewe belewenisse. Opwindend soos dit was, het hermetiese poësie ’n kleiner, straks akademiese, gehoor bereik wat bereid was om hard te werk om die gedigte te peil. Wat die reikwydte van die gedigte uiteraard beperk.

Die een wins van dié soort poësie is dat die beredenerende aspek van poësie veld moes afstaan aan die evokatiewe. Met ander woorde, dat verstaan nie somaar die sentrale plek inneem nie, maar dat daar ook ruimte is om die gedig te “voel”.

Nagblind, Francis Grobler se jongste bundel, wat pas by Naledi verskyn het – uit haar pen het reeds sonder vermelding van uitgewer verskyn pyltjies innie sand (1997), duskant annerkant (1999), wie ore het (2001) en s’Thwathwa (2019) – dui in die rigting van hermetiese poësie, maar dan sonder akademiese ballas.

Die digter dui immers vroeg in die bundel aan dat sy haar gedigte nie mik op “literatore en ykers” (bl. 9) nie en dat haar verkenning staan “buite die taalgrens van literators” (bl. 30). In albei gedigte verwys sy na haar verse as “alweer (sic) te slordig” (bl. 9) en as “teks met slordige sinsbou sonder sintaksis interpunksie en dies meer” (bl. 30).

Nietemin aktiveer sy in die tradisie soos genoem die suggestiewe krag wat klank voortbring. Grobler se klankgevoeligheid val op en met vernuftige alliterasie – vergelyk byvoorbeeld “my klere skeur pleks van huil” (bl. 49) – ondersteun sy die evokatiewe aanslag van haar gedigte. Daarby span sy metrum subtiel in wat die liriese toon versterk. Dit is veral verse vir hardop lees, dié.

Grobler maak deurgaans gebruik van herhaling – herhaling van beelde, gedagtes en woorde. Aan die een kant gebruik sy dié herhalings as weeftegniek waardeur tekstuur en patrone aan die lig kom. Dit doen sy met talle variante van “oë” en “sien” en ’n enkele verwysing na “blinde nag” in die laaste gedig (wat ’n mens wel laat wonder of dié gedig voldoende is om die bundeltitel te dra?).

Sy doen dit voorts deur kernwoorde te herhaal in opvolgende gedigte, byvoorbeeld “verdomde” in “statistiek van leef” (bl. 48) en “pleks van huil” (bl. 49), maar ook knap verdoesel in “oë” in “die lig kom” (bl. 10) en “reënboë” in “embrio” (bl. 11).

Aan die ander kant kan herhaling lukraak voorkom, soos die herhaling van “metafoor/metafore” in iets soos vyf gedigte.

Aan die ander kant kan herhaling lukraak voorkom, soos die herhaling van “metafoor/metafore” in iets soos vyf gedigte.

Willem Kloos het benadruk dat poë­sie “de allerindividueelste expressie van de allerindividueelste emotie” moet vergestalt. Goed, maar dan met ’n universele strekking sodat die leser ook met daardie ekspressie kan identifiseer.

As leser voel ek uitgesluit as ek verwysings teëkom soos “dié nag” (bl. 10), “dáárdie oggend” (bl. 18), “daardie nag” (bl. 19), “daardie oggend” (bl. 21), sonder enige konteks. Dit is dalk op dié punt dat die leser soek na verstaan te midde van al die evokasie.

Van Grobler se “eie interne woordeskat” waarna op die agterblad verwys word is die werkwoordgebruik van “vers” ’n gawe voorbeeld: “dalk wou ek . . . jou vers tot vae verduideliking” (bl. 20) en “ons spore vers eenders” (bl. 43). Met woorde soos “koersig” (bl. 54) en “teenpeit” (bl. 82) en formulerings soos “die beitels van jou grein” (ondanks die assonansie) (bl. 26) en “al kan paaie alleen ook reis” (bl. 80) het ek ondanks noukeurige lees meer moeite.

Grobler beheers klank en vormgewing. Dit voel ’n mens duidelik wanneer die verse hardop klink. Helderder kan die verse wel gestel word. Sodat dit helder kan klink.

Johan Myburg is ’n digter en kunsskrywer van Johannesburg.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.