Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die ‘susters’ delf diep in ons donker

Iets van die hoop en kapasiteit vir vreugde wat Tsjechof se dramas uitstraal, vind neerslag in Gerda Taljaard se ryk derde roman, ‘Vier susters’, wat diep delf in sommige van die Suid-Afrikaanse geskiedenis se donkerste  momente, skryf Louise Viljoen.

Vier susters deur Gerda Taljaard. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R290.

Die plek is Magoebaskloof, die tyd 1945, die weer stormagtig en die menseverhoudings verwikkeld. Die boek vertel die pakkende verhaal van vier susters wat grootgeword het op die plaas Broedersdraai in Magoebaskloof en weer daar bymekaar gebring word vir die begrafnis van die oudste se man.

Terwyl hulle daar is, begin dit vir dae aaneen reën sodat hulle afgesluit is van die buitewêreld en later voel of hulle gaan oplos in al die water (een van die herhaalde toespelings op die verganklikheid van alles). Die skrywer skep dus die argetipiese situasie van mense wat op ’n bepaalde plek vasgekeer word en só gedwing word om hulleself en mekaar te konfronteer.

Die verhaal word beurtelings vanuit die perspektief van elk van die vyf hoofkarakters vertel. Die middelste suster, Sophié, is die een wat elkeen van die ses afdelings inlui deur ’n brief aan haar man, Robert Wilken, ’n mediese dokter wat sy in Johannesburg agtergelaat het om die begrafnis van haar swaer, Boas Putter, by te woon.

Boas en haar oudste suster, die beeldskone Beatrice, het saam op die plaas gewoon, vasgevang in ’n ongelukkige huwelik. Ook op die plaas is die jongste suster, Ivy, ’n onderwysstudent, wat skielik daar opgedaag het, sigbaar ontsteld en sonder enige bagasie. Die vierde suster is die Tsonga-vrou Kietie, wie se ma met haar geboorte gesterf het en wat deur die susters se ma grootgemaak is as een van haar eie kinders. Kietie is deel van die gesin, maar word gemarginaliseer deur die rassisme van die omringende gemeenskap. Daarom trek sy op 15-jarige ouderdom uit die huis na ’n bediende­kamer (’n scenario wat onvermydelik herinner aan Marlene van Niekerk se roman Agaat).

Die verhaal verloop oor ’n tydperk van ongeveer twee weke vanaf einde Februarie tot middel Maart 1945, dus in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog.

Die romansituasie word verder gekompliseer deur die teenwoordigheid van ’n Italiaanse krygsgevangene, Domenico Valente, wat ontsnap het en op vlug na Mosambiek deur ’n luiperd op die plaas aangeval word. Hy word deur Kietie gevind en na die huis gebring om versorg te word. Naby die einde van die verhaal daag daar ook nog ’n berede konstabel by die plaas op. Daar is dus oorgenoeg stof vir konfrontasie en spanning.

Die verhaal verloop oor ’n tydperk van ongeveer twee weke vanaf einde Februarie tot middel Maart 1945, dus in die laaste jaar van die Tweede Wêreldoorlog. Hoewel Suid-Afrika ver van die oorlog se groot slagvelde was, was die impak daarvan ook hier voelbaar. Vanweë ’n anti-Britse en pro-Duitse sentiment het organisasies soos die Ossewabrandwag en die Storm­jaers hulle op gewelddadige wyse verset teen die Smuts-regering se besluit om aan die kant van die Geallieerdes te veg.

Op hierdie konflik speel die roman in. Beatrice het Nazi-simpatieë en luister snags na die Duitse sender Radio Zeesen, Sophié is krities teenoor die Ossewabrandwag en die Stormjaers, Ivy raak by hul aktiwiteite ingetrek deur die charismatiese Grieta Wolf en Kietie bly uitgelewer aan die vermindering deur die wit gemeenskap. Domenico, met sy herinneringe aan die slagvelde van Noord-Afrika, is ook ’n sigbare herinnering aan die oorlog.

Verder dra elkeen van die karakters die merk van die verlede op hom of haar. Terugflitse word gebruik om byvoorbeeld die geskiedenis van die susters se pa wat lewenslank geteister is deur sy ervarings in die Anglo-Boereoorlog en hul ma wat op dae lange staptogte in die omgewing verdwyn het, in herinnering te bring. Ook die gebeure wat die lewens van Beatrice, Sophié, Kietie, Ivy en Domenico gevorm het, word op dié manier ter sprake gebring.

Dit is veral Sophié wat kwessies soos die impak van die verlede en die vlugtigheid van alles onder woorde bring in die briewe wat sy rig aan haar man, maar nooit pos nie. Die briewe is eerder ’n gesprek met haarself: oor dit wat hulle as familie gevorm het, oor haar begeerte om sonder die bagasie van konvensie te reis en oor die boosheid in die mens wat oorloë en geweldpleging veroorsaak. Sy is waarskynlik die karakter wat die naaste staan aan die outeur se taksering van die situasie en aan ’n kontemporêre perspektief op die omstandighede van 1945.

Sy skryf die briewe om dinge vir haarself te orden, ook omdat sy besef dat die geheue “chaoties en bowen­al bedrieglik” is. Sy is ten volle bewus daarvan dat haar weergawe van die gebeure subjektief en onbetroubaar is (iets wat veral vanaf die 1980’s ’n baie sterk motief in Afrikaanse historiese romans is).

“Ek is maar net ’n briefskrywer wat my eie gevoelens en belange vooropstel, wat soos enige ander skrywers op bedenklike wyse met die werklikheid omgaan,” erken sy aan haarself.

’n Mens sou ook Domenico, wat voor die oorlog kuns studeer het in Milaan, sien as een van die interpreteerders van sy eie en die susters se omstandighede. Dit doen hy deur eers tekeninge en later skilderye te maak teen die mure van die kamer waarin hy besig is om te herstel van sy wonde. Die fel kleure en byna surrealistiese uitbeeldings van die susters is enersyds die resultaat van sy koorsige gemoed, andersyds van sy ervaring as skilder wat kunsbewegings soos die Futurisme en Surrealisme meegemaak het.

Presies hoe die verhaal uitspeel, moet die leser die plesier hê om self te ondervind en nie deur ’n resensent verklap word nie. Wat wel gesê kan word, is dat daar naas die spannende en fatale hoogtepunt ook ’n sprank van hoop is in die slot. In hierdie opsig gee die roman erkenning aan die verwantskap met Tsjechof se drama Drie susters.

Wyle Reza de Wet, wat ’n vervolg op Drie susters geskryf het, sê in ’n onderhoud dat Tsjechof, ten spyte van die tragiek van onvervulde lewens, verydeling en ondergang, iets van die onverklaarbare vreugde van lewend-wees oordra. Tsjechof se dramas, sê sy, laat haar altyd met ’n gevoel van opwinding vanweë die hoop en kapasiteit vir vreugde wat dit uitstraal.

Iets hiervan vind neerslag in Taljaard se roman. Dit is ’n ryk verhaal wat diep delf in sommige van die Suid-Afrikaanse geskiedenis se donkerste momente, wat die susters se eie skuld aan geweldsgebeure konfronteer, en ten slotte wys dat die mens se vermoë vir herstel onblusbaar is.

Dit is ook ’n roman wat getuig van deeglike vakmanskap (die bou van ’n spannende verhaal, die vervlegting van motiewe, die sober nadenke oor die mens se neiging tot die bose).

Die skryfstyl is welig, soos die beboste omgewing van Magoebaskloof, maar loop nêrens uit die hand nie. Besonder mooi is ook die gevoeligheid vir die verwantskap tussen mense en diere, selfs ook die metamorfoses van mens na dier, en andersom.

Let maar op die betekenisvolle rol wat diere soos die luiperd, wolf en skimmelhond in die roman speel.

Vier susters is ’n roman wat Taljaard se steeds groeiende kragte as romanskrywer bevestig.

  • Louise Viljoen is ’n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.