Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die taal van vertaal

André P. Brink, Antjie Krog, Vladimir Nabokov, Italo Calvino en Ariel Dorfman is van die literêre reuse wat soms self hulle werk vertaal en só “nuwe” kunswerke geskep het wat op eie bene kan staan. Eben Venter vertel van sy eerste reis van selfvertaling, wat ook die fokus is van ’n doktorsgraad waarmee hy besig is.

Eben Venter: “Die vertaler is die woordsetter én komponis.” Foto: Stephen Fourie

Teen die begin van die 1990’s was ek gereed om my eerste roman te skryf. Die verhaal van Foxtrot van die vleiseters was verspreid in my joernale en die geraamte het reeds in my verbeelding vorm aangeneem.

Een van die kleiner stories binne die groter verhaal (dit word vertel op bl. 32 en verder) het op ’n Sondagmiddag op ons plaas afgespeel. Of miskien op ’n ander plaas, wie sal weet?

Die westewind het die plaat werf voor die melkstalle omgeroei. Daar kom die ou man en sy kinders en hulle brakkie, besig om die melkkoeie aan te ja stal toe. Op Sondagmiddae het die ou man sy dop gevat; dit was al tyd vir dié plesier van hom. Die wind warrel die kinders, stof en klippers rond, en die melkkoeie wil om die dood by die staldeur in.

Hier kom my pa en sy hond. Boos. Of miskien was dit nie my pa nie en ook nie sy hond nie, wie sal weet?

Dinge raak lelik. Dis vuiswys en ’n geskellery. Die koeie hol en maal, melkdruppels spat uit hulle vet spene, die ou man en die kinders en die brak drawwe diékant en daai kant toe, die koeie nottedêm in. En die stowwe. Die stowwe. En die venyn.

Só begin ek met Foxtrot van die vleiseters en skryf die storie neer, maar my pa wou ek nie seermaak nie. Dis immers hy wat my al die name van die karoobossies geleer het: perdekaroo, ouooi-slaai, ankerkaroo, voëltjie-kan-nie-sit-nie. Ek maak toe die ou man Madala; die baas van die plaas word GrootMan en sy hond Vetstert; die trop koeie swel aan tot 111; en Madala se brak, DruipStert, byt hakskene en blaf dat die spoeg spat. Vanaand gaan daar nie ’n druppel melk op die plaas wees nie. Vat so, swets GrootMan, grawe ’n blik kondensmelk uit sy broeksak en slinger dit teen Madala se kop.

Die tweede – komplementerende – vertaalmetode heet domestication: Hier bring die skrywer-vertaler die storie huis toe. Die Engels is so Engels as wat kan kom, en die leser, boek op die skoot op ’n bank in Hyde Park, hoor wit Engelse swane, de laaste een die eiendom van die koningin, en die murmeling van sagte Engelse waterstrome.

Ten einde die storie op dié manier te vertel het ek gebruik gemaak van allegorie, ’n vertellende beskrywing van ’n onderwerp onder die dekmantel van ’n ander. Dit was in wese my eerste poging tot vertaling. Die Engelse “translate” word teruggevoer tot die jaar 1300 en beteken om “óór of deur te gaan”. Om te vertaal beteken letterlik die fisieke oordrag of beweging van ’n persoon, plek of voorwerp.

TWEE JAAR GELEDE het Scribe-uitgewers besluit om twee van my boeke, Wolf, Wolf (2015), vertaal deur Michiel Heyns, en Trencherman (2016), Luke Stubbs se vertaling van Horrelpoot (2006), in Brittanje en Australië uit te gee – my eerste internasionale kontrak. Waaroor ek veral verheug was, was dat Trencherman, my hervertelling van Joseph Conrad se Heart of Darkness, nou oorsee gelees kon word. Lesers ver weg van karoobossies en maltrappende melkkoeie het inderdaad iets anders gemaak van die storie.

Gerard Dunlop, Eben se lewensmaat, het dié illustrasie gemaak van die wilde dag in Foxtrot van die vleiseters toe die koeie nie wou stal toe nie.

Die Duitse vertaler, die “Übersetzer”, beskou vertaling as “die oordrag van ’n storie van een taal na ’n ander”. “Über”, soos die Engelse “trans”, dui op beweging, en die vertaler voer die beweging uit deur die set van woorde. Die vertaler is die “Setzer” – die woordsetter én komponis.

Ek sou my woorde mooi moes kies, die sinsbou of sintaksis op ’n bepaalde wyse komponeer – of só was my voorneme met my jongste boek, Groen soos die hemel daarbo, of eerder Green as the Sky Above. Dié slag wou ek immers ’n onderwerp aanpak wat ek nog nie vantevore ontgin het nie, naamlik manlike seksualiteit, en daarmee saam, indien die leser stip lees, ook vroulike seksualiteit.

Skrywe oor seks en seksualiteit is om jou op ’n rowwe pad te plaas waar jy jou maklik, soms sonder dat jy dit agterkom, plotseling op die skunnige breë weg kan bevind.

My uitweg – of so het ek gereken – was om die boek in Engels te skryf. Dis nie my moedertaal nie, maar aangeleer en geoefen ná meer as 30 jaar in Australië, en as sulks sou dit my ’n bepaalde en gewenste afstand van my onderwerp gee. Daar was ook die magtige Engelse woordeskat waarin ek my skryfpen kon doop. Dit sou my eerste probeerslag wees en ’n pragmatiese keuse daarby: Die boek sou dadelik gereed wees vir die groot Engelse lesersmark. (Ironies genoeg is Green as the Sky Above nog op soek na die regte uitgewer.)

Dit het drie maande van styfsit voor my rekenaar gevat om die slag met Engels te kry en ek het nie altyd daarin geslaag om van die Afrikaanse toon ontslae te raak nie. My Engelse eindredakteur, Lynda Gilfillan, wat hier naby my in Brisbane woon, het gedink dis aantreklik. Maar Lynda het in Pretoria grootgeword en vir ’n uitgewer in die uitgewersmekka van Bloomsbury, Londen, is dit waarskynlik ’n ander storie . . .

Eben se studeerkamer in Lismore, Australië, waar hy onder toesig van hulle kelpie, Augie (afgelei van Augustus), Green as the Sky Above geskryf en in Afrikaans vertaal het.

DIE AFRIKAANSE TOON wat plek-plek deurslaan in my Engelse storie, laat twee vertalingsmetodes na vore tree. Die eerste een is foreignisation: Die skrywer vertaal of transporteer die storie in Engels met behoud van die Afrikaanse toon en stel die Engelse leser bekend aan Afrikaansklinkende woorde en stelwyses. Jy vat die leser as ’t ware op reis na ’n ander, vreemde taal.

Die tweede – komplementerende – vertaalmetode heet domestication: Hier bring die skrywer-vertaler die storie huis toe. Die Engels is so Engels as wat kan kom, en die leser, boek op die skoot op ’n bank in Hyde Park, hoor wit Engelse swane, de laaste een die eiendom van die koningin, en die murmeling van sagte Engelse waterstrome.

Aangesien ek onder die matras uitgekom het en van alles wil gebruik maak, op die regte tyd en regte manier, natuurlik, het ek albei dié vertaalmetodes gebruik. Dit het altyd afgehang van die betrokke passasie, van die aard van die storietjie wat ek wou beskrywe en transpor-teer.

Eers toe ek by die sesde of sewende proef van Green as the Sky Above gekom het, het ek die storie in Afrikaans vertaal.

Die Afrikaanse en Engelse stories, bewerk en getransporteer, staan albei op eie bene. Die Ierse skrywer (en welbekende selfvertaler) Samuel Beckett het gesê selfvertalings moet as oorspronklike skryfwerk beskou word. Kwel jou nie oor wat die oorspronklike en wat die vertaling is nie. Wanneer die leserontvangs van die boek ter sprake is, is die aard van elke weergawe dié van ’n oorspronklike.

Hier is die openingsparagraaf van Green as the Sky Above:

My father and I were standing on a wall of rammed earth. He was a robust man and at that time of the year, brown like the earth we stood on. I was in my early teens, wearing short khaki shorts. Above us stretched the scorched-blue sky of the Eastern Cape.

‘It’s just the same as with them,’ he said.

I looked. His arm pointed towards a herd of cattle to the right of the wall. Two of them were not grazing, but mating.

Die selfstandige skepping in Afrikaans lees só:

Ek en my pa staan op ’n wal vasgestampte grond. Fris gebou, hy, en dié tyd van die jaar bruin soos die grond onder sool. Ek was so ’n raps verby tien en staan daar in my kort kakiekortbroek. Bokant ons sprei die Oos-Kaapse hemel geskroeide ylblou.

“Dis maar net dieselle as ons,” sê my pa.

Ek kyk op, waarnatoe? Sy voorarm wys na ’n trop bees regs van die wal. Daar’s twee wat nie wei nie, maar besig is om te paar.

Nou is dit die lesers wat moet besluit oor die waarde van die twee “vertalings”, en, of hulle verder wil lees en sodoende self onder die matras uitkruip.

’N LAASTE OPMERKING: Daardie woeste Sondagagtermiddag by die melkstal kon gaaf verloop het, die koeie sou uiteindelik ingestap het, as GrootMan dit maar oorgelaat het aan Madala en DruipStert, maar GrootMan het ingemeng.

Daar is ’n Xhosa-spreuk wat op dié onnodige inmenging slaan: Ukhawulela iinkawu ziyakusela. Dit beteken: Jy gaan tussen die bobbejane en hulle drinkplek kom. Of, in Afrikaans vertaal: Jy meng in by iets wat niks met jou te doen het nie, en gaan jouself op dié wyse ongewild maak.

Dié skrywer hoop van harte dat hy nie met sy vertalings, in Engels en Afrikaans, tussen die bobbejane en hulle drinkplek ingeneuk het nie.

  • Eben Venter is besig met ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Queensland met Green as the Sky Above as die kreatiewe komponent en aspekte van selfvertaling as die komplementerende, kritiese komponent.
Meer oor:  Eben Venter  |  Doktorsgraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.