Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié twee bundels ryk aan uitsprake oor poësie

In haar twee nuwe digbundels wat vroeër vanjaar verskyn het, ‘Konfessies, kaarte en konterfeitsels’ en ‘Nomadiese sterre’, sien ons Joan Hambidge in aksie as ’n woordvaardige digter vol intertekstuele eggo’s wat verbluffende beelde in of agter gewone dinge kan vind, skryf Hein Viljoen.

Konfessies, kaarte en konterfeitsels deur Joan Hambidge. Uitgewer: Imprimatur. Prys: R200.

Nomadiese sterre deur Joan Hambidge. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200.

Tussen rondswerf en belydenis – twee belangrike pole in haar werk – hoor ons in Joan Hambidge se twee nuutste bundels weer haar outentieke stem: belese, berese, woordvaardig, vol intertekstuele eggo’s. Ons sien haar ook in aksie as ’n besonder vaardige digter wat verbluffende beelde in gewone of dalk agter gewone dinge kan vind.

Een so ’n verbluffende beeld kom voor in “Swart swaan” (Sterre, bl. 44). By die eerste lees het ek gedink: Skryf, Montblanc-pen . . . aha, hul logo is mos ’n swart swaantjie – daar is die skakel tussen die titel en die gedig. Maar dit is nie korrek nie: Dit is die logo van Schwan-Stabilo, ’n ander bekende vervaardiger van skryfinstrumente.

Die koronapandemie word dikwels as ’n swart swaan-gebeurtenis beskou, maar dit was streng gesproke nie werklik ’n totaal onvoorsiene gebeurtenis nie. Die pen se werk is hier “om die hartklop van die gedig op te vang”, en dit beteken dat die geliefde of die gedig self die swart swaan is – die totaal onverwagte, onvoorspelbare gebeurtenis waarheen die woorde van die gedig uitreik.

Nog sulke beelde is “die familieboom van my gedigte” en “die jaarringe van my gedigbome” (“Bome”, Sterre, bl. 37), wat onder meer beskryf hoe die lewe die digter gesnoei het. Familiebande is inderdaad belangrike gegewens in albei bundels. In Sterre blyk dit veral uit die versreeks “Antigone” (afdeling III) en die reeks “Witbank-Blues” (afdeling VII) – albei reekse lykdigte oor die verbygegane verlede, “ ’n lamentoso, ’n pynlike terugkyk” (bl. 34). “Witbank-Blues” boei en ontroer veral in die wyse waarop dit die verlede en die pyn en vreugdes van grootword oproep.

Afwesigheid en verlies

“Onder nomadiese sterre” is die programgedig voorin Sterre. Daarin kyk die digter besinnend terug op ’n lewe gekenmerk deur “eenspaaiigheid”, die beryming van “die gebreekte spieël van die self”, en die verloor van verskillende selwe, “soos ’n slang vervel”. Insiggewend vir dié bundels is die uitspraak dat sy “ ’n kalligraaf geword het om polisillabies / rooi vuurblomme in die moederstuin / te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole”. Om meersillabige woorde soos chirografie, apotropies, astenie, wiggelroede, peligro, disponibel, paradelle, masjrabijas, calque, coolibah, tureluurs, anisokoria, patene en siborieë na te slaan sal ’n logofiel ’n genoeglike uurtjie of wat besig hou.

Alles gee aanleiding tot ’n gedig.

Opvallend in albei bundels is dat stiltes en afwesighede nooit heeltemal uitgevee of deurgestreep kan word nie: Hulle bly “ewigdurend sous rature in die aanwesigheid” (Sterre, bl. 17). Daar word uitgereik na ’n jy, die afwesige geliefde, maar ook gerou oor verloregaande geliefdes. In “Vakansie, 1969” (Sterre, bl. 36) word die ouers, “versaak dog steeds aanwesig” “gemummifiseer in die kelder” van ’n soort Bates-motel, “lewend gemaak” in die herinnering van die beskouende spreker. Die liefde het “soveel verlange en verdriet aangevuur”, maar andersyds is die jy – en al die ander afwesighede in die bundels – “net vingerafdruk[ke] / van vorige afwysings en stiltes” (Sterre, bl. 22).

In Konfessies vertolk die digter se oorlede moeder die rol van altyd-begeerde ander wat verdwyn agter die woorde van die gedig, soos die wasige foto van haar op die voorplat suggereer. In dié bundel word gerou oor die aanwesigheid van verlies – oor berou, dus – en dit vorm ’n teenhanger vir die verse in Dad (2006), gewy aan Hambidge se oorlede vader.

Ses van die tien afdelings van Konfessies bevat rougedigte oor die moeder. Afdeling I bevat die boek wat ’n mens laat bloei en bestaan uit ’n reeks gedigte van herinneringe aan die moeder en afskeid neem van haar. Die klem val sterk op “Die grein van die stem” soos die titel aandui: op stem, klanke. In “Aflegging” (bl. 13) “verken” en “berym” sy “die tweeklanke van verlies”.

Die aangrypendste rougedigte is in afdeling IX onder die motto “letting go”. Dit is ’n suite van 12 gedigte by die uitvaart van die moeder. Sy raak finaal weg, “finaal geskoppensboer” (bl. 97). Al troos is dat die digter die moeder kan bedek in ’n “uitgesponne, breekbare vers”. Die gedig is dikwels in hierdie twee bundels letterlik ’n plek van geborgenheid en troos.

Die bundel eindig met die ontroerende gedig “Viaticum” (bl. 117), “ ’n sakrament van verlies” – die brood wat gebreek word vir die geliefde se laaste reis, deel van die laaste rites van die Katolieke Kerk. Belangstelling in godsdiens is iets nuuts in Hambidge se werk.

Intertekstuele en intermediale ruimtes

Tipies van Hambidge se werk is sy hier ook tuis in ’n groot ruimte vol eggo’s van rolprente, die media, kunswerke, populêre musiek en die wêrelde van ander digters. Wallace Stevens, Elisabeth Eybers, Emily Dickinson en natuurlik Johann de Lange is haar vernaamste gespreksgenote.

Van Wyk Louw word in Sterre ’n hele paar keer teengespreek. Die liefdesvers wat nie een is nie (Sterre, bl. 17) word getipeer as “my afskryfvers: onoorspronklik, ’n spel”. Dit is ’n vers wat Van Wyk Louw se silwer herberg en die Mooiste Afrikaanse liefdesgedigte kopieer maar ook verwerp. Merkwaardigerwys skree Totius se tarentaal ook mee, en dit gee aanleiding tot ’n heerlike stukkie liriese variasie:

O koelmetat, poelmetaan, poelpetaan:

ek dans nou met die tannie-in-die-rou-bestaat

en hou my lyf soos ’n póél-pe-táát

soos in ’n Van Wyk Louw-dansliedjie.

Konfessies is ewe ryk aan literêre intertekstuele gesprekke met onder andere Etienne Leroux, Peter Blum, Olga Kirsch, Breyten Breytenbach, G.A. Watermeyer, en ook met die skrywer oor die hiperbool – vermoedelik Henning Snyman in sy boek Mirakel en muse.

Meedoënloos poëtikaal

Albei bundels is ryk aan uitsprake oor die poësie en illustreer Hambidge se bevloge poëtikale instelling: Alles gee aanleiding tot ’n gedig of ’n besinning oor die poësie self.

Afdeling III van Konfessies bevat byvoorbeeld ook rougedigte oor en vir die moeder, maar hier verweef met digterlike beskouings en verwysings na digters en digteoretici. Blum se “Ballade” word herdig as ’n gesprek met Ma in “Ballade van die vertroude bemindes”. Harold Bloom se terugkeer van die dooies word opgeroep, en so ook Little Women, Degas, en Eybers in “Noodluik”. Die poësie self word beskryf as afwering van die bose en as ’n “weefgetou van taal”. Selfs uit ’n inbraak word poëtikale insigte gehaal.

Hierdie bundels demonstreer die veelheid van vorme, groot reik­wydte en vernuftige komposisie van Hambidge se werk. Die vernuf oorskadu soms die gevoel en soms ontbreek daardie magiese “iets”. Soms word die rykdom aan resonansies en die baie mooi en groot woorde presieus en verliteratuurd. Die neiging om alles tot die poësie te reduseer, loop uit op iets soos “Watermeyer se bitter glas” (Sterre, bl. 21). Gelukkig word hierdie verliteratuurdheid teengewerk deur die digter se selfparo­diërende instelling.

Albei bundels is lieflik uitgegee: Konfessies in ’n guller formaat en op witter papier gedruk, wat dit ’n plesier maak om te lees, terwyl Nomadiese sterre ’n grafies geïntegreerde indruk skep – van die voorplat wat die konstellasies in volronde figure vergestalt rondom die titel in ’n swart sirkel, tot by die agterplat waarop die digter binne-in ’n sirkel in kleur verbete oor haar blouraambril loer.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.