Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die tydsgees van eiebelang

‘Rebels and Rage’ deur Wits se rektor, Adam Habib, is ’n insiggewende boek wat diep delf in die #FeesMustFall-sage, maar dit beantwoord nie ’n sleutelvraag oor waarom die beweging nooit na buite ons kampusse uitgekring het nie, skryf Jan-Jan Joubert.

19 Oktober 2016: Adam Habib in die Trinity-kerk by Wits met die vredesamesprekings oor die #FeesMustFall-krisis. Foto: Gallo Images

Rebels and Rage: Reflecting on #FeesMustFall deur Adam Habib. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R250.

Rebels and Rage is ’n belangrike – nee, ’n noodsaaklike – boek wat die #FeesMustFall-sage insiggewend onder die vergrootglas plaas én regtig goed geskryf is. En dít sê ek as iemand wat gewoonlik nie ’n bewonderaar van Habib se skryfwerk of openbare optredes is nie, omdat hy dikwels afpraat en afskryf na mense toe en oorkom as iemand wat dink hy het alle wysheid in pag.

Hierdie keer oortref Habib homself: Sy nuwe boek is grootliks ’n kroniek van persoonlike belewing deur iemand wat as rektor van Wits werklik in die smeltkroes van gebeure was én wat dit indertyd behoorlik gedokumenteer het.

Hoewel daar dus persoonlike belewings en gebeure ingesluit is, is die prekerigheid wat van sy ander bydraes so irriterend maak, afwesig.

In dié verband speel die skryfstyl ’n reuse-rol. Omdat die gebeure grootliks chronologies aangebied word, lees dit soos ’n spanningsverhaal waar die leser, net soos die mense in die middel van die gebeure destyds, nie weet wat volgende gaan gebeur nie.

Al is hulle min, is hulle raserig, ’n probleem.

Die ander voordeel van dié aanslag is dat dit nie persoonlike belewing tot algemene waarheid verhef nie – só word een van die gewone swak plekke in Habib se skryfstyl oorkom. Trouens, die manier waarop die narratief aangebied word, maak jou simpatiek teenoor die verteller, Habib self.

Uit dié vertelling oor die #FeesMustFall-beweging is verskeie kommerwekkende en negatiewe punte te haal, maar ook ’n paar lotsbepalende positiewe aspekte en ’n sleutelvraag wat glad nie beantwoord word nie: Waarom het die #FeesMustFall-beweging nooit na buite Suid-Afrikaanse kampusse uitgekring nie? Waarom het die algemene publiek nie daarby betrokke geraak nie?

Die boek behandel nie hierdie vraag nie, maar ’n mens wil aan die hand doen dit is omdat die breër gemeenskap met ontsetting en afgryse toegekyk het hoe ’n spul uiters bevoorregte mense (vergeleke met die meeste Suid-Afrikaners), naamlik universiteitstudente, hulle soos ghwarre gedra in absolute eiebelang om meer geld vir hulself te bekom.

Die meeste Suid-Afrikaners sal hul voortande gee vir die voorreg om universiteit toe te gaan, en meen ’n mens gaan eerstens soontoe om te studeer. Natuurlik is die ander dinge ook belangrik, maar dis bysaak.

Daarom het die #FeesMustFall nooit ’n massabeweging geword nie, al dink sommige in die universiteitswese dit was een omdat dit so gelyk het vanuit hul eie klein visbak: die kampus, die volle omvang van hul bestaan.

Wat is dus die positiewe om uit die verwoestende #FeesMustFall-beweging te haal nadat ’n mens Habib se boek gelees het?

Eerstens: Die demokratiese stelsel in Suid-Afrika het gewerk; ons is daardeur; daardie aanslag is afgeslaan; op die ou end is die korrekte kanale gevolg.

Tweedens: Suid-Afrika het in die era ná Tambo, Mandela en De Klerk steeds leiers wat kan intree as dit lyk asof alles gaan misluk. Die hartseerste paar paragrawe in die boek is waar Habib en andere probeer om Winnie Mandela (sedertdien oorlede) en emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu te kry om as tussengangers tussen die owerhede en die studente op te tree. In albei gevalle was die gees gewillig, maar die vlees te swak – hul gesondheid het ingegee. Maar dit gaan oor meer as twee mense se siektetoestand – dis ’n hele geslag wie se rol uitgespeel is. Gelukkig het mense soos regter Dikgang Moseneke en verskeie kerkleiers na vore getree en die vakuum gevul. Dit gee ’n mens hoop.

’n Derde positiewe aspek is dat die meeste studente en akademici by die universiteit wil werk eerder as om moeilikheid te maak.

Die bepalende oomblik in Wits se uiteindelik relatief suksesvolle hantering van die ontwrigting op sy kampus was toe ’n referendum gehou is oor of klasse moet voortgaan. Altesame 77% van die studente en 91% van die personeel het ja gestem en só die mat van legitimiteit onder die moeilikheidmakers uitgepluk en hul ondergang aan die gang gesit.

Daar is egter volop kommerwekkende inligting in die boek. Eerstens moet ek beken ek is bly nie ek of my familie het enigiets met Wits te make nie. Ons is dus die gemors gespaar wat as “die ver-linkse denkskool” bekend staan – mense wat gewelddadig en in eiebelang optree sonder om enigeen wat met hulle verskil te ag, sonder om hulle te steur aan begrotings of die onmiddellike gevolg vir armes, sonder veel eergevoel of voorliefde vir die waarheid, sonder agting vir die demokrasie en sonder om die gevolge van hul dade te oorweeg of selfs te erken. Maar al is hulle min, is hulle raserig en beslis ’n probleem.

Daar is talle voorbeelde in die boek, maar my gunsteling is Habib se vertelling oor ’n werksessie wat deur die Amerikaanse Mellon-stigting aangebied is. In die eerste deel van die byeenkoms het die studenteleiers tekere gegaan oor hoe kolonialistiese universiteitsonderwys afgebreek moet word, maar in die tweede deel het die studenteleiers sowaar die stigting gevra vir meer beurse vir hulself vir Harvard, Oxford en Cambridge.

Natuurlik kan hulle glad nie die teenstrydigheid of ironie insien nie.

Tweedens is ’n mens saam met Habib bekommerd dat #FeesMustFall se soort gedrag uiteindelik die volhoubaarheid van gehalte-onderrig aan Suid-Afrikaanse universiteite kan bedreig. Ouers stuur immers hul kinders universiteit toe om op ’n veilige plek ’n bruikbare beroepskwalifikasie te verwerf, en hiervoor het die #FeesMustFall-vandale duidelik geen begrip nie.

Top-akademici wil ook nie werk by instellings waar ontwrigting en geweld aan die orde van die dag is nie. Daardie punt is verreweg nie in Suid-Afrika bereik nie, maar niks van die eer vir die afwering van so ’n katastrofe kom die studenteleierskap toe nie.

Derdens is dit kommerwekkend hoe ontsettend oneerlik die ver-linkse akademici en studenteleiers opgetree het. Hulle woord is nie hul eer nie.

Maar laastens en miskien die kommerwekkendste: Implisiet onderliggend aan die boek is of die staat en die Suid-Afrikaanse samelewing op mediumtermyn die geld en vermoë het om sy maatskaplik-ekonomiese uitdagings volhoubaar die hoof te bied. Tans kry ons dit net-net genoegsaam reg en net ’n dwaas sou aanvoer ons is nie beter daaraan toe as ’n kwarteeu gelede nie. Maar wat soos ’n goue draad deur die boek loop, is die vernietigende rol van eiebelang.

Dit is natuurlik ’n veel groter probleem as net in die universiteitswese. Dit is die tydsgees: Ek dink net aan myself en aan onmiddellike eie voordele. Na die maan met die breër belang, morele regverdiging of praktiese uitvoerbaarheid.

Dit is hierdie tydsgees wat sit agter Trump se heerskappy, agter Brexit, Russiese oneerbaarheid, en hier te lande byvoorbeeld swart kiesers se oorweging van linkse populisme en sommige Afrikaners se huidige oorweging om in die verkiesing na regs te beweeg, al sal dit hoe sleg vir die land en vir Afrikaans wees, soos enige deurdagte mens by nadenke sal besef.

Maar ’n tydsgees is nie noodwendig nie. Elkeen maak sy eie keuses. Dit wys hierdie boek by uitnemendheid.

Dit wys ook dat daar in Suid-Afrika steeds ’n denkende middelstroom is wat die land telkens van chaos red. Mag dit altyd so wees, en mag ons elkeen in daardie gees – soos Habib uitwys en wat gedurende #FeesMustFall tot sy eer was – deel van die oplossing eerder as die raserige en populistiese eie-ek-tydsgees wees.

Lees gerus Rebels and Rage. Dit is pitkos vir die brein, pittig geskryf en delf diep sonder om vervelig te wees.

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer.
Meer oor:  Adam Habib  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.