Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die vergete storie van die binnevlam se rooi

Biografie

Parcel of Death

Gaongalelwe Tiro

PICADOR AFRICA, R290

Agt dae voor die geboorte van die outeur van Parcel of Death, Gao­ngalelwe Tiro, is sy oom Onkgopotse Abram Tiro op 1 Februarie 1974 met ’n briefbom in Botswana vermoor.

Die familie en die groter swartbewussynsgemeenskap het net nooit opgehou vrae vra nie. Hoekom? Wie het die bom gemaak? Wie het die bom afgelewer? Wie het die operasie gemagtig? In hul gemoed was dit die “Boere”.

Tyd het tot hul ergernis nie antwoorde gebring nie. Die outeur wou weet wie was die man waaroor mense nie uitgepraat kon raak nie. Almal het gesê hy was ’n voorloper wat sy tyd ver vooruit was.

Moleseng Tiro het alles feil gehad vir haar seun en hom met haar nederige huiswerkersalaris ondersteun. Hy moes universiteit toe sodat hy op haar oudag vir haar en haar kroos kon sorg.

Helaas! Sy is graf toe met die vrae wat nou nog hang.

Sy ontydige dood het haar lewe deurmekaar gekrap. By die Waarheid-en-versoeningskommissie het sy gevra vir ’n ondersoek na die gewelddadige dood van haar seun; sy het haar vermoedens met die kommissie gedeel. Helaas! Sy is graf toe met die vrae wat nou nog hang.

Die outeur doen sy lesers ’n guns deur in ’n gemaklike skryfstyl aan te toon dat Tiro se lewe veel meer behels het as ’n enkele toespraak (later bekend as “The Turfloop Testimony”).

Op die gradeplegtigheid in 1972 ontvang Tiro sy graad in geskiedenis en sielkunde aan die Universiteit van die Noorde (Turf­loop). Die graduandi het hom gevra om namens hulle ’n bedan­kingswoord te spreek; in die toe-spraak spring hy kaalvuis onder universiteitsowerhede en tuislandleiers in.

Hy skroom nie om bantoe-onderwys te kritiseer nie. Hy is binne twee dae geskors “. . . omdat hy die verkeerde platform vir sy aanval gebruik het”.

Daar was baie op sy gemoed, maar die druppel wat die emmer laat oorloop het, was die oneerbiedige manier waarop die ouers en familie van die studente die dag behandel is. “The Tiro Affair” het nasionaal en internasionaal weerklank gevind.

Parcel of Death vertel die leser van ’n jong seun wat vir drie jaar (tussen die ouderdomme van 12 en 15) emosioneel en fisiek as mynwerker gebrei is en daarna teruggekeer het na die skoolbanke, want hy wou verder studeer. Oral waar hy beweeg het, was hy ’n leier wat jongmense geïnspireer het.

Hy het mense in gesagsposisies geïrriteer, want hy het nooit teruggedeins van die politieke euwels van die dag nie.

Die outeur temper sy taal en skryf nie bulderend nie; Tiro was immers nooit bombasties nie. Selfs prof. John Boshoff, die rektor wat hom ná die gewraakte toespraak geskors het, was aangetrokke tot hom.

Tiro het al in 1973 oor grond en die Afrikanisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf.

Die landsvraagstukke wat vandag nog onopgelos is, het ’n lang aanloop gehad. Tiro het al in 1973 oor grond en die Afrikanisering van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf. Die koms van Jan van Riebeeck het interessante emosies by hom losgemaak.

Suid-Afrika se vraagstukke was Afrika-vraagstukke en só weier hy om Suid-Afrika los van Afrika (soos baie vandag meerderwaardig doen) te beoordeel.

Sonder om grootdoenerig te wees, vertel die skrywer hoe die ANC op die skouers van mense soos Tiro staan. Subtiel vermeld hy hoe die ANC na die Tiro-generasie as verward (“confused people”) verwys het. Hulle sou later (amper kruiperig) ’n meer beskeie houding aanneem.

Die vraag waarop daar sekerlik nooit ’n antwoord sal wees nie, is of Tiro ’n rol sou gespeel het in die demokratiseringsproses en hoe hy sou gereageer het wanneer sommige in die ANC nie hul hande uit die geldkoffers van die staat kon hou nie.

Geoordeel aan Tiro se geesgenote, wie se name kort-kort in Parcel of Death opduik, is dit nie te vergesog nie om te bespiegel dat Tiro nes hulle uit spesiale hout gesny was en die geldgierige versoekings sou weerstaan het. Hulle was in die stryd gewikkel vir ideale en nie soos ’n ander bekende stryder uit ’n ander skool by geleentheid gesê het: “I did not struggle to be poor.”

Parcel of Death is ’n belangrike toevoeging tot die skat van Suid-Afrikaanse stories. Dit laat die lig val op ’n deel van die geskiedenis wat nie alombekend is nie. Ons skuld mekaar ons stories.

Om Breyten Breytenbach se gedig oor Tiro te parafraseer: “. . . en Tiro is die binnevlam van die rooi . . .”

Leon Wessels was studenteraadsvoorsitter van die PU vir CHO (Pukke) en Abram Tiro studenteraadsvoorsitter van die Universiteit van die Noorde toe die studenterade in 1971 ontmoet het.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.