Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die waarheid van kwatryne . . .

In Johann de Lange se tweede bundel kwatryne, ‘Duimnaelsketse’, is weer ’n vaardige, bewuste digter aan die werk wat meesterlik speel met die klank van die taal, skryf Hein Viljoen.

Duimnaelsketse deur Johann de Lange. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Die kwatrynbundel Duimnaelsketse is sowaar die viérde publikasie van Johann de Lange wat in die vreemde jaar van die pandemie verskyn (naas Die meeste sterre is lankal dood; Oopkardoes, ’n versameling “boertige ryme” van Hennie Aucamp wat De Lange versorg het; en I Wish I’d Said . . . Vol. 3, Avbob se derde poësiebloemlesing, wat hy en die digter Goodenough Mashego saamgestel het).

Die meeste sterre, wat op 1 November in Rapport geresenseer is, bevat reeds ’n hele paar kwatryne, en nou verskyn daar nog ’n stuk of 100 in dié tweede versameling wat volg in die spore van Weerlig van die ongeloof (2011).

Soos die titel aandui, probeer die digter met sy kwatryne binne ’n beperkte ruimte tog iets belangriks sê; dalk iets van die lewe vasvang.

Die voorblad voorspel ’n guitige seksuele aanslag.

Chris Diederichs se kunswerk Play with Me is manlik, harig en speels oordrewe. Die figuur se regterarm kan, in die taal van “Picasso by Lascaux” (bl. 8), netsowel ’n “trul” wees. Die voorblad suggereer reeds die digter se bemoeienis met die erotiek en met kuns en kunstenaars (soos Picasso of Lucian Freud).

’n Goeie kwatryn munt uit deur sy konsentrasie en intensiteit. Binne vier reëls sê dit iets belangriks, vang dit amper in ’n soort spreekwoord iets van die mens, sy lewe of die wêreld vas.

Binne daardie vier reëls kom ’n proses aan die gang, neem sy loop en eindig weer onomwonde. Daarin speel die rym ’n belangrike rol. In ’n tradisionele Persiese kwatryn (met ’n aaba-rymskema) vestig die eerste twee reëls die klank, betekenis en dinamiek van die gedig, die derde reël sit die proses voort, maar anders, en die vierde reël neem weer die klanke van die eerste reëls op en beklink die saak.

In hierdie bundel gebruik die digter egter selde die Persiese model; hy gebruik veral paarrym en kruisrym. Of gebroke rym, soos in “Marlene Dietrich” (bl. 6), een van die mooiste kwatryne in die bundel:

Marlene Dietrich

Die blou engel sing wrang van lewe & dood.

Met die refrein, silwer kollig op veloer,

gly die hermelyn van skouers wit & mals

soos brood, & sterf in hopie op die vloer.

Der blaue Engel (1930) is die rolprent waarmee Dietrich die eerste keer naam gemaak het. Hierdie “optelgedig” druk die kwesbaarheid en die onsterflikheid van die sterflikheid uit, onder meer deur “dood” te laat eggo in “brood” in die laaste reël. De Lange se kwatryne is vol klankherhaling, maar sy rymwoorde staan dikwels nie aan die einde van die reël nie. “Jonker” (bl. 3), wat speel met dronker, jonker en donker, is nogal ? uitspattige voorbeeld daarvan.

Die bundel is georden in ses afdelings en sluit ook heel bewus aan by die tradisie van kwatryneskryf, soos die herskrywings van I.D. du Plessis en Omar Chajjam getuig. Die leser sal ook Opperman se skollie, Van Wyk Louw se Raka, Boerneef se berggans en vir Karel Schoeman en Emily D. daarin teëkom.

Op die uitgewer se webblad som die digter die temas van die bundel op as “liefde, erotiek, kuns, die natuur en die dood”. Dit is dus nie, soos die voorblad ’n mens dalk laat verwag, ’n belustige bundel nie. Weliswaar is die lang vyfde afdeling, “Vreemde kamer”, die geslaagste afdeling: intens en uitgesproke oor die lus maar ook oor die wrangheid daarvan. Nogtans is, in gedigte soos “Fantas” (bl. 72) of “Mooi is dit van ’n man” (bl. 78), die verbeelding en verhulling erotieser as die onthulling. ’n Voorbeeld is “Die roos van vlees” (bl. 69):

wildeheuning of purper

of ’n uitbundige rooi

sag soos seemsleer in

my vuis oopgeplooi

Kleure van die natuur sluit aan by die natuurgedigte in afdeling 2, “ ’n Vér sonnetjie”. Maar ook belangrik vir De Lange se poësie is die idee van deure – deurgange, oorgange, sinkgate¬– en die spanning tussen oop- en toe-wees; van verhul en onthul. Dit word onderstreep deur die heel eerste kwatryn, “Deure” (bl. 3), wat ’n konsentrasie van die Britse digter Charles Tomlinson se veel langer gedig “The Door” is.

Die belewenis van die twee lywe saam raak in “Slapende landskap” (bl. 39) vergroot tot ’n hele landskap:

Die kurwe wat ons lywe maak

as ons genestel lê, jou lyf teen myne,

is soos ’n landskap stil & naak:

vlaktes, steil pieke en ravyne.

Die veiligheid van genestel is skynbaar net moontlik as ’n mens bewus is van die groot gaping tussen myne en ravyne (soos die rym aandui). Die afstand tussen mens en mens word op ’n hele paar plekke in die bundel beklemtoon. Trouens, “Die kurwe wat ons lywe maak” is ook die titel van afdeling 3, waarin die ouer wordende en eensame lyf die klem kry.

Kortom, in Duimnaelsketse is weer ’n vaardige, bewuste digter aan die werk, ’n meesterlike speler met die taal se klank, soos virtuose ryme soos Alexander/verander of krakeluur/duinevuur toon. Nie verniet nie is die titel van afdeling 4 “Die waarheid van ryme”. Bel Tertia Swart by 078 648 8616 om die bundel te bestel.)

  • Hein Viljoen is ’n buitengewone professor by die eenheid tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Johann De Lange  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.