SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Boeke
Diep menslikheid en deernis ontroer

Isabella

Mariël le Roux

TAFELBERG, R280

Mariël le Roux vroeër by haar huis in Hermanus tydens ’n onderhoud vir By. Foto: MICHAEL HAMMOND

Isabella vertel die verhaal van ’n jong vrou wat haar studie staak om met Gideon Malherbe te trou.

Hulle vestig hulle op ’n myndorpie in die Noord-Kaap waar sy ’n eensame lewe lei, te midde van die myngemeenskap in ’n ongenaakbare wêreld.

Isabella se lewe daar begin op ’n emosionele gelykpad, maar dit neem spoedig traumatiese wendinge en sy sukkel om dit te verwerk. Sy vind egter troos in dieselfde natuur wat so ongenadig lyk:

“Dit was die eerste keer dat ek geweet het daar is terapie in die aanslag van die natuur. Die wind was daardie dag my regmaker. En sedertdien het die wind my kopdokter geword.

“Dis die wind wat ek elke keer gaan opsoek het op die donker dae ná my kind gebore is. Die wind kon my desperaatheid temper, my help om die twyfel in Gideon se oë mis te kyk wanneer ek rondgewaai is in die rooi stof van die mynwêreld. Bevryding van die skimme om my.”

Anders as in haar vorige boeke waar die temas hoofsaaklik vrees en ontbering was uit die oogpunt van ’n kinderkarakter as slagoffer en ooggetuie van onnoembare dade, het die fokus geskuif na ’n grootmenskarakter wat self verantwoordelik is vir dade wat onmeetbare gevolge het.

’n Mens kry dit egter nie reg om afkeer te voel teenoor Isabella nie, maar die leser word toenemend ingetrek in die verhaal om in jou eie binneste te delf om deernis en begrip van iewers uit te grou vir haar aksies.

’n Tema wat soos ’n draad deur al Mariël le Roux se boeke loop, is sterftes. Haar agtergrond as verpleegkundige en lewensrypheid is duidelik waarneembaar wanneer sy sulke emosionele temas aanpak. Dit word nooit aangebied dat die leser ’n blote bejammering voel teenoor die karakters nie, maar eerder ’n meelewing en dieper deernis. Ook in Isabella speel sterftes van mense na aan haar ’n groot rol.

Sentraal aan die tema is nageboorte-psigose. Isabella ervaar so ’n episode kort ná die geboorte van hul eersteling, met skrikwekkende gevolge vir haar hele gesin.

Haar vepleegdosent het haar gewaarsku dat die lewe ’n toneelspel is en as sy ’n bietjie beheer oor haar sosiale vaardigheid toepas, kan sy ’n uitmuntende vertoning lewer.

Hierdie woorde van die vrou het haar bygebly en sy was deurentyd bewus van hoe sy haar vertoning moet aanpas. Ek kon nie help om te dink dat die skrywer self diep emosionele insig moet hê om so ’n (soms gebrekkige) vertoning so realisties te kan beskryf nie.

Die myngemeenskap waar die verhaal afspeel, word eg ingekleur, met karakters wat wissel van mense wat jou raak met hulle diep menslikheid en deernis, tot diegene wat jy hoop nooit jóú bure word nie.

Daar is vir my elemente van die nuwe gonswoord-genre, domestic noir, in die roman – daardie daaglikse dramas wat om ons eie kombuistafels en sitkamers sou kon afspeel, maar waaroor ons dankbaar is dat dit nie die geval is nie.

Gruwelikhede waarvan ons lees, gepleeg deur mense wat ons bure kon wees. Gepleeg op bekende terrein.

Isabella is nie jou gewone heldin in ’n storieboek nie. Skuldgevoelens is daar en wel ook met goeie rede en Isabella verstar telkens voor menslike emosies, meelewing en deernis. As leser sou ek wel wou sien dat die karakter dit in ’n mate oorkom of selfs oorkompenseer, net om ’n bietjie woema te wys. Die einde is wel “oop” genoeg dat dit as moontlikheid gesuggereer word.

Isabella en Gideon; Queenie en Daddy; Nicky en Donnie; Fransie, almal by die myn. Ons mense.

Queenie se naam is goed gekies. Daddy se pa en die verwysing na sy Kakie-geld, Daddy se vasklou aan Britse wortels, het ek ervaar as ’n versugting na wortels van die verlede, die vasklou aan veiligheid.

Hierdie boek is geskik vir ’n wye lesersmark. Lesers van ernstige literêre werke sowel as dié wat lekkerleesboeke verkies, behoort aanklank hierby te vind.

Trisa Hugo is ’n vryskutresensent van Kleinmond.

Meer oor:  Skrywer  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.