Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dierestories wat bekoor, vermaak en verwonder

Stories met dieremaats as die hoofkarakters sal my kroos telkens bekoor. Die vier- en tweejarige knape sal wel nie altyd saamstem dat dinosourusse voorkeur bo wollerige koalas moet geniet nie, maar die vete is gelukkig gou vergete na die eerste bladsy se kleurvolle kwinkslae. Gelukkig het die onderstaande prenteboeke hulle so vermaak dat die storiestrydbyl vir eers begrawe is.

‘Die koala wat wou klou’ deur Rachel Bright en Jim Field.

Prenteboek (3-9)

Die koala wat wou klou

Rachel Bright en Jim Field

Klasie die koala hou nie van verandering nie. Nee! Hy hou daarvan dat alles bly net soos dit altyd is. Hy sit bo in sy boom en kou blare, en kyk af na die ander diere wat heerlik onder rondspeel.

Die oulike rymboek is reeds ’n vaste gunsteling in ons boekrak. En dit is nie net oor Jim Field se pragtige illustrasies en Jaco Jacobs se meesterlike vertaling van Rachel Bright se verhaal van ’n snoesige koala en sy maats in die Australiese bos nie.

Die storie van die inkennige Klasie wat “klou aan sy boom, daar waar niemand hom steur nie, in sy noppies om nooit, ooit iets nuuts te probeer nie,” vind veral aanklank as jy ook ’n pragtige klein introvert het.

Deur prettige rymkuns ontvou die buidelbeertjie se vrese en verskonings wanneer die ander diere hom nooi om saam te speel. Hy wil hardekwas net mooi niks weet nie en dit neem sy grootste vrees, wat sy veilige fondasie skud en alles verander, om hom tot ander insigte te bring.

Die oulike prenteboek oor hoe om dapper te wees en nuwe dinge aan te durf, is ’n moet vir die boekrak. Dalk selfs vir ons grootmense wat soms moet onthou, “die lewe is pret as jy ophou met klou!”

PROTEA, R150

‘Die eekhorings kry stry’ deur Rachel Bright en Jim Field.

Prenteboek (3-9)

Die eekhorings kry stry

Rachel Bright en Jim Field

Dié skaterlag rymboek oor mededeelsaamheid en hoe om saam met ’n maat te kan lag, is nog ’n heerlike boek geskryf deur Rachel Bright en pragtig geïllustreer deur Jim Field.

Zak die eekhoring het die hele somer lank gespeel en baljaar. Die winter is om die draai en hy besef geskok dat sy winterspens dolleeg is. Dan sien hy sy redding – ’n dennebol propvol heerlike pitte. Maar hy is nie al eekhoring wat sy oog op die dennebol het nie . . .

Die bossiestert-karakters is so innemend en hul uitbundige kwinkslae soveel pret dat jy jouself dalk sal moet staal vir meer as een voorlesing. Gelukkig bly die storie keer op keer ’n plesier en is dit propvol avontuur, maar kort genoeg sodat jy tot die volgende “weer Mamma, weer!” kan instem.

Jaco Jacobs, wat al meer as 170 boeke vir kleuters tot jong volwassenes geskryf het, het op Facebook oor sy vertaling van Die koala wat wou klou en Die eekhorings kry stry geskryf: “Twee van die mooiste en prettigste rymende prenteboeke wat ek tot nog toe vertaal het. Die illustrasies is vreeslik mooi, en die kort rymstories is vet pret vir voorlees.”

PROTEA, R150

‘Dinosourium’ deur Chris Wormell en Lily Murray.

Natuurwetenskap

Dinosourium

Chris Wormell en Lily Murray

My vierjarige se oë het behoorlik gerek toe hy die enorme dinosaurusboek sien. Ons moes dit dadelik oopslaan en “van voor tot agter lees”, is beveel. Maar wees sommer uit die staanspoor gewaarsku, die vreesaanjaendste ding in die boek is nie ’n Tyrannosaurus rex met sy 60 tande nie. ’n Voorlesing met woorde soos Marginocephalia, Ornithomimosauria, Pachycephalosauria en Araucarioxylon arizonicum gaan jou tong en brein behoorlik knoop nog voor ’n astrante klein paleontoloog jou gaan peper om die betekenis daarvan uit te lê.

Al is die Dinosourium dalk op ’n ouer mark gerig, is dit ’n magiese museum wat tussen die boekomslae skuil. Hier word ’n mens miljoene jare terug geneem om die grootste en woesste landdiere te ontdek wat al bestaan het – die dinosourusse.

Met elke omblaaislag ontdek jy nuwe gediertes wat miljoene jare gelede oor die aarde geheers het en maak ’n mens kennis met van die kleinste geveerde roofdiere tot enorme plantvreters wat die aarde laat skud het wanneer hulle geloop het. Die uitsonderlike illustrasies en interessante feite is genoeg om ’n mens te betower en verder in die papiermuseum te laat wandel. Watter dinosourus was die langste? Kon hulle swem en vlieg? Watter een het die langste kloue gehad?

Die kurators, Chris Wormell, Lily Murray en dr. Jonathan Tennant, verdien hiervoor volpunte.

PROTEA, R450

Meer oor:  Protea  |  Kinderboeke  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.