Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Dieretuin’ begogel behoorlik

Dieretuin

Francois Bloemhof

IMBALI AKADEMIES, R275

Fiksie

’n Matriarg, misdaad, moord en mal mense . . .

François Bloemhof se Dieretuin is een van die opwindendste spanningsverhale van die jaar. Dit is boonop vernuwend omdat die klem op karakters en hul misdade val, nie op ’n speurder wat sake moet oplos nie.

Die verhaal wentel grotendeels om Maxie Tredoux, die versteurde matriarg. Aanvanklik word sy as ’n katjie beskryf en vir haar sagtheid, slankheid en swart hare, “teruggetrek soos ’n natgelekte pels”, bewonder. Maar later besef ’n mens sy is eerder ’n sadistiese, narsistiese psigopaat.

Haar man, oorlede “Grootleeu”, het steeds ’n reuse- teenwoordigheid. Maar Maxie, glad soos ’n wurm, seil gemaklik in sy rol rond. Dis louter vreugde om dié onderduimse vrou met haar onversadigbare seksuele aptyt en liefde vir plastiese chirurgie te verpes.

Die Tredoux-gesin woon in ’n huis so “breed” en “hoog” soos ’n “tweelaag-troukoek”. Vir Maxie en haar trawante gaan alles oor geld. Een van die karakters sê juis crime does pay.

Mandie, Maxie se speelse dogter wat “grassies” rook, en Leo met sy voorliefde vir geweld, vorm deel van die “dieretuin”. Die Lourense is die ander twee “broers” wat ingeneem is nadat hul ouers grusaam gesterf het. Grootleeu was hul oom.

Die Tredoux-gesin kom soos gewone mense voor, maar wat in hul kelder gebeur, bewys dat daar veel meer benede die wynvlak skuil.

Carl Lourens keer ná sy skielike verdwyning terug na Durbanville om sy jonger broer, die sagsinnige Bennie, uit die tentakels van die Tredouxs te red. Maar Carl en sy meisie, Celia de Lange, word self by die onheilighede betrek.

Nie eens ’n gesoute misdaadskrywer sal die ontknoping kan voorspel nie.

Bloedskande, dié keer tussen volwassenes, is een van die skokkende temas. ’n Waarskuwing op die (treffende) voorblad sou gepas gewees het.

Van die moorde word grafies beskryf. Sommige lesers sal geskok wees, terwyl ander in voeling sal kom met hul donker kant. En is dit nie een van die (onbewustelike) redes waarom ons spanningsverhale lees nie?

Bloemhof se sin vir humor val op. Mbulu heet byvoorbeeld “Kaptein Handjiesgevou”.

Die beeldspraak en beskrywings slaag ook. Pleks van byvoorbeeld die woord hoenders twee keer in een sin te gebruik, word dié voëlspesie “wild-vlerkklappende goed” genoem. Clichés is gepas afwesig.

Dieretuin is vernuftig gestruktureer. Nie eens ’n gesoute misdaadskrywer sal die ontknoping kan voorspel nie. Dié roman is egter net vir hardebaardlesers. As jy een is, lê ’n begogelende ervaring vir jou voor.

* Koop Bloemhof se boeke hier by takealot.

  • Riette Rust is ’n skrywer en vryskutresensent.
Meer oor:  Francois Bloemhof  |  Dieretuin  |  Boeke  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.