Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digkuns as bloudruk

Tussenganger deur Marius Crous. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180. Resensent: Joan Hambidge

In die begeleidende motto van Marius Crous se jongste bundel word C.A. Conrad aangehaal: “Poetry is a blueprint of who we are at the time of writing it.”

In Tussenganger word die digkuns as bloudruk en afdruk op verskillende maniere ondersoek. Hoe verwoord die digter die dood? Hoe neem ’n mens afskeid van ’n moeder of ’n geliefde? Hoe kan die woordelose taal van musiek opgevang word in woorde? En kan gedigte troos? Hoe beskryf ’n mens grensoorskrydende betredings?

Soos in die digkuns van Johann de Lange besoek Crous se bundels die gevaarlike ruimtes van die manlike of queer-identiteit. Die kompromislose ondersoek van die ruimtes van die abjekte en cruising; die dood wat loer om elke draai, hetsy fisiek of deur siekte, is waaroor hierdie bundel onder meer handel.

’n Tussenganger is ’n bemiddelaar, ’n middelman; dit aktiveer ook die woord tussenspraak. Die gedig speel immers in op bekende idiome en woorde en draai dit metafories op sy kop. Hierom heet ’n vorige bundel Vol draadwerk (2012): om ingewikkeld te wees, maar ook skérp verweef.

Tussenganger tree in gesprek met Marlene van Niekerk se Kaar (2013) wat woorde ontgin en Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014). Crous is egter ’n eiesoortige tussenganger en buikspreker.

Hierdie bundel neem ’n mens terug na Umberto Eco se Faith in Fakes (1986) en hoe tradisies van die Middeleeue tot nou verander het. Eco wys op die aspek van “living textuality” en sinkretisme.

Daar word gekyk na klassieke mitologie, Die Ilias, moderne mites én dit is terselfdertyd ’n meedoënlose ontginning van eensaamheid. Hekabe word aan die woord gestel soos Helena van Troje (“In drie weeklae vir Hektor”).

Daar is voorts verskillende registers in die bundel: ernstig en parodies; pynlik en afwysend; selfs Jimi Hendrix is hier.

In die lykdig vir Wislawa Szymborska, die Poolse Nobelpryswenner, praat hy van haar tannie-perm en lornjet. En dan gaan die gedig oor in verdriet in sy smartlap (bl. 117):

die dood maak van almal digtendes

broers en susters in die rym:

gaan jy my stem herken as ons mekaar

raakloop in die hiernamaals

gaan jy my hand vashou

die tyd sal leer die tyd sal jou op jou knieë dwing

jou hart breek my hart breek

Daar is ook eindelose humor, soos die beelddig (amper ’n dansende villanelle) oor Jeff Koons op bl. 99:

“Koons really does think he’s Michelangelo

and is not shy to say so”

uitgestalde oopgevlekte pornosmet

varkpienk geslagsgleuwe

pastelpenis geskeurde kousband

kommin soos fake gras

die messias vir die massas gevoed op kitsch

In “Las Meninas” van Diego Vélasquez word ’n dwerg aan die woord gestel. Foucault en Wittgenstein het insigryk oor hierdie betowerende skildery geskryf (bl. 89):

ek is ’n dwerg

kruip weg vir my oë

in die spieël

skuil teen die skilder

wat kom esel opsit

sy puntskoene op die tapyt

die prinses se hakies

die hofdames se sis

in ’n hopie onder die sofa

tot die poeslekkertjies

my kom uitsnuffel

saam met houtperde

soldaatlose harnasse

prinsesse en dwerge

op te stel voor sy blik

soos voor ’n spieël

Daar word gedig oor die spirituele en heiliges. Oor die prolifieke Rupert von Deutz tot Piers Gaveston. Ook Charles Warren Stoddard (1843-1909), reisskrywer oor die Polinesiese wêreld, is hier.  Koimisis tot Suid-Amerikaanse heiliges tot Anatta, die Pali-begrip vir non-self of substansieloosheid. Selfs die Noord-Koreaanse Juche of die idee dat jy die skepper van jou eie lot is, word ondersoek.

Pelgrimsruimtes – soos Kushinagar – gee dan uiteraard iets konkreets aan hierdie soeke na sin.

Oos-wes-tuis-bes? Helaas nie?.?.?. #FMF kom eweneens aan bod, en so ook hoe die wit manlike akademikus maar eerder moet stilbly, oorlewing ontwille. En hoe studente agentskap gekry het sonder genoegsame kennis word skerp ondersoek in hierdie gedig. ’n Sentrale vers waarin die spanning tussen liggaamlikheid en denke ondersoek word, is “Marina Abramovic” (bl. 92) wat oor dié Serwiese performance-kunstenaar handel:

sny diep in jou middelvinger in met ’n mes eet jou pyn

spoeg in jou eie naeltjie

luister na jou hond se hartklop

meng borsmelk vars sperm

drink in die nag terwyl die aarde bewe

Haar tatoeëermerke is letsels; ’n belangstelling in verwonding en abjeksie is bekend aan Crous se werk.

Orlan, die Franse kunstenaar wat werk met liggaamsmodifikasie en plastiese chirurgie, bewys weer eens hoe die portretverse oor die kunstenaar terselfdertyd gelees kan word as ars poëtiese verse. Die vers dus as parallelogram.

Hier is baie oorgange. Hartverskeurend mooi oor die dood van die moeder wat antarabhava, chuu en die bardo aktiveer: die staat tussen dood en hergeboorte?.?.?.

Nibiru-kataklisme, androïede (soos Pris Stratton) vra uiteraard vrae oor fantasie én hoeveel gelowe en oortuigings nie dalk werk soos fiksie nie.

Tussenganger is nie ’n maklike bundel nie. Daar is baie verwysings na kunstenaars en musiek, na verre plekke en ruimtes. Na hóé verskillende kulture eiesoortig met identiteitspolitiek werk. Die abjekte en gebruik van plat woorde wil die idee van poësie as ’n skoonheidstroos bevraagteken.

Lykdigte, portretverse, spirituele gedigte, reisverse, kunsteoretiese analises, ekfrastiese verse; dit staan alles hier met ’n verwysing na Kenneth Goldsmith: Hoe word taal in ’n digitale era bestuur of beheer?

Van Karl Jenkins tot die Vistula. Van die Piz Palü tot die Bardo Thödol. Van ’n boerebegrafnis tot Andromache se geweeklaag.

Malocchio (die “evil eye”) wat waarsku. Is die gedig dan uiteindelik ’n nazar?

’n Mens mis ’n parodiese vers oor Florence Foster Jenkins, die vrou met die aaklige stem wat dag sy kon sing, so onder die kritiese verse oor vreemde kunstenaars. “Mesicku na nebi hlubokém”: Anna Netrebko of Renée Fleming se vertolking? Vir my laasgenoemde, maar dis waarheen ’n gedig jou neem?.?.?.

Tussenganger tree in verset teen die jongste modegier dat poësie toeganklik moet wees. Daar is immers plek vir verskillende stylsoorte.

Dit is ’n uitdagende bundel vir naspeur en nadink wat jy moet lees met ’n vergrootglas of lornjet.

* Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.