Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter van George aan virus dood

Die digter en skrywer Leon Strydom (76) is Maandag in George aan Covid-19 dood.

Strydom, ook ’n letterkundige en kunskenner, is sowat twee weke gelede positief getoets, sê sy dogter, Anna Emm.

Digter
Leon Strydom, digter, skrywer, letterkundige en kunskenner, is Maandag aan Covid-19 dood. Foto: Althea Oelofse

“Hy was nie naïef oor sy gesondheid nie. Hy het ’n hartomleiding gehad 'n paar jaar gelede en sy long- en nierfunksie was erg beskadig weens vorige siektes. Hy het van die begin af geweet hy is ’n risikogeval vir die virus.”

Strydom was vir sowat vier dae tuis in isolasie waarna hy in die Mediclinic George opgeneem is.

“Hulle het vir hom suurstof, fisioterapie en aarvoeding gegee en ons kon nog met hom praat tot die Dinsdag, waarna hulle hom op die ventilator gesit het. Daarna het ons persoonlike kontak met hom verloor en moes ons met die hospitaalpersoneel skakel vir updates.”

Strydom is die skrywer van die digbundels Geleentheidsverse en L.S.

Geleentheidsverse het die Ingrid Jonker-debuutprys vir poësie en die Eugène N. Marais-prys gekry.

Emm sê haar pa was bekend en geliefd onder baie mense, “veral kunstenaars en skrywers”.

“Danksy sy lang betrokkenheid by die Strydom-kunsgalery op George en sy jare as dosent in literatuurwetenskap in Bloemfontein.

Leon Strydom en die digter D.J. Opperman.

“My pa was ’n ingewikkelde mens wat sy lewe onwrikbaar eerlik en op sy eie manier geleef het. Dit was vir hom belangrik om sin te kon haal uit alles wat hy gedoen en beleef het, ongeag of ander dit verstaan of goedgekeur het. Hy was nie iemand wat die lewe onaangeraak gelaat het of teenoor wie mense apaties gestaan het nie. Dié wat vir hom lief was, was verskriklik lief vir hom, en dit is vir húlle wat ek huil vandag.”

Die digter Johann Lodewyk Marais sê daar is “vergeefs” op Strydom se derde bundel gewag.

“Hy was ’n unieke en kriptiese digter. Ek dink hy het ontnugter en teleurgesteld met die Afrikaanse letterkunde en akademiese wêreld geraak. Digbundels uit sy eie versameling met sy naam in het in winkels met tweedehandse boeke opgeduik. Nietemin, hy was ’n aanwesigheid. Sy studie oor die eenheid van die digbundel is briljant; iets wat enige jong digter moet lees.”

Dié studie, Oor die eenheid van die digbundel: ’n Tipologie van gedigtegroepe, het in 1976 verskyn.

“Ek het waardering vir sy poësie gehad; D.J. Opperman het ook. Sy korrespondensie uit Europa met Opperman was uitgebreid en boeiend. Hy het kuns goed geken en mooi oor vader Claerhout geskryf.”

Sonnevanger, ’n boek waarin hy oor skilderye deur vader Frans Claerhout skryf, is in 1983 uitgereik.

Die digter en letterkundige Joan Hambidge beskryf Geleentheidsverse as ’n “besonderse debuut”.

‘Die Sonnevanger’, ’n boek waarin Leon Strydom oor skilderye deur vader Frans Claerhout skryf.

“Ina Grabe het Strydom uitstekend geanaliseer in haar doktorale studie. Strydom se L.S., te wete lector salutem of heil die leser, speel ’n spel met sy leser. Oor die eenheid van die digbundel: ’n Tipologie van gedigtegroepe uit 1976 bly ’n baken om die samespel in ’n bundel tussen gedigte te begryp. Hoe jammer dat hierdie besondere digter so min gepubliseer het. Maar wat bestaan, sal die toets van die tyd deurstaan. Mag John Williams nou vir hom speel aan die anderkant.”

Prof. Ina Grabe het hom in die vroeë 1970’s leer ken toe hulle albei in Utrecht, Nederland, gestudeer het.

“Ons albei was verbonde aan die Instituut vir Teoretiese en Literatuurwetenskap. In Suid-Afrika was hy betrokke by die vestigting van algemene literatuurwetenskap in die land. Hulle het ook die baie belangrike tydskrif oor letterkunde en literatuurwetenskap begin.”

Grabe was een van die hoofredakteurs.

“Literatuurwetenskap is by verskeie universiteite aangebied. As digter het hy min gepubliseer, maar as daar ’n lys van die 50 beste Afrikaanse gedigte saamgestel moet word, sal ek sy gedig “Droogte” insluit. En ek reken Opperman en Van Wyk Louw hierby in. Dis ’n skitterende gedig wat ’n mens kan lees en herlees en elke keer iets nuuts daarin ontdek.”

Droogte

In die geruis van die aandwind

het die wolke melkwit gaan wandel

en ver onder in die haai grint

het die adamsvy gekraak soos amandel

het die dor takke skor en vrugteloos

gegryp na die wolwitwolke

soos na vyeblaarskorte

en dorings en distels het verlep bly hang

onder in 'n knoesterige mik

soos menige ou slang

in vyemelk verstik

Grabe en Strydom het mekaar dikwels op kongresse gesien.

“Ek het hom sowat twee jaar gelede op Sedgefield op ’n mark sien stap waar ons ’n ruk lank gesels het. Hy het my toe van sy hartomleiding vertel, maar hy het goed gelyk. Dit was die laaste keer dat ons mekaar gesien het. Dis ’n baie groot skok en verlies. Dat ’n mens nou so iemand moet verloor.”

Hy word deur twee dogters en vyf kleinkinders oorleef, asook sy suster, Retha Smit, en sy twee broers, Matthys en Serf Strydom.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  George  |  Boeke  |  Digter  |  Covid-19  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.