Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter ‘absoluut stomgeslaan’ oor P.C. Hooft-prys

Die Arubaans-Nederlands-Suid-Afrikaanse digter dr. Alfred Schaffer is Dinsdag as die ontvanger van die P.C. Hooft-prys – Nederland se belangrikste letterkundeprys – aangewys.

Alfred Schaffer
Dr. Alfred Schaffer. Foto: Luke Kuisis

Schaffer (47) – oorspronklik van Nederland, maar sedert 2011 verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands – is nie net een van die jongste ontvangers van dié eerbewys nie, maar luidens ’n mediaverklaring ook die eerste digter wat in die 21ste eeu gedebuteer het om met die prys bekroon te word.

Schaffer sê hy was in sy kantoor by die werk – in ’n gebou wat weens die staat van inperking dolleeg was – toe hy die nuus ontvang het.

“Hulle het my om 15:50 gebel, en ek het eers gedink hulle vra my om een van die jurielede vir die prys te wees.”

Hy sê hy was “absoluut stomgeslaan” toe hy besef hy word ingelig dat hy die ontvanger van die prys is.

“Dit voel asof ek ’n seuntjie is wat sy pa se klere aangetrek het en met ’n groot glimlag deur die kamer stap met te groot skoene en te lang moue aan.

“Dit (die prys) is meer as ’n enorme eer, maar dit voel vroeg, ek het nog maar pas begin, asof ek die marathon begin hardloop het, maar ná vyf meter kom die wenstreep, die kameras en die medalje – en ek het nog nie ’n druppel gesweet nie!”

Schaffer het in 1996 na Kaapstad verhuis en sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. In 2000 het hy met die bundel Zijn opkomst in de voorstad gedebuteer. Dwaalgasten (2002), Definities en hallucinaties (2002), Geen hand voor ogen (2004), Schuim (2006), Kooi (2008), Mens dier ding (2014), Postuum: een lofzang (2016) en Wie was ik, strafregels (2020) het gevolg.

In 2013 het die digter Daniel Hugo ’n keur uit Schaffer se werk na Afrikaans vertaal, wat in die bundel Kom in, dit vries daar buite (2013) gepubliseer is. Die taalpraktisyn en digter Zandra Bezuidenhout se Afrikaanse vertaling van Mens dier ding het ook in 2019 verskyn.

Dit (die prys) is meer as ’n enorme eer, maar dit voel vroeg, ek het nog maar pas begin, asof ek die marathon begin hardloop het, maar ná vyf meter kom die wenstreep, die kameras en die medalje – en ek het nog nie ’n druppel gesweet nie!
Dr. Alfred Schaffer

Schaffer sê beskeie hy weet nie of hy regtig ’n bydrae tot twee letterkundes – een in Nederland, die ander hier in Suid-Afrika – maak nie.

“Dit is dalk ’n bietjie dik vir ’n daalder, maar wat ek wel weet, is dat ek nie sou wees wie ek is sonder Suid-Afrika nie: Die ervarings hier, die literatuur, die mense veral, die ongelooflike moeilikheid en uitdagings wat die land stel, die skoonheid.

“Dat ek ’n Arubaanse Nederlander in Suid-Afrika is, is ’n feit, maar solank ek nie praat en niemand hoor ek praat ‘Nederkaans’ of ‘Dunglish’ nie, lyk ek soos ’n local.”

Schaffer sê hy is verheug oor “stunning debute” uit Lynthia Julius en Ryan Pedro se pen, ook opwindende bundels deur Jolyn Phillips, Nathan Trantraal en Ronelda S. Kamfer. Hy was egter tydens die staat van inperking nie so bedrywig met sy eie digkuns nie omdat sy pligte as dosent hom besig gehou het.

“Dit was vir ons (sy universiteitskollegas), maar veral vir die studente, ’n baie moeilike jaar, en dit het al my tyd en toewyding gevat, so ek kon nie aan skryf dink nie. Ek het my bundel Wie was ik, strafregels, wat in Mei in Nederland en België verskyn het, net voor die staat van inperking in Pearly Beach afgerond. Net betyds.”

Luidens ’n mediaverklaring sal die prys in Mei aan Schaffer oorhandig word. Hoe die prysuitdeling, wat deur die Literatuurmuseum in Den Haag georganiseer word, daar gaan uitsien, sal afhang van die Covid-19-maatreëls wat in Mei in dié land geld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.