Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter-dokter skitter in vers

Atropos

Hendrik J. Botha

QUEILLERIE, R175

Crito, die Anonieme Entiteit wat menige resensent die kapittel voorlees, se blog-argief op LitNet meen dat te veel resensieruimte steeds aan digbundels afgestaan word.

’n Mens sou vir Hom/Haar in die bresse kon tree. In onlangse blogs word immers ’n paar halfgevrete tjoppies vir ’n poësieresensent of twee gegooi. Het Crito van medikasie verander?

Die digkuns bly die weeskind van boekverkope.

Jan Leespubliek se versfobie berus op diepgewortelde wanindrukke: poësie is elitisties, daarom ontoeganklik. Toegegee, dekades lank sou voorgeskrewe gedigte nie juis vandag se Twitter of Facebook haal nie. Feit bly staan, lesers wat aan sillabussooibrand ly se spysvertering akkordeer sedert hul eindeksamen nie met die meeste bundels nie.

Maar doen jouself ’n guns: Skaf Hendrik J. Botha se digdebuut, Atropos, aan.

Selfs lesers wat langtand kou aan enigiets wat na ­“poësie” of “enjambement” ruik, behoort aanklank te vind in die temas en gestroopte skryfstyl.

Die voorbladkuns tréf: ’n figuur wat homself balanseer op ’n rooi woldraad. Aan weerskante, twee enorme hande wat dié afgeknipte draad vashou. Die linkerhand het ’n skêr. Die agterblad dra die motief voort. Die programgedig, “Lotsbestemming”, verhelder die verband tussen voorblad en bundeltitel en bring hiermee die Griekse mitologie te berde. Zeus had drie dogters, bekend as die drie “fates” of skikgodinne wat elk oor die mens se lewensdraad beskik.

Clotho spin die draad, Lachesis wys dit ewekansig toe, waarna Atropos dit lukraak afknip.

Die Engelse digter John Milton verwys na Atropos in sy gedig ­“Lycidas” as ’n “blind fury” wat die “thin spun life” splyt. Inderdaad verken Botha hierdie blinde ongenaakbaarheid.

’n Bykomende aspek is dat Botha ’n narkotiseur van beroep is. As digter-dokter plaas hy die Griekse mitologie nie net in die moderne mediese domein nie, maar bring hy ook ander temas na die digters­tafel.

Die bundel het ses afdelings, elk met ’n gepaste ­motto. Temas wat sterk na vore kom, is onder meer die terugkeer na die verlede, veral die kinderdae; ’n besinning oor verganklikheid, veral in die hospitaalmilieu; onortodokse liefdesverse; en herinneringe aan ’n Namibiese plaas en ’n pynlike sterfproses.

Stroperigheid gaan jy nie in hierdie debuut vind nie. Aan die hand van die bekende Switserse psigoterapeut Alice Miller, wat in haar later jare Freud se teorieë verwerp, besin die spreker in “Nothing Is What It Seems” oor wanneer hy sy onskuld verloor het.

Botha se digdebuut skitter.

• Gisela Ullyatt is ’n navorser van Bloemfontein en ’n gereelde bydraer tot Versindaba.co.za.

Meer oor:  Letterkunde  |  Afrikaans  |  Boek  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.