Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter met 'onmiskenbare stem' wen Nobelprys vir letterkunde

Die Amerikaanse digter Louise Glück het Donderdag die Nobelprys vir letterkunde gewen met haar “onmiskenbare digterstem wat met ’n sober skoonheid die individuele bestaan universeel maak”.

Louise Glück

Die Sweedse Akademie, wat dié gesogte prys toeken, het dit in Stockholm aangekondig.

Glück (77) het 10 miljoen Sweedse kroon ontvang.

Sy is die eerste Amerikaanse skrywer in 27 jaar wat dié prys wen sedert die romanskrywer Toni Morrison dit in 1993 ontvang het. Die Amerikaanse rockster en liedjieskrywer Bob Dylan het dit wel in 2016 gewen. 

’n Skrywer kan die prys net een keer wen.

Glück, wat in 1968 met Firstborn gedebuteer het, se temas handel oor familie en die pynlike verhoudings daarvan.

Anders Olsson, voorsitter van die Nobelkomitee, het met die aankondiging gesê drie eienskappe kenmerk haar werk:

“Die onderwerp van familie, ’n sober, dog speelse intelligensie en ’n verfynde sin van komposisie.”

Verhoudings tussen ouers en sibbe is ’n deurlopende tema in haar digkuns.

“Hoewel haar outobiografiese agtergrond opvallend in haar werk is, moet sy nie as ’n belydenisdigter beskou word nie,” sê Olsson.

“Sy soek na die universele, en daarom put sy inspirasie in mites en klassieke motiewe.”

Louise Glück, is Donderdag as die wenner van die Nobelprys vir letterkunde aangewys.

Glück het 12 digbundels uitgereik, asook as essaybundels.

Sy het die Pulitzerprys gewen met haar bundel The Wild Iris wat in 1992 verskyn het.

Sy het in 2016 die medalje vir nasionale wysbegeerte van oudpres. Barack Obama ontvang.

Sy volg nou ’n skrywersresidensie aan die Yale-universiteit.

Die Suid-Afrikaanse digter Joan Hambidge, wat die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad (UK) beklee, het in 1999 ’n geleentheid aan die Harvard-universiteit bygewoon waartydens Glück ook teenwoordig was.

Die digter Robert Pinsky het hier opgetree.

“Ek was besig met ’n studie oor gender,” sê Hambidge.

“Ek het Pinsky hoor lees uit (sy bundel) Jersey Rain. Hy was die poet laureate van Amerika. Glück het nie gelees nie, maar sy was saam met hom daar.”

Volgens Hambidge bevat Glück se digkuns temas van jeugtrauma: anoreksie, pynlike verhoudings met liggaamlikheid en die kartering van ’n onvervulde huwelik wat eindig in egskeiding.

“Meditatiewe verse, inkantasies – sy gebruik ook mitologiese verwysings. Haar gedigte is gestroop, op die punt af en trek jou in . . . Wrang gedigte.”

Hambidge reken haar gedig "The Drowned Children" is sterk, hoewel dit ook kritiek gekry het.

Die Nobelprys se toekenningsaand in Desember sal nie vanjaar in Stockholm soos gewoonlik gehou word nie, maar virtueel aangebied word.

In ’n video wat die Akademie Donderdag op Twitter gedeel het, het Olsson gesê die Covid-19-pandemie het andersins nie die toekenning van die prys vreeslik geraak nie.

Die benoemings word nie vooraf bekend gemaak nie, maar die wenners is vooraf in kennis gestel. Kandidate wat vir die Nobelprys oorweeg word, word aanbeveel deur mense wat deur die Nobelpryskomitee uitgenooi word. ’n Skrywer kan haar- of homself nie benoem nie. 

Meer oor:  Stockholm  |  Swede  |  Nobelprys Vir Letterkunde  |  Skrywers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.