Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter nie teen homself beskerm

’n Ope brief aan Dorian Gray

Ruan Fourie

PROTEA, R160

Ek mis die geliefde, kortgebakerde oudprofessor A.P. Grové in die Afrikaanse letterkunde. Ek mis veral sy resensies, sy snydend-eerlike menings oor boeke en manuskripte. Hy het skrywers, voornemende digters veral, sonder om ’n oog te knip met ’n voorhamer gesus en met ’n koevoet getroos.

Alle literatuurdosente sal verseker daardie aaklige gevoel ken as ’n begeesterde student jou sy skryfwerk in die hand stop en jou vra jy moet groot asseblief tog daarna kyk. Jy willig onwillig in. As jy later, ná verloop van veel gefolterde dae, weer in daardie hoopvolle poele blou kyk, probeer jy delikaat verduidelik dat ten spyte van álles daar séér sekerlik tog baie talent is, regtig.

Ruan Fourie is ’n honneursstudent aan die Noordwes-Universiteit en hy is duidelik onderlê in die literêre teorie, en hy besit reeds op ’n vroeë ouderdom ’n imposante kennis van kerntekste in die wêreldliteratuur; hy het ook van die belangrikste Afrikaanse digters gelees. Fourie het – soos sy digitale generasie geoefend is – verstommend vinnig ’n digbundel geskryf oor ’n liefdesverhouding wat skeefgeloop het. Ná die manuskrip gesteel is, het hy dit vinniger as wat jy kan sê Twitter weer oorgeskryf.

Die digter gebruik die dekadente roman van Oscar Wilde, The Pic­ture of Dorian Gray, as breë verwysings-teks waarteen hy sy eens traumatiese verhouding projekteer.

Die digter gebruik die dekadente roman van Oscar Wilde, The Pic­ture of Dorian Gray, as breë verwysingsteks waarteen hy sy eens traumatiese verhouding projekteer, en skryf nou ’n ope brief (= digbundel) aan sy vorige minnaar (= Dorian Gray), wat hy kaalvuis met ’n groter gehoor wil deel. Die digter word skynbaar geobjektiveer as Basil Hallward, die beskroomde skilder (= digter) wat ’n portret (= digbundel) van Dorian Gray maak. Hy, dis nou Dorian Gray, word verlei deur ’n hedonis, Lord Henry Wotton, die “ewige antagonis”, na regte ’n gedresseerde dan­dydrol. Ná ’n metafisiese pakt bly Gray spuls, maar die portret van hom dra algaande die (metafiksionele) las van sy ongeregtighede.

Dis Blaise Pascal wat in sy Pensées gesê het: “All the mischief of the world is done by one thing; the inability to remain at rest within one’s own room.”

Die tyd en geduld ontbreek my om oor die menigvuldige mankemente van die bundel te begin uitwei: die skrynende gebrek aan die mag van die metafoor, wat die teks­te so terloops en studentikoos praterig en triviaal maak; ’n verliteratuurdheid wat die eie stem totaal verswelg; onoortuigende teenkonvensietruuks; gebrekkige versifikasie, en veel, veel meer. Die digter praat tereg van “doodgebore gedigte”, “ ’n teks / wat alle uitleg ontgaan”, al is daar ’n ywerige poging tot “iets moois, iets seepbelsubtiels”. Op bl. 46 verwoord hy dit “in pynigende, argwaanwekkende mate” besonder raak: “dis ’n soeke na die einddoel van niks”.

Waar was professore om die jong man teen homself te beskerm? Waar was die uitgewer, die keurders, die redigeerders, toe dié onsinnighede deurgeglip het: “jy is ’n marmermens / ’n skikking van pyn . . . jy is deur die onbestuurlike / onvergeeflike see ingesluk”?

Volgens oorlewering het Breyten Breytenbach ná ’n lesing by Tukkies saam met prof. A.P. Grové vir middagete gestap toe ’n voornemende digter hulle trompop loop en sy gedigte in die gasspreker se hand druk en na sy mening vra. Prof. Grové het die stapeltjie gedigte ferm uit Breytenbach se hand gevat, sy oë vlugtig laat val oor die yl skribbeling. Ná ’n paar sekondes se lees, gee hy dit terug aan die verdwaasde student, kyk hom stip in sy “igtiomorfe oë” en sê sag, dog ferm: “Dis suiwer kak.”

Tom Gouws is ’n digter van Pretoria.

Meer oor:  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.