Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter se debuut besin oor multikulturele samelewing

Die jong Kaapse digter Pieter Odendaal het pas gedebuteer met die bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie, uitgegee deur Tafelberg. Odendaal, binnekort ’n genooide gas op die Wellingtonse poësiefees Tuin van Digters, belig ’n multikulturele samelewing, die natuur, verganklikheid, die liefde en studentepolitiek. Herschelle Benjamin het ’n paar vrae aan Odendaal, wat agt jaar aan die bundel gewerk het, gestel.

Pieter Odendaal Foto: Retha Ferguson

Waar kom die titel vandaan?

Dis ’n reël uit een van my gedigte wat die mens se plundering van die natuur, die arrogansie van koloniale uitbreiding en die relativistiese perspektief van geologiese tyd saamvat.

Watter temas en vraagstukke word in die bundel aangeraak?

Ek vermoed die soeke na ’n juiste self-met-ander is voorop – vandaar die Re mang? (Wie is ons?) as die begin- en slotafdeling in die bundel. Die ander is nie net alle mense met wie ons hierdie stuk land deel nie, maar ook die meer-as-menslike natuur. Daar’s ook verse oor die liefde, depressie, sosiale en politieke werklikhede, my familie en vriende.

Meertaligheid en die manier hoe taal digkuns kan beïnvloed, is duidelik van belang vir jou. Hoewel Afrikaans jou moedertaal is doen jy gereeld vertalings van gedigte tussen Afrikaans, Engels en Xhosa. Is jou bundel meertalig?

Al klink dit miskien na ’n naïewe verheerliking van die “reënboognasie”-idee, bly ek verlief op die diversiteit van tale en kulture in ons land en glo ek steeds in die mag van meertaligheid om ons anders na mekaar te laat kyk. Die gedigte in die bundel is meestal in Afrikaans, want hulle kom maar so uit, maar daar’s ’n paar Engelse gedigte tussenin. Ek sal graag die bundel wil vertaal en aanhou om ander se werk te vertaal.

Jy skryf nou al lank gedigte en is betrokke by talle projekte oor literatuur soos die InZync Sessions in Kayamandi en die weeklikse INKredibles-poësiewerkswinkels vir ontluikende digters in en om Stellenbosch. Wou jy nog altyd jou eie bundel publiseer?

Ek het een middag ná ’n klas in kreatiewe skryfkunde op universiteit terug koshuis toe gestap en gedink ek sal graag eendag ’n bundel van my eie gedigte wil hê. Maar ek het gewag tot daar genoeg water in die see geloop het en ek genoeg gehad het om te sê.

Waar het jy grootgeword, skoolgegaan, studeer en waar bevind jy jouself tans?

Pretoria gebore, Bloemfontein getoë, op Stellenbosch geswot en nou in Kaapstad. Letterlik die omgekeerde Groot Trek. Maar ek is nêrens tuis soos hier in Suid-Afrika nie.

Hoekom poësie?

Te danke aan die InZync Sessions wat ek saam met Adrian van Wyk op Stellenbosch begin het, het ek met my eie oë en ore beleef hoe poësie persepsies kan verander, hoe dit mense nader aan mekaar bring, hoe dit onwaarhede ontbloot. Meer as woorde in ’n boek is digkuns ook ’n manier van in-die-wêreld-wees.

Die omslag van Pieter Odendaal se debuutbundel.

Watter vorige prestasie of erkenning in jou eie lewe of werk was/is die een oomblik wat jy steeds koester?

Ek onthou die eerste keer toe ek een van my gedigte voor ’n gehoor gelees het ter viering van Adam Small se verjaardag. Die hele saal was met my. Ek het die mag van ’n handvol van die regte woorde daai dag besef. ’n Tannie het ná die tyd my kom huilvertel oor haar seun op die grens, hoe dit hom opgeneuk het. Toe’t ek besef soms maak gedigte dinge los in mense, soms kan hulle iets help genees.

Behalwe skryf, watter ander projekte, werk of stokperdjies vul jou daaglikse lewe?

Ek’s besig met my doktorsgraad, so dit hou die pot aan die kook en die agterent op die stoel, en dan bestuur ek InZync Poetry saam met Van Wyk. Ons het vanjaar ook ConVerse uitgereik, ’n vertaalbundel van 15 jong Suid-Afrikaanse digters in Xhosa, Engels en Afrikaans. Dan speel ek graag klavier as my vingers een vind en die berg en see is altyd toevlugte.

Watter rol dink jy het literatuur om te speel in postapartheid-Suid-Afrika? Hoe en waar pas literatuur in om belangrike vraagstukke binne die menslike kondisie te bevraagteken en aan te pak? Wat beteken “betrokke kuns” vir jou?

Die etiket “betrokke kuns” is ’n oorblyfsel van apartheidsdebatte oor of wit kunstenaars verplig moes voel om sosiopolitieke werklikhede te pak. Skrywers is natuurlik vry om te skryf waaroor hulle wil, maar die vraag of kuns betrokke moet wees of nie is gewoonlik ’n vraag vir hulle wat dit kan bekostig om te vra of kuns dan nou betrokke móét wees. “Betrokke kuns” is ook ’n verkeerde benaming omdat poësie as taalkuns altyd ’n kommunikatiewe funksie vir my verrig, ’n omgang met die ander, of dit nou op die bladsy of die verhoog is. As jy nie besig is om ore te betrek nie, dan praat jy alleen, dan is jy nie besig om iets te deel nie. Ons moet onsself altyd nuut verbeel, dis deel van ons opgawe as kreatiewe wesens en verhinder gemaksones. 24 jaar ná die formele einde van apartheid weet ons dat die geskiedenis nie sommer eensklaps verdwyn as jy ’n reënboog daaroor verf nie, dat ons nog baie spoke in die gesig moet staar, en dat baie dinge nog moet verander. Skrywers kan help om hierdie trauma te verwerk, om nuwe moontlikhede te verwoord, dat ons mekaar beter kan leer sien.

Een van Odendaal se gedigte in sy debuutbundel:

vir my ouers
  Pieter Odendaal

as julle sou sterf in die reën
mag die lug sy skoonmaakstof oor julle was
mag die hemele grens en al sy sinkplate flikker 
hou so lank as moontlik die mondoë oop
drink stadig aan die laaste lig

moenie oor ons worry nie -
julle het ons grootgemaak
met mieliepap en die kinderbybel -
ons sal fine wees

onthou eerder die weekheid
van julle soepel lywe
die koppies wat julle saam uitgeklim het
die sandstorm-sonsondergange
die inkswaels wat liefdesbriewe
 teen die bladsy van die aand kom skryf

* Odendaal tree op 15 September op by Tuin van Digters op Wellington om 16:00. Die bundel ConVerse word vroeër die dag om 10:30 bekend gestel. Navrae: 021 873 2786.

Meer oor:  Pieter Odendaal  |  Letterkunde  |  Poësie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.