Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digter toor met woorde in debuutbundel

Nou, hier deur Corné Coetzee. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R200. Resensent: Joan Hambidge

Om in die oomblik te wees. Die hier-en-nou. Waarskynlik vir die Westerling die moeilikste eis denkbaar. Of ons verlang nostalgies terug na wat was; of ons hoop dat môre ’n beter dag sal wees en so glip die oomblik tussen ons vingers deur. En dit is hierdie spanning wat die Tibettaanse boek van die dood behandel (van die 8ste eeu alreeds met ons), wat Corné Coetzee in haar eenvoudige, dog ryk verse ontgin. Eenvoudig, oop, maar nie simplisties nie!

Ons weet immers (via William Blake) dat die eenvoudigste verse die grootste diepte kan verraai.

Die motto is uit Karel Schoeman se vertaling van ’n Ierse vers, te wete die “Die oggendgesang van St. Ceallach”:

Wees gegroet, skone oggend, wat soos ’n vlam oor die aarde val

Die eerste afdeling, “Nymphae gloriosa”, is nie toevallig nie. ’n Mens sien veral hierdie waterlelies in die Ooste en die bundel sluit met ’n reeks oor Siddharta.

Boonop moet dooie blomme gereeld verwyder word van dié lelies wat in die winter dormant bly.

Die digter bedien haar van ironie en in die openingsvers (“Bruide kyk”) is daar alreeds ’n ontnugtering aantoonbaar: Hoekom huil die vrouens? ’n Mens dink hier onwillekeurig aan Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid wat eweneens die pynlike verkilling registreer: die huwelik of die jong meisie droom wat nie “waar” is nie. Hierdie bundel registreer dan die droom wat langsamerhand uitloop op ontnugtering, roerend beskryf in “Oktobermaand se bruide”:

By die hek begin November se giftige maanblomme

soos engele met swaarde knop maak.

En hierdie “vernugteringe” en “on-waarhede” word in gedig ná gedig aan die kaak gestel – sonder ’n omhaal van woorde. Soms praat sy via Antjie Krog (soos in “aljanderbos”); ander kere, soos in “Kombuis”, is daar ’n Eybers-aanslag. (Die vers vra ’n saamlees met “Huisvrou”, ’n vers deur vele vrouedigters al geparodieer.)

Die lot van vroue: verkragting, desillusie in huwelike en ontkenning, word sober en sterk aangespreek.

Die oos-wes-tuis-bes-gegewe word op sy kop gekeer.

Coetzee is die meester van die wrang slot en in “Moenie mors nie” (69) word die netjiese moeder teenstellend in die herinnering geroep:

het ma nou rus vir ma se siel

alles ordelik, spiksplinterskoon

die baldadige wurms eindelik weg

elke been bedees op sy plek

In die slotreeks, “Die leemte in die kern”, gee sy ’n beeld van die lewensloop van Siddharta Boeddha en uit die oogpunt van sy moeder en vader. Daar is ook ’n vers van Jasju, sy vrou wat ’n volgeling word. Die moeder se kontrak is een van “been en bloed” en ons vind onthoubare reëls soos: Die pyn klou soos ’n kind om my nek (93).

Die vers oor Tenzin Palmo is lieflik. ’n Mens kan waarskynlik nie na ’n vers oor die Boeddha kyk sonder om Keanu Reeves in herinnering te roep uit die rolprent Little Buddha van Bernardo Bertolucci (1993) nie.

Hierdie uitstekende reeks maak die leser bewus van hoe fyn die bundel werk met tyd. Nou-hier, toe/dan. In “Besoek” word die

ouer besoek op ’n Sondagmiddag in ’n ouetehuis:

Op die bedkas die verslete

Bybel en die Westclox.

Dié steek vas op halfses,

winterskemeruur.

’n Gedig dra ook die titel tyd en onderafdelings (soos “Hierdie tyd”, “Saadskiet”) aktiveer die gang van sake; soos die beeldverse oor Siddharta reïnkarnasie impliseer.

Die kritikus M.L. Rosenthal het op ’n dag beweer dat belydenis­poësie met lyding (“suffering”) te make het. Hierom is dit vreemd dat Coetzee in ’n nawoord ontken dat die gedigte outobiografies is en in die geval van die Siddharta-verse nie biografies nie. Ironies genoeg bevestig sy juis hiermee die teenoorgestelde dalk?

Dit is ’n besonderse debuut – met gedigte wat jou soms ontstig en aan die keel gryp oor die eerlikheid daarvan soos in die brutaal eerlike “Ons ken mekaar se holtes”. Woorde wat wapens word; huweliksmaats wat mekaar ongesiens (ongehoords!) kan beseer tussen ander.

Die digter is behendig. Sy het die vermoë om ’n slot te skryf wat jou soos ’n vuishou tref. Die bundel lewer skerp gender-kommentaar en sosiale kommentaar (“Gaia” en “Platipuspaddas”, waar die menslike kondisie via paddas beskryf word).

Die refrein van eensaamheid, van verdriet, van buite die orde leef, kom in vers ná vers aan bod:

Hoe sal ons ons gang gaan

so troosteloos en sonder siddering?

Ek het begin met ’n verwysing na die spanning tussen Oosterse en Westerse denke. In “Jogaklas” word hierdie binariteite goed vasgevat in die slot:

’n Ongegronde, aardwye droefheid.

Ek het nie eens ’n kleinkind nie.

Ná die laaste ohm

voel ek beter,

ry huis toe

en weerstandloos

klik ek skakelaars

vir ligte, TV, maal,

voor warm bad en bed.

Hierdie bundel het dieselfde eerlikheid, oopheid en weggesteekte verwysings as Jeanne Goosen se onbesonge, beeldskone Elders aan diens (Genugtig!, 2007).

Die voorblad van Nou, hier is baie slim: die suburbia-huisies en bo in die wolke die Boeddha wat bo alles sweef. Dié Coetzee-digter máák magic, soos sy iewers skryf:

Hoogsomer

Wat sou ons gemaak het

as ons geweet het,

daardie volmaakte Februariemiddag,

dat die laaste vy ryp geword het

en die eerste blaar

sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?

’n Mens is tog geen vyeboom nie

’n Mens kon tog plan gemaak het

  • Joan Hambidge is professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.