Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digterlike ‘bestekopname’ deur ’n onbetwiste vakman

Geloofsienings, die natuur, die mens se geringheid binne die groter opset van die kosmos, en gesprekke met ander digters kenmerk Daniel Hugo se nuutste bundel, Openbare domein, skryf Joan Hambidge.

Edms. Bpk.

die openbare domein is kopieregvry:

jy mag maar natuurgedigte uitkraam

eindelose eposse oor die kosmos konkok

en treurspele skryf oor wat in hofverslae staan

niemand sal jou aankla van blatante laster

of gruwelike skending van privaatheid nie –

nog die Skepper, nog die slagoffer, nog die dader

maar die skrywer vereis dat sy gedagtegoed

beskerm word: “intellektuele eiendom”

noem hy dit graag, die arrogante klein sot

In Openbare domein is die digter Daniel Hugo besig met ’n kaart en transport: Enersyds ’n digterlike “kaart en transport”, soos in “Edms. Bpk.” op bl. 76; andersyds ’n soeke na ’n plek-op-die land. Hugo is ook bekend as vertaler en bloemleser, en veral sy werk oor Ina Rousseau en Olga Kirsch is bakens in ons letterkunde.

Die nuwe bundel is ’n bestekopname van die ouer digter wat terugkyk na sy jeug, sy sieninge oor geloof (soos in “Stoepsermoen” op bl. 12), die natuur en die mens se bestaan op aarde met hierby inbegrepe die misterie van lewe en dood. Die digter is krities oor sy Calvinistiese verlede, ’n tema wat aan Hugo-lesers bekend sal wees. Openbaar en privaat word ook geloof teenoor ongeloof.

Hy is op sy beste wanneer hy speels dig, en sy portretgedigte oor ander digters is onthoubaar

Verskeie ontslape digters word aangespreek, soos Lorca, Opperman, Uys Krige, Hennie Aucamp, Barend J. Toerien, Phil du Plessis, Gerrit Komrij en Ina Rousseau. Daar is gesprekke met Van Wyk Louw, Breytenbach en Johann de Lange, ’n kopknik na M.M. Walters en Pieter Fourie. Op ’n keer land Totius, Marais en Trantraal in een gedig (“Winternag”).

’n Belangrike tema is die gesprek tussen Hugo en Pieter Fourie: Op bl. 55 heet ’n gedig “Knapsekêrel” en Fourie plaas in sý nuwe bundel, Bidsnoer, dieselfde gedig op die flap. Bepaald ’n plesierige tweegesprek.

Ook in “Tantalus” vind ’n gesprek plaas tussen twee digters – Van Wyk Louw en sy seun Peter. In “Suising” (bl. 74) word Louw direk aangespreek in sy bekende woorde “my land, my dor, verlate land: / iets wens olywe groei in jou:”

Voorts is daar kritiek op die selfiegeslag en huldeblyke oor gestorwenes wat dikwels selfbemarking word of kritiek van ander digters ontlok. Ons vind aangrypende gedigte oor huisdiere en selfspottende verse oor katers.

Die digter is telkens besig met ’n siening van die digkuns en watter belangrike plek dit in sy lewe neem:

Heem III

’n man met die naam

Brett Bard het hulle gekweek:

ons tuinsipresse

daarom staan hulle

so regop en attent gespits

soos skrywerspenne

daarom grif hulle

so soepel teen die hemel

haikoes in die wind

In die gedig “Dekonstruksie” (bl. 103) is daar iets wrangs te bespeur oor die rol van die digkuns wanneer Jacques Derrida se sous rature (under erasure) ingespan word om die nutteloosheid en terselfdertyd dwingendheid van hierdie private spel te illustreer. Weliswaar ’n intieme spel wat deur publikasie in die openbare domein land. Hierdie klein vernufsvers is ’n besliste sleutel tot hoe die leser die spel tussen die private en openbare moet ontsluit. Ook absence versus presence soos Derrida dit in Frans noem.

Die openbare en private word dus telkens téén mekaar gestel, soos op bl. 44:

Woorde vir die binnekamer

liefdesverklarings hoort in die binnekamer

word gesê en ek stem saam: openbare reklame

is ’n verleentheid – daarom uiter ek dit graag,

liefsteling, in die hermetiese ruimte van ’n gedig:

hier waar ek agter my lessenaar sit, kan ek dit waag

om te fluister wat ek van die dakke wil verkondig

’n Paradoks dus: die private word openbaar.

As vertaler lewer Hugo kommentaar op taal, soos in “Klaaglied” (bl. 61), waar Afrikaans se “agterlike grammatika” onder die loep geneem word. In “Die digter as wesp” (bl. 59) word Hugo se verse oor ander as venynig ontleed. Die vers word ten slotte ’n slim selfaanklag: Dít wat jy oor ander skryf, word dikwels ’n boemerang.

Daar is ook vernuftige speelse verse, soos op bl. 86:

Goliardegebed

Here, vergeef my al my flaters

my wilde kapaters

saam met gewillige maters

en meisies – snoer tog die snaters

van jaloerse haters

en agterafpraters

daardie gefrustreerde ou saters

met verkrimpte knaters

Here, bewaar my van die paters

met hulle wywaters

en ná diep nagte met konfraters

Here, lawe my oggendkaters

Vir my is Hugo ’n onbetwiste vakman. Hy is op sy beste wanneer hy speels dig, en sy portretgedigte oor ander digters is onthoubaar.

Die liefdesgedigte in hierdie bundel vind ek helaas minder so. Die beste liefdesgedigte word vanuit ’n posisie van afstand geskryf – ons dink hier aan Carol-Ann Duffy se Rapture (2006) wat die volledige geskiedenis van ’n liefdesverhouding karteer. Wanneer die digter nog die geliefde óm hom as toeskouer en binneleser innooi, voel hierdie leser dié gedigte was dalk net vir die geliefde se oë bedoel.

Die digter ondersoek dieselfde bekende temas in sy digkuns en die meeste digters keer telkens terug na dieselfde “scene of the crime”. Dit sou ’n interessante studie wees vir die speurende leser om te sien hoe Hugo temas hérbesoek en ontwikkel.

Prins Albert word in mooi gedigte herken as ’n ruimte van inspirasie.

In Openbare domein is daar wel ’n groter bewustheid van die natuur en die mens se geringheid binne die groter opset van die kosmos. Die voorblad beweeg van binne na buite: van die studeerkamer of skryfkamer na die tuin.

’n Digter van behendige kamermusiek inderdaad, soos André P. Brink hom destyds geplaas het.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.