Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digterskilder Rosa Smit ‘het passievol geleef’
Die digter Rosa Smit (76)

Hoewel die digterskilder Rosa Smit (76) haar passie in vele kunsvorme uitgeleef het, was die digkuns die naaste aan haar hart.

So het haar jongste seun, Emile van Druten, gesê van sy ma, wat Dinsdagaand in Pretoria aan Covid-19 dood is. Hy het haar beskryf as een van die passievolste mense wat hy geken het.

Smit se dood kom sowat twee weke voordat haar jongste poësiebundel, Die slingerplant se wintergroei, op 6 Augustus by die uitgewer Naledi verskyn.

Volgens Linda Coetzee, haar suster, is sy om 20:00 in die Pretoria-Oos-hospitaal dood nadat sy drie weke lank met die virussiekte geworstel het.

Die omslag van Rosa Smit se jongste digbundel, 'Die slingerplant se wintergroei', wat op 6 Augustus by Naledi verskyn.

Coetzee beskryf haar op Facebook as “’n vrou van staal, gevul met humor, wie se aansteeklike lag almal om haar kon oplig. Haar liefde het almal óm haar bedek met vleuels van geloof en hoop.”

Van Druten het gesê sy ma is “dag en nag deur haar lewensmaat, Jurgens van Zyl, opgepas”.

“Toe ons niks meer vir haar by die huis kon doen nie, is sy in die hospitaal opgeneem. Sy was ook daar aan ’n ventilator gekoppel. Dit was baie traumaties, die lang geveg. Tot aan die einde was haar veggees duidelik teenwoordig, al kon sy later net haar oë beweeg. Sy was so formidabel,” het hy gesê.

Smit het in 1989 die Ingrid Jonkerprys vir haar debuutbundel, Krone van die narsing, gewen. Die bundels Die begeleiding van duiwe en Die rooi veer in Vasco se hoed het in onderskeidelik 2008 en 2013 gevolg.

Haar gedigte het ook verskyn in die Tydskrif vir Letterkunde en is in versamelbundels soos Groot Verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die braambos brand, Honderd jaar later, Versindaba 2008 en Die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans opgeneem.

Die sanger en komponis Laurinda Hofmeyr het Smit se gedig “Heksery” getoonset en vir haar album Ligdag opgeneem.

“Sy was altyd regverdig en eerlik. As daar ’n honger hond was, het hy kos gekry, as daar ’n vrou was wat gehuil het, het sy ’n koppie tee gekry. Sy het met die hart op die mou geleef,” het Van Druten gesê.

Volgens hom het sy haar passie in vele kunsvorme uitgeleef en ook skilder- en dramakuns beoefen.

“Dit was die digkuns wat die naaste aan haar hart was. Sy was die miracle van ’n talentvolle familie. Haar gedigte het oor die liefde, haar familie, die Bybel, die band tussen ’n man en ’n vrou, God en die Israelse volk gehandel.” Smit se ma was Jana Coetzee, die liefdesverhaalskrywer.

Die letterkundige Joan Hambidge meen Smit se gedigte oor Israel roep die verse van Olga Kirsch en ’n Joodse verwysingsveld op.

“Die digteres verken temas van die Midde-Ooste en sy dig oor sinagoges, die vlaktes van Hebron, Jesus wat bid in Getsemane en ander aspekte van daardie leefwêreld.

“Haar verse oor skilders en skilderye (onder andere Monet, Jan van Eyck) lewer interessante vergelykingsmoontlikhede binne die tradisie van ekfrastiese gedigte in Afrikaans.

“Sy het oor die liefde, spiritualiteit en die skilderkuns ’n handvol beduidende verse geskryf. Wanneer sy haar gedigte voorgelees het, kon die leser-as-luisteraar haar siening van die lewe begryp,” het Hambidge gesê.

Die digter Charl-Pierre Naudé het gesê sy het haar geloofswêreld, wat haar hele wêreld was, vir lesers oopgemaak. Dit was nie geyk nie, maar gekenmerk deur ’n persoonlike sprankel.

“Die diepsinnigheid daarvan het my as Filistyn nie ontglip nie. Toe ek laas met haar gepraat het, het sy dit laat klink asof sy nie Covid-19 gaan kry nie, sy was in haar geloofswêreld volledig beskerm.”

Smit was ook in dramakringe bekend en het aan verskeie amateurgroepe soos onder meer die Johannesburgse Toneelgeselskap behoort.

Sy is in 1945 in Alberton gebore en het in die 1960’s aan die Pretoriase Onderwyskollege klas in drama en spraakopleiding geloop. Sy het verdere kwalifikasies in dramakunste aan die Universiteit van Suid-Afrika en Aletta Gericke se Akademie van Dramakuns en Voordrag behaal.

Sy was ook as skilder bekend. Sy het in Stilbaai en Pretoria gewoon.

Van Druten het gesê ’n begrafnis word beplan in Stilbaai, waar sy ses maande van die jaar gewoon het. ’n Aanlyn huldigingsdiens wat deur ’n rabbi gelei gaan word, word vir volgende week beplan.

“My ma was baie lief vir Stilbaai. Dit is daar waar sy haar kreatiwiteit herlaai het, dan is sy terug na die “werklikheid” van Pretoria, en elke twee jaar is sy na haar geliefde Israel,” het Van Druten gesê.

So dig Smit oor die koronavirus in die pasverskene bundel Maskers en mure saamgestel deur Daniel Hugo en Francois de Jongh, waarin plaaslike gedigte oor die virus en die pandemie opgeneem is.

Die sondebokkie

Hy spring een koel oggend

uit die nat visbak uit

tussen besems en skubbe,

tjingtjangs, ’n hond sonder

kop, in die fyn sagte haartjies

van ’n vlermuis in.

Sy rooi tentakels gryp-gryp

aan die een oor van ’n rot,

wat by die sinkskrefie

lek aan die ding op sy rug

en later afspring

by die deur, die Wuhan-hek

om by die tas in te glip

van ’n reisiger

en as hy vlieghoogte kry:

gly hy in die slapende man

se oop spelonk af.

• Smit het nog ’n seun, Markus Smit (by die digter Pieter Smit, van wie sy geskei was) en word benewens haar lewensmaat ook oorleef deur haar suster, Linda Coetzee. Haar jongste seun, Emile, se pa was Brian van Druten wat oorlede is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.