Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dikke kroniek ry jou bloots deur drie donker dekades

Met dié stoeptrapdik roman-kroniek wat die skisofreniese geskiedenis van Suid-Afrika van 1976 tot 2000 tot in die fynste ontsetting skilder, wys Brent Meersman hy is een van die land se beste storievertellers, skryf Deborah Steinmair.

Brent Meersman

Sunset Claws: A Chronicle of a Genera­tion deur Brent Meersman. Uitgewer: Missing Ink. Prys: R290.

Hoe resenseer ’n mens ’n senu-ineenstorting? Teen 704 bladsye is Sunset Claws so dik soos ’n stoeptrappie – g’n wonder nie, want dis eintlik drié romans in een stofomslag: Reports Before Daybreak (wat reeds in 2011 by Umuzi verskyn het), Five Lives at Noon (dit is in 2013 deur Missing Ink uitgegee) en nou is daar die slotaflewering, Sunset Claws.

Ek het aanvanklik besluit om die boek blitsig en bolangs te lees, maar is gefnuik: Die kroniek het kloue ingeslaan en my bloots gery soos ’n bergleeu ’n bok. Twee weke lank het ek die swaarste handsak in Pretoria gehad. Ek kon geen enkele woord oorslaan nie, maar kon dit meestal net in kleinerige dosisse inneem voordat ek eers moes verteer en herkou. Soms was die inhoud só ’n aanslag op my senustelsel dat my polse te lam geword het om die swaar boek in die lug te hou. In die straat voor die gebou van binnelandse sake in Centurion moes ek een oggend twee en ’n half uur lank toustaan, en Sunset Claws was om die beurt stoel en leesstof.

Die subtitel is A Chronicle of a Generation. Dis die verslag van my opgefrommelde geslag, dié van ons wat in die 1980’s mondig geword het, dié van wie Johannes Kerkorrel gesing het: Ons oorleef met ’n helse lot pyn in hierdie land. Dié van wie min hul drome oorleef het, die skeppers en erfgename van ’n toekoms vol gate. Dit skilder die bloedige, skisofreniese geskiedenis van Suid-Afrika van 1976 tot 2000, tot in die fynste ontsetting.

Wie is hierdie Brent Meersman . . . verkleurmannetjie, koekeloerder, luistervink, gewete, skriba, spons? Ek kon min oor hom agterkom, behalwe dat hy wit is, dat sy pa Belgies en sy ma ’n kunstenaar was, dat hy as fotograaf begin werk en ’n geruite loopbaan gehad het waaronder as uitvoerendekuns-verslaggewer vir die Mail & Guardian en dosent aan die Universiteit van Kaapstad. Hy het in ’n onderhoud die volgende gesê oor Suid-Afrikaanse romans: “Ek dink ons het ’n ernstige tekort aan ambisie in ons letterkunde, ambisie en stamina. Ons is oorspoel met klein boekies en eenboek-outeurs. Wat ook al die tekortkomings – en daar is beslis probleme met my projek en sy omvang – kan ek ten minste sê dis volgeprop met fassinerende besonderhede van ons geskiedenis.”

Hy het ook gesê: “Daar is soldate-memoires, bourgeois novelles, struggle-romans, ensovoorts, maar die stories kom nooit by mekaar uit nie.” Die ambisieuse Meersman vleg inderdaad al die stories ineen tot ’n fassinerende, ontgogelende narratief – hy word huiswerker, MK-soldaat, blonde weermagoffisier, ANC-banneling, wit kunstenaar in dienspligontduikende ballingskap, township-meisie, wortelkop-advokaat met struggle-kredietwaardigheid, haasmal askari, IVP-dikding – om maar ’n paar te noem. Een van sy karakters merk op dat die probleem met ons land is dat ons nie mekaar se stories ken nie. Wanneer ons mekaar se stories ken, meen hy, sal ons uiteindelik verstaan.

Soos alle meestervertellers laat Meersman hom nie van stryk bring deur moontlike aantygings van kulturele toeëiening nie. Shakespeare het hom ook nie laat vertel hy mag nie Joods, swart of vroulik wees nie.

Daar is sowaar niks prekerigs, niks kosbaars of polities korrek aan die roman nie. Die tempo is snel, die boogstywe spanning deurgaans gehandhaaf. Daar is geen naeltjiestaardery nie, geen opeenstapeling van onnodige feite en statistieke, geen navorsing waarvan die onderrok uitsteek nie.

Dis snerpende verslaggewing en meesleurende storievertelling. Tussen die omslae woel naelbyt-spanning, liefde, ambisie, wraak, grafiese geweld, verraad en die volle register van menswees. Die hoofkarakters is fiktief, maar hul stories is vervleg met die biografieë van plaaslike ikone. Daar is geen pers prosa of selfingenomenheid nie. Daar is nie slotsomme of waarde-oordele nie. Dis mense se stories, en die stories hou nie op wanneer jy die boek toeslaan nie. Dis ’n kringloop, ’n slang wat sy eie stert sluk, soos die lewe.

Daar is ellendige wit mense soos meneer en mevrou De Koninck – sy slaan die bottel en hy dobbel kompulsief, hulle woon in ’n verwaarloosde woonstel waarvan hulle die mure geel gerook het. Hul blonde seuns is teenpole: die een ’n macho maar apolitiese soldaat, die ander ’n bleeksiel-kunstenaar wat diensplig ontduik. Daar is die welgestelde Diepenaars van Kampsbaai, die brandewyndrinkende, vroetelende Broederbonder Albertus met sy boepens en sy Engelse vrou, Jennifer, wat op hom neersien, maar self vir die Nasionale Party stem, en hul seun, die rooikop Bertie, idealisties en in opstand teen sy ouers en die onmenslike bestel.

Die twee gesinne word verbind deur Alicia, wat vir albei huishoudings skoonmaak. Sy woon in ’n krot. Haar voorkind, Mfundi, word by haar suster en swaer groot en word deur ’n ouer belhamel verlei om ’n aktivis te word en landuit te verdwyn. Sy het ook ’n mooi, slim dogter, Zukiswa, wat met die hulp van Alicia se swaer wat in Londen woon en ’n ANC-hooggeplaaste is, studeer en Londen toe vlug. Soos dit gaan in hierdie hutspot aan die suidpunt van Afrika is almal minder as ses grade van mekaar verwyder en die paaie kruis weer en weer.

Meersman het ’n valkoog vir detail , asook ’n versiende oog op die wyer blik, ’n oor fyn ingestel op toonhoogte en tydsgees, ’n ruim hart wat hom alles onder die son kan voorstel.

Die roman omarm meer as drie dekades en verskillende vastelande. Die leser word ’n vlieg teen die muur gedurende township-onluste, by wit braaivleise, by die terugkeer van uitgewekenes, by die geboortepyne van die nuwe Suid-Afrika, die partytjies van die soesji-etende, Blue Label-drinkende opkomende swart middelklas, by die Waarheid-en-versoeningskommissie, tussen grypende, korrupte kapitaliste van elke skakering.

Want kleur is altyd ’n kwessie, die reënboog ’n lugspieëling en kleurblindheid ontkenning. Die rooikop-menseregteadvokaat dink by homself: “Miskien het dit alles oor vergelding gegaan, die hele struggle, nie net die wraak van ’n tand vir ’n tand nie, maar ook wraak vir ’n geskiedenis van vernedering, vir eeue van mishandeling en verguising.” (My vertaling.)

Daar is geen ware helde of skurke tussen hierdie reëls nie. Ten slotte som die wit kunstenaar dit só aan sy terapeut op: “Kyk hier, ons hele bevolking, ons is almal tegelyk slagoffer en boosdoener, net in verskillende grade. Nie een van ons wat oorleef het, is spesiaal nie.”

Dié boek is nie vir jou nie as jy een van diegene is wat meen die struggle is holrug gery, die demokrasie is al 23 jaar oud en mense moet nou vorentoe begin kyk en ophou wals deur die onregte van die verlede, en in elk geval het jy nog altyd gedink apartheid was verkeerd, al was jy nie aktief by die struggle betrokke nie, en buitendien is niemand se hande skoon nie en jy het ook nooit regtig geweet wat aangaan nie. Wonde, val dit my op, het ’n lang leeftyd, letsels leef geslagte, eeue lank in die sellulêre geheue voort. “Dié obsene land, waar altyd nog ’n abses skuil, gereed om te bars,” dink een van die karakters.

Daar word meer as 70 jaar ná die Jodeslagting nog boeke daaroor geskryf. Só moet daar nog boeke oor ons skandelike geskiedenis geskryf word. Stories verwond en ek is nie seker of hulle heel nie, maar nogtans wil ons aanhou vertel, wys, deel, in ’n ander se skoene gaan staan en probeer verstaan. Mekaar se stories hoor. En daarvoor het ons boekstawing nodig, en vertellers. Meersman is een van die bestes.

  • Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.