Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dink en praat nuut oor siekte

Siekte is bloot ’n biologiese verskynsel, verklaar die narkotiseur Malcolm de Roubaix in ‘Hoop, heling & harmonie’, maar nietemin iets waarvoor elke mens persoonlike verantwoordelikheid moet aanvaar, skryf Juliana Coetzer.

Hoop, heling & harmonie: Dink nuut oor siekte en genesing deur Malcolm de Roubaix. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R290.

Om siekte te verstaan, skryf Malcolm de Roubaix, moet ’n mens eers weet wat gesondheid is: ’n toestand van die liggaam waarin al die organe en prosesse normaal funksioneer. Dié homeostase kan egter deur verskeie dinge versteur word en tot ’n siektetoestand lei.

In Hoop, heling & harmonie, ’n indrukwekkende werk oor siekte en hoop, vertel die skrywer nie net van die faktore wat siektetoestande kan veroorsaak nie. Hy probeer ook om ’n ander taal oor siekte – ’n nuwe manier van sê en dink – te vestig. Sy boek is gerig op mense wat die moed het om vrae te vra oor die moeilike fasette van die lewe en dieper wil delf in siektetoestande.

De Roubaix is goed gekwalifiseer – hy is ’n narkotiseur met ’n doktorsgraad in geneeskunde en toegepaste etiek – maar dit is sy geloofwaardige stem wat die hardste met die leser praat (en nooit bo-oor die leser nie). ’n Mens gló hom en jy hoor die deernis in sy stem wanneer hy terloops noem dat die woord pasiënt afgelei is van die Latynse werkwoord pati, wat beteken om te ly. Voor die medikus sit iemand wat aan lyding onderwerp word en sodanig as ’n unieke wese met ’n liggaam en gees behandel moet word. De Roubaix spreek hom ook sterk uit oor die mag wat ’n medikus oor ’n pasiënt het as die een met ál die antwoorde en hy deel heelwat inligting om lesers te bemagtig.

Hy glo verder in die beginsel om alles so eenvoudig as moontlik uiteen te sit en maak reeds in die inleiding sy mening duidelik: “Een van die onderliggende uitgangspunte van hierdie boek is juis om siekte oplaas as bloot ’n biologiese verskynsel sonder enige metafisiese (buitenatuurlike) komponent te sien, te beredeneer en te behandel.” Hoekom jy siek geword het, hoef nie in die sterre en planete gesoek te word nie, maar daar waar jy persoonlike verantwoordelikheid vir jou toestand aanvaar. (Op ’n persoonlike noot: Volgende keer as iemand my vra wat die hoër doel van my kind se gestremdheid is, sal ek dié skrywer op bl. 265 aanhaal: “Ek dink nie siekte het enige bepaalde sin, nut of betekenis nie. Ek dink siekte is bloot iets wat met ’n mens gebeur, onafwendbaar deel van menswees.”) Dit beteken egter nie dat hy die geestelike, verstandelike en emosionele dimensie van die mens ignoreer nie. Trouens, hy maak dit duidelik dat hierdie belangrike komponent waarde en betekenis aan die liggaamlike ervaring gee.

Die invloed van emosies, stres en denke op die liggaam word bespreek.

Hoop, heling & harmonie bestaan uit vier afdelings: Die eerste een handel oor die aard en wese van siekte en hoe dit die pasiënt se menswees aantas. Wat is siekte, hoe ontstaan dit en hoe affekteer dit elke mens se liggaam en gees? Hy skryf oor die kwessies waaroor ons dink, maar nie praat nie, soos die feit dat siekte ’n mens afhanklik maak, jou identiteit aantas en jou tydens ’n kankerdiagnose met jou eie sterflikheid konfronteer.

Die invloed van emosies, stres en denke op die liggaam word bespreek. Die skrywer noem dat chroniese stres byna altyd lei tot stresverwante siektes soos hoë bloeddruk en chroniese dermsiektes. Psigososiale stressors kan die werking van die immuunstelsel beïnvloed en byvoorbeeld akute en chroniese infeksies tot gevolg hê. Die afskeiding van kortisol en adrenalien, die tipiese veg-of-vlug-streshormone, het op lang termyn ’n negatiewe uitwerking op die brein.

Die skrywer maak ook melding van “negatiewe emosies”, ’n term wat ons in psigoterapie juis vermy aangesien ’n emosie per se nie reg of verkeerd is nie, maar ek verstaan wat hy bedoel: ’n Emosie soos vrees wat nie aangespreek word nie, kan ’n negatiewe uitwerking op die liggaam hê.

Lesers sal sy verwysing na die standpunt van verskillende gelowe soos die Christendom, Islam, Boeddhisme en Judaïsme asook die tradisionele Afrika-beskouings oor siekte interessant vind.

Hy skryf openlik oor die irrasionele en wangebruik van antibiotika, veral in Afrika, en die uitwerking van middelweerstandigheid. Politici word ook nie gespaar nie en veral die vigskwessie word sterk aangespreek. Wie kan die “verlore dekade” vergeet wat die gevolg was van die ontkenning van die vigs-epidemie in Suid-Afrika. Oudpres. Thabo Mbeki het antiretrovirale middels weerhou van swanger vroue en ander “omdat daar ’n Westerse komplot was om duur ARV’s aan ons te verkoop”. Dan was daar ook die vreemde dae van beet, knoffel, suurlemoene en die Afrika-aartappel . . .

Die tweede afdeling fokus op die pasiënt se regte en die beskerming daarvan. Die pasiënt moet byvoorbeeld ’n keuse hê oor sy behandeling én is geregtig op ’n tweede mening en selfs bekostigbare versorging.

In die uitgebreide derde afdeling ontleed De Roubaix die metafore wat algemeen in geneeskundige kommunikasie gebruik word – woorde wat deur die medikus sowel as die pasiënt gebruik word om die emosies en die situasie sintuiglik te verduidelik. Voorbeelde is die uitdrukkings “Die lewe is ’n reis”, onsekerheid oor siekte “wat soos ’n skadu bo ons kop hang”, of die gebruik van oorlogsmetafore soos wanneer ’n kankergewas as “die vyand” aangespreek word.

Die laaste gedeelte gaan oor hoop, heling en harmonie. Ons almal het nodig om groter inspraak te hê oor einde-van-lewe-besluite, maar daarvoor benodig ons inligting oor byvoorbeeld lewensondersteuning en behandeling wat ons lewensgehalte beperk. Bystandsdood word na aanleiding van gevallestudies bespreek. Die skrywer beskou harmonie as die rustigheid binne die gemoed waar aanvaarding van die toestand ’n belangrike rol speel.

De Roubaix probeer nie om al die antwoorde te verskaf nie en toon deurgaans respek vir die mens as outonome wese. Een van die kenmerke van die postmodernisme is juis onsekerheid en die feit dat daar nie finale antwoorde is nie. Siekte en dood is nie maklike gespreksonderwerpe nie en word deur die meeste mense vermy, maar die skrywer slaag daarin om die angel te verwyder.

Hy huiwer nie om die foute wat in die mediese wêreld gemaak word by die naam te noem nie en juis daarom is ek dankbaar vir dié boek met die belangrike boodskap: Jý is in beheer van jou liggaam, gesondheid en lewe.

Maar om dit na te streef moet jy bewustelik leef en ingelig wees. Hoop, heling & harmonie is kragtige leesstof vir alle mense vir wie hul lewe en gesondheid ’n saak van erns is.

  • Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont. Haar topverkoperdebuut, Bloedvreemd, is pas herdruk en ’n opvolgboek, Die kind se naam is Anneke, verskyn in Februarie aanstaande jaar by Human & Rousseau.
Meer oor:  Hoop  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.