Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dink móói oor wat jy dink

‘Plek van poue’ deur Henriëtte Linde-Loubser is ’n pronkstuk van ’n debuut wat hulde bring aan die Gotiese roman, skryf Jonathan Amid.

Plek van poue: ’n Gotiese roman deur Henriëtte Linde-Loubser. Uitgewer: Lapa. Prys: R250.

Soos Stela, die hoofkarakter in dié indrukwekkende Gotiese roman, vind hierdie resensent poue ook fassinerend: Skoonheid en vrees ’n aks van mekaar.

Daar is eenvoudig iets aan dié pronkende voëls, wat ook bloedstollende gille kan uiter en giftige slange kan vreet sonder dat hulle iets daarvan oorkom. Hulle is ’n kombinasie van asemrowende estetika en die vreemd onthutsende en daarby verteenwoordigend van die alsiende oog.

Poue kyk na buite, hiperbewus van hoe hulle ook fyn dopgehou word. Verder verveer hulle jaarliks en word só ’n simbool van ewige lewe, hergeboorte en vernuwing.

Skrywers van D.H. Lawrence tot Jojo Moyes het al die simboliek van die pou in hul fiksie ontgin en nou verskyn Linde-Loubser se Plek van poue, wat as ’n liefdesbrief aan die Gotiese roman beskryf kan word. Met verskeie gepubliseerde kortverhale op haar kerfstok lewer dié skrywer, ’n bibliotekaris van beroep, ’n debuut waarmee sy ten volle munt slaan uit die ryk betekenismoontlikhede van haar titel – ’n bietjie soos Jaco Fouché se Die ryk van die rawe (1996).

Voordat die verhaal begin, gee die skrywer erkenning aan Victoria Holt (wat ook onder die name Eleanor Hibbert, Philippa Carr en Jean Plaidy geskryf het), ’n meester van die Gotiese roman. Dit is met dié leidraad oor Linde-Loubser se eie karakter as bibliofiel en student van die Gotiese wat ’n mens dié debuut moet benader. As liefhebber van die genre het hierdie resensent veel gevind om hom in te verkneukel.

'Plek van poue' onderskat nooit die leser nie.

Dit sou die skrywer ’n groot onreg aandoen om veel van die magdom fyn detail en volgehoue spel met die konvensies van die genre te verklap. Die jong onderwyseres Stela (haar naam beliggaam “Klip” eerder as die meer eksotiese Rosetta) verloor haar ouers kort ná mekaar. Sy is geen leëkoppie nie en word omgepraat om skool te hou vir Margie, dogter van Robert Mont­rose. Met eggo’s van Charlotte Brontë se Jane Eyre word Stela van Stellenbosch na Knysna en die see verplaas, en gaan sy tuis op die onheilspellende plaas Pavo, ofte wel die “Plek van poue”.

Van meet af aan word die leser ingetrek en veel meer as net ’n toeskouer van Stela se geestesreis: Die skrywer skep ’n sterk vrouehoofkarakter wat in haar eie opvattings en ervarings begin twyfel en waar die foutlyne tussen verantwoordelikheid, plig, romanse en sielsgeluk dalk net noodlottig kan wees. Lesers sal vertroud wees met die boustene van die Gotiese roman, wat die klem plaas op ’n beklemmende atmosfeer; die moontlikheid van die bonatuurlike; geestesongesteldheid; ’n moontlik onbetroubare verteller; broeiende, mistige landskappe; ’n kasteel; die belangrikheid van briewe en verskillende vorms van kommunikasie; wandade van die verlede; en gruwelike, versteekte geweld.

Lesers sal vinnig van Stela hou en omgee oor haar doen en late, maar daar is ook ’n magdom ondersteunende karakters – helpers en antagoniste, met die skeidslyn tussen die twee dikwels lekker duister – wat die verbeelding aangryp. Saam met Montrose en Margie is daar ’n Chinese kok, ’n preutse maltrap van ’n huishoudster en ’n dwerg wat belangrike rolle vertolk in eie reg. Die karakter van Alan is een van die aangrypendste en waarvan lesers liefs so min moontlik moet weet voordat hulle die roman lees.

Plek van poue onderskat nooit die leser nie. Geloofwaardigheid en realisme binne die konvensies van die genre word nie ingeboet om spanning te skep nie. Soos grense tussen lig en donker en skyn en werklikheid vervaag hou Linde-Loubser die vertelling sekuur en gestroop, ondanks die raak beskrywings, pittige en skerp dialoog en haar oopskryf van interne en eksterne bronne van konflik.

Menige skrywer sou waarskynlik gestruikel het om alles bymekaar te bring, maar tog pas al die legkaartstukkies uiteindelik mooi. Ek lees ’n slim, implisiete verkenning van gaslighting raak – beslis ’n pluimpie!

Hoewel die skrywer soos ’n pou sou kon pronk met passasies mooiskrywery is Plek van poue juis so treffend danksy die volwasse, beheerste intelligensie wat hier aan die bod kom.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.