Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dis aanhou beweeg en geraas maak

'The Testaments’ sal dalk nie as monument in die letterkunde bly staan soos sy voorganger, ‘The Handmaid’s Tale’, wat 34 jaar gelede verskyn het nie, maar miskien wou Margaret Atwood hier juis iets meer beweegliks en toeganklik maak, skryf Bibi Slippers.

Margaret Atwood Foto: Ian West, Getty Images

The Testaments deur Margaret Atwood. Uitgewer: Chatto & Windus. Prys: R360.

Hoe skryf ’n mens die vervolg van ’n monumentale roman? As jy so slim is soos Margaret Atwood maak jy dit ’n massief gevaarlike boek van oor die 400 bladsye lank, swaar genoeg om enigiemand se neus te breek wat waag om aan die slaap te raak terwyl hulle lê en lees.

Jy begin ook sommer jou nuwe storie met die onthulling van ’n monument, met die duidelike problematisering van heldeverering: “Only dead people are allowed statues,” skryf die verteller in die eerste sin van The Testaments, “but I have been given one while still alive. Already I am petri-fied.”

The Handmaid’s Tale, Atwood se gevierde distopiese roman wat reeds in 1985 verskyn het, het die heel eerste Arthur C. Clarke-prys gewen, is met die Governor General’s Award bekroon en was op die kortlys vir die Nebula-prys, Booker-prys en die Prometheus-prys. Dis in 1990 tot ’n rolprent verwerk en in die jaar 2000 tot niks minder nie as ’n opera: Blessed be the froo-oo-oo-oo-ooooooot!

As jy nog nie die reeks gekyk het nie – moenie; leesplesier gaan verlore.

Om dit ’n geliefde boek te noem, is om dit méér as sag te stel: The Handmaid’s Tale word al jare lank beskou as ’n modern classic, maar die TV-reeks wat sedert 2017 uitgesaai is, het van die storie ’n kontemporêre fenomeen gemaak. Die eerste seisoen van die reeks het agt Emmy-pryse gewen, ’n tweede en derde seisoen is intussen uitgesaai en ’n vierde seisoen is op pad. Verkope van die boek het die hoogte ingeskiet nadat Donald “grab-’em-by-the-pussy” Trump in 2016 tot Amerikaanse president verkies is, en die kostuums wat in die reeks gebruik word, het ’n kragtige simbool van protes teen die patriargie in die Trump-era-VSA geword.

Waarom vind ek dit nodig om al hierdie bekronings, prestasies en uitblinkery op te noem? Om te wys in watter mate Atwood en haar boek tydens haar leeftyd met die ekwivalent van standbeelde vereer is. Die feit dat sy nie te versteen was van angs om ’n vervolg te skryf nie, wys dié vrou het knaters van staal – of dan brons, as mens letterlik gaan wees in jou beeldspraak.

Dit is een ding om die invloed van jou eie kultusstatus te oorkom en vreesloos voort te skryf, maar oor watter invloed TV-reekse wat van hul boeke gemaak word op skrywers gaan hê, gaan daar in die komende jare nog baie gedink en gesê word. ’n Goeie voorbeeld is George R.R. Martin, wat deur die draaiboekskrywers van Game of Thrones verbygesteek is omdat hy nie kon voorbly met die boeke waarop die reeks gegrond is nie.

Die skeppers van die Handmaid’s Tale-TV-reeks het mildelik voortborduur op die wêreld wat in die boek geskets word, en van die tweede seisoen af (met Atwood as storiekonsultant) moes hulle self die gebeure opmaak. Gegewe die gewildheid en reikwydte van die TV-reeks kon Atwood êrens tussen min en niks wat daarin uitgebeeld word in haar nuwe boek ignoreer of weerspreek nie. Daar is hier en daar dinge wat nie strook nie, en ’n mens frons daaroor as jy die reeks gevolg het.

Elizabeth Moss se ikoniese vertolking van Offred het dit sekerlik onmoontlik gemaak om verder oor dié karakter te skryf sonder om onder die invloed van Moss se interpretasie van die karakter te swig, en Atwood het daardie slaggat uit die staanspoor vermy: The Testaments word by monde van drie karakters vertel.

Die karakter met die dikste stem in The Testaments is Aunt Lydia, wat lesers as periferale karakter in die eerste boek sal onthou en kykers van die TV-reeks goed sal ken. Die hoofstukke wat Aunt Lydia se getuienis oor die opkoms en uiteindelike ondergang van Gilead opteken, is die sterkste in die boek en ook die naaste aan die aard van The Handmaid’s Tale, wat eindig met die woorde “Any questions?”.

Met The Testaments wou Atwood die vrae beantwoord wat lesers haar die afgelope drie dekades gevra het. Ons vind meer uit oor hoe die teokratiese regime in Gilead aan die bewind gekom het en watter rol sogenaamde tantes soos Lydia in die oprigting van die nuwe regering gespeel het. Ons leer hoe die praktyke, rituele en gebruike waardeur vroue sistematies onderdruk word ontstaan het, en hoe dit onderhou word. Ons sien die korrupsie, magsmisbruik en vergrype wat die leierskap in Gilead laat verrot.

Hierdie gedeeltes van die boek stel uitdagende vrae oor die aandadigheid van vroue aan hul eie onderdrukking en die dieptes waartoe die mensdom sal daal om ons eie oorlewing te verseker.

Die identiteite van die ander twee vertellers is ’n geheim wat ek nie mag verklap nie, maar ek wil lesers waarsku dat ywerige kykers van die TV-reeks baie vinnig – dalk té vinnig – sal uitwerk wie dié twee karakters is, en hoe hulle in verhouding tot mekaar staan. As jy dus nog nie die reeks gekyk het nie – moenie. Lees eers die boek, want ek vermoed daar is ’n groot verlies aan leesplesier as ’n mens so vinnig snap hoe die storie inmekaarsteek.

Vertellers nommer twee en drie is jonger, en vir my was veral die storie van die karakter wat in Kanada grootword nie op Atwood se gewone standaard nie. Hierdie karakter se leefwêreld word met baie breë kwashale geskilder, die situasies waarin sy haar bevind is dikwels ongeloofwaardig en die motiverings vir haar optrede en dié van die mense om haar is dikwels óf baie dun óf net te dik vir ’n daalder.

Oor hierdie karakter, wat ’n talent het vir spekskietery, sê Aunt Lydia in ’n stadium wanneer hul paaie kruis: “The ability to concoct plausible lies is a talent not to be underestimated” (bl. 387). Die leuens/fiksie oor hierdie karakter wat Atwood vir haar lesers opdis, oortuig egter nie.

Die ander jonger verteller se storie het ook ’n paar gate in, en in haar geval voel die oomblikke waartoe daar skynbaar opgebou word, telkens verspeel. Dis ietwat van antiklimaks op antiklimaks en plek-plek het die skryfwerk vir my soos dié in gewilde distopiese fiksie vir jong volwassenes soos The Hunger Games of Divergent gevoel, amper meer uiteensetting vir ’n volgende TV-reeks as ’n groot literêre werk.

Die twee jonger karakters se Groot Avontuur voel afgejaag en het my laat wonder of hier nie dalk te veel materiaal in een boek gestop is nie. My gevoel is dat Aunt Lydia se relaas op sy eie dalk ’n beter boek sou maak, maar dié sou waarskynlik nie genoeg aksie inhou vir storiehonger TV-gehore nie. Die algehele indruk is dus een van afwatering, asof Atwood hier vir ’n dommer gehoor geskryf het, of minstens ’n gehoor met ’n voorliefde vir kitskos eerder as cuisine.

Tog het The Testaments die kortlys vir vanjaar se Booker-prys gehaal nog voordat dit op die rak verskyn het. En ten spyte van my knaende gevoel dat die boek nie briljant is nie, kon ek dit nie neersit nie. Hoe verklaar ’n mens dit?

Atwood is werklik ’n meester met meer as 50 boeke op haar kerfstok en selfs wanneer sy nie op haar beste is nie, is sy steeds blerrie goed. Haar storie het ’n ingeboude stukrag wat ’n stoomtrein sal laat sleg lyk, en oral langs die pad is daar klein belonings soos broodkrummels gestrooi vir lesers wat agter beeldskone sinne, raak waarnemings en skerp humor aan lees: Die klank van die woord wedlock word as “a dull clicking sound” beskryf; Aunt Lydia merk byvoorbeeld droogweg op: “Under some conditions smiling is a workout” en “I remain deeply grateful that I never learned to knit”.

The Testaments se bandontwerp is aantreklik en betekenisvol: Volpunte vir die ontwerpers wat die boek se temas so subtiel in die illustrasies kon inwerk.

Terwyl hierdie boek nie op die skok-element van ons eerste kennismaking met die gruwels van Gilead kan staatmaak nie (en ’n mens waarskynlik afgestomp is deur die grafiese geweld van die TV-reeks), is die parallelle wat in The Testaments getrek word met die toestande in aanhoudingsentrums vir vlugtelinge ontstemmend en hoogs relevant. Daar is sosiale kommentaar oor kontemporêre verskynsels soos cancel- en call-out culture, en oor die afwesigheid van behoorlike proses binne sekere vleuels van die #MeToo-beweging: “Innocent men denying their guilt sound exactly like guilty men.”

The Testaments sal dalk nie as monument in die letterkunde bly staan soos The Handmaid’s Tale nie, maar miskien wou Atwood hier juis iets meer beweegliks maak, ’n kinetiese beeldhouwerk wat die leser vra om by te bly, om nie stil te sit en haar lot in die lewe te aanvaar nie, om aan te hou beweeg en geraas maak.

Iets wat sê dat dinge kan verander, en dat ons mag hoop op beter dae, solank ons ook aan die doen is.

  • Bibi Slippers is ’n bekroonde digter, skrywer en TV-aanbieder van Johannesburg.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.