Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dís hoe dit was om ’n Recce te wees . . .

Bo en behalwe die lekkerlees-Afrikaans lê die trefkrag van Alexander Strachan se tweede Recce-boek in die akkurate en spanningsvolle boekstawing van spesifieke operasies wat 1 Recce van 1977 tot aan die einde van 1981 in Mosambiek en Angola uitgevoer het, skryf Abel Esterhuyse.

Recce (volume 2): Agter vyandelike linies deur Alexander Strachan. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

1 Recce: Agter vyandelike linies is die tweede volume in ’n reeks oor die ontstaan en ontwikkeling van 1 Recce as moedereenheid waaruit die huidige Suid-Afrikaanse spesiale magte ontwikkel het.

Die eerste boek in die reeks, 1 Recce: Die nag behoort aan ons (2018), fokus hoofsaaklik op die ontstaansgeskiedenis van 1 Recce as militêre eenheid, en in die tweede volume “val die klem grotendeels op die operasies en kry die leser minder uiteensetting en meer beskrywings van die Recces se operasionele aanwending” (bl. 11). Die klem is spesifiek op operasies wat 1 Recce in die tydperk van 1977 tot aan die einde van 1981 uitgevoer het.

Vanuit ’n strategiese perspektief is dié tydperk om twee redes van uiterste belang. Enersyds was dit die tyd waarin die Suid-Afrikaanse weermag op omvangryke wyse hulp verleen het aan die Rhodesiese veiligheidsmagte in die sogenaamde Tweede Chimurenga. Andersyds wys die historikus Leopold Scholtz in ’n artikel in die South African Journal of Military Studies daarop dat die Suid-Afrikaners teen 1977 besig was om die oorlog teen Swapo in Namibië te verloor. Die jare 1977 tot 1981 was daarom ’n tydperk van ontwikkeling van toepaslike leerstellings, tegnologie en uitrusting vir die Suid-Afrikaanse weermag se teeninsurgensiestryd teen Swapo in Namibië. Angola se ondersteunende rol as veiligheidsoord vir Swapo het dié land nie net geografies by die oorlog betrek nie, maar ook die Angolese veiligheidsmagte ingesleep. Gevolglik is die Recces toenemend in operasionele omvang en fokus betrek by beide oorloë in dié strategiese en geografies uiteenlopende operasionele teaters.

Volgens Strachan is die boek nóg van akademiese nóg van militêre doktrinêre aard. Hy beskryf dit as ’n vertelling oor die wel en wee van 1 Recce se operateurs en ondersteuningspersoneel wat aan spesiale operasies deelgeneem en wat die leser ’n blik probeer gee op “hoe dit was om ’n Recce te wees”. In die proses probeer hy ’n akkurate weergawe van die “kleiner” dinge te gee en hoe individue die oorlog as soldaat beleef het.

Die beskrywing van etlike operasies gryp die verbeelding aan?.?.?.

Die skrywer het toegang gehad tot die aantekeninge wat elke spanleier moes byhou tydens operasies en skets só vir die leser ’n prentjie van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat die soldate ervaar het. Volgens Strachan laat dit die leser deel in die reuk van die slagveld en die vriendskapsbande wat tussen soldate gesmee word in toestande van uiterste gevaar.

Die boek se trefkrag lê in die akkurate en spanningsvolle boekstawing van spesifieke operasies waaraan 1 Recce-operateurs deelgeneem het. Soos die oorlog in sowel Rhodesië as Angola in die laat 1970’s en vroeë 1980’s in intensiteit toegeneem het, het die operasionele behoefte aan klandestiene spesiale operasies per see, land en lug ook gegroei. Die klem het toenemend begin val op verkenning en sabotasietake en die uitvoer van operasies van ’n strategiese aard. Dit het gepaard gegaan met ’n toename in die aantal operateurs en die ontwikkeling van nuwe uitrusting, radio’s en wapentuig.

Die boek is in twee verdeel. Die eerste deel fokus op 1 Recce se operasies aan die “Russiese front” vanuit Rhodesië in Mosambiek. Dié operasies is meestal onafhanklik uitgevoer, maar ook dikwels in samewerking met die Rhodesiese spesialemageenhede, soos die SAS en Selous Scouts. Hierdie beskrywing is van onskatbare historiese belang.

Vir die eerste keer word die kombers van geheimhouding gelig oor Suid-Afrika se geweldige bydrae tot die Rhodesiese oorlogspoging. Die oostelike subteater van die Rhodesiese oorlogspoging was as die Russiese front bekend, nie net weens die oostelike geografiese aard daarvan nie, maar juis omdat operasies, soos die Oosfront tydens die Tweede Wêreldoorlog, van ’n baie hoë intensiteit was. Die operasionele intensiteit, geografiese nabyheid en bereikbaarheid van die oostelike subteater het 1 Recce se betrokkenheid in hierdie streek onderlê. Die operasies in Rhodesië is gekenmerk deur ’n hoë operasionele tempo en hewige vuurgevegte teen ’n oorweldigende vyand in ’n oorlog wat in wese nie gewen kon word nie. 1 Recce se betrokkenheid by die oorlog in Rhodesië was ’n goeie leerskool en het operateurs van goeie ervaring voorsien vir wat sou volg in Angola.

Die tweede deel van die boek fokus op operasies in Angola as deel van die Suid-Afrikaanse teeninsurgensiepoging teen Swapo in die noorde van Namibië en Angola. Uiteraard aanvaar die leser dat die outeur keuses moes maak oor watter operasies in die boek ingesluit word en watter nie. Die gevaar van ’n fokus op die uitstaande, suksesvolle en aangrypende is dat dit soms ’n heroïese beeld skep van onoorwinlikheid en dat die menslike en feilbare op die agtergrond geskuif word.

Die beskrywing van etlike operasies gryp egter die verbeelding aan en laat ’n mens met geen twyfel oor die hoë risiko en bykans bomenslike aard daarvan. Dit staan in skrille kontras met wat in die huidige tydsgewrig in baie Westerse leërs ontvou waar die klem val op sogenaamde magsverdediging (force protection) en die noodsaak om ongevalle en risiko’s ten alle koste te vermy. Die skrywer se beskrywing van operasies waarin operateurs met skouergelanseerde lugafweerwapens vliegtuie in Angola neergeskiet en die hawe van Lobito verken en opgeblaas het, gryp die verbeelding aan.

Die breë publiek sal maklik aanklank vind by die boek. Dit is in ’n lekkerlees-Afrikaans geskryf, goed aan mekaar gevleg en vloei uitstekend. Die skrywer slaag deurgaans daarin om dit ernstig dog lig te hou. Die verhaaltjie van hoe twee operateurs vir Jonas Savimbi se generaals moes dans, is maar een voorbeeld.

Daar is uiteraard ook enkele lastighede wat opval. Een daarvan is die oormatige gebruik van voetnotas om inligting tot die teks toe te voeg wat in die eerste plek deel van die teks moes gewees het. Hoekom word “hoogs gedekoreerde soldaat” vir Arthur W. Walker gebruik as hy die “mees gedekoreerde soldaat” van die Grensoorlog was? Waarom word die afkortings “ltgenl” en “genlmaj” gebruik as dit tog in alle woordeboeke duidelik aangedui word as “lt.genl.” en “genl.maj.”? Wikipedia as bron is ook te bevraagteken.

Vir die professionele soldaat is daar baie stof tot nadenke in die boek. Die strategiese impak wat ’n klein groepie hoogs opgeleide spesialiste op ’n oorlogspoging in sy geheel kan hê, staan veral op die voorgrond. Soos met enige spesiale vermoë is die gehalte van die opleiding van kritieke belang. Maar gehalte-opleiding steun sterk op die identifisering van mense met die regte temperament en aanvoeling vir die werk. Die kultuur in ’n weermag wat mense toelaat om inisiatief te gebruik, wat bereid is om van ander te leer, en wat aansluiting vind by die breër samelewing se industriële en akademiese vermoëns, is van kritieke belang.

Die leser word ook getref deur die verskeidenheid en diversiteit van operateurs wat uiteindelik deel word van 1 Recce se span: Boesmans uit Namibië, Portugese uit Angola, etlike Europeërs, en uiteindelik ook lede van die Rhodesiese spesiale magte. Bowenal val die noukeurigheid en detail waarmee operasies verken, beplan en ingeoefen word, ’n mens op. Dit is ’n moeilike mengsel van die algemene en die spesifieke wat 1 Recce se sukses onderlê; om magte van dié gehalte te ontwikkel, is nie alle weermagte beskore nie.

* Die boek verskyn gelyktydig in Engels as 1 Recce (Volume 2): Behind Enemy Lines. Getekende eksemplare in albei tale kan direk by die skrywer bestel word teen R290 (plus R120 koerierkoste). Stuur ’n e-pos na bookhouse@mweb.co.za.

* Prof. Abel Esterhuyse is verbonde aan die departement strategiese studies in die fakulteit krygskunde van die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.