Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Dis nie maklik om ’n kinderboek te skryf’

Die bekroonde kinder- en jeugboekskrywer Fanie Viljoen het by geleentheid gesê “grootmense is boring”, daarom skryf hy kinder- en jeugboeke. Daar is nie grense is aan kinders se verbeelding nie. Sy jongste boek, Krappie en die kroon, is nou op die rak. Hy beantwoord 'n paar vrae van Mariana Malan.

Fanie Viljoen.

Die onderwerpe waaroor jy skryf, wissel van spoke tot grillerige goeters en wat nog alles. Vind jy dat kinders nog daarvan hou om lekker te gril wanneer hulle lees?

Beslis, as ek by ’n skool vra wie van spookstories hou, steek die meeste kinders hul hande op. ’n Mens kry trae lesers met humor en grillerige boeke aan die lees.

Jy werk idiome en lessies in jou storie van die krappie (en ander karakters) in, maar dis nooit steurend nie. Hoe doen jy dit so subtiel?

Dit kom moontlik van skrywersintuïsie af. Ek dink nie veel daaroor nie, skryf is vir my ’n spel met woorde, beelde, karakters en storie.

Sien jy die illustrasies in jou geestesoog wanneer jy ’n storie skryf of laat jy alles aan die illustreerder oor?

Omdat ek self ook illustreer, het ek agtergekom dis twee verskillende dele in die brein wat met die skryfproses en illustrasieproses werk. Al het ek weke lank aan ’n storie geskryf, moet ek ook lank sit en proefillustrasies maak om die karakters op papier te “vind”. Dis daarom vir my lekker om te sien hoe ander illustreerders my skryfwerk interpreteer. Ons het ongelooflike illustreerders in Suid-Afrika. Alistair Ackermann wat Krappie en die kroon geïllustreer het, is een van my gunstelinge.

Die omslag van Krappie en die kroon.

Die illustrasies in Krappie en die kroon tower vir my ’n lekker stukkie animasie op. Enige sulke planne?

Dit sal wonderlik wees. ’n Mens kan maar net droom . . .

Vir watter ouderdomsgroep skryf jy die graagste?

Ek verkies om vir kinders van so nege tot 12 te skryf.

Wat is die grootste geheim vir ’n suksesvolle kinderboek?

Jy moet nie dink dit is maklik om ’n kinderboek te skryf nie.

Kan jy sommer so uit die vuis sê hoeveel kinderboeke jy al geskryf het?

Daar is meer as 45 kinder- en jeugboeke.

Watter een was die suksesvolste?

Dit is waarskynlik die jeugverhaal Onderwêreld, wat al tien keer herdruk is.

Waaraan werk jy volgende?

Ek is besig met illustrasies en rond vertalings af. Daar wag ook redigeerwerk van ’n manuskrip. My tyd is te min!

* Fanie Viljoen van Bloemfontein is ’n voltydse skrywer, skilder en illustreerder. Onder die pryse wat hy al gewen het, tel die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur, M.E.R-prys vir jeuglektuur, M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke, naaswenner in die Lapa-jeugromankompetisie en talle ATKV-kinderboektoekennings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.