Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dis nie myne nie, dis nie joune nie

'Die storie van Afrikaans’ – ’n kolossale biografie in twee dele van altesame 1 808 bladsye – is bakenwerke waarin Wannie Carstens en Edith Raidt skryf oor die diepgaande verskille en ideologiese onmin oor presies wáár en hóé Afrikaans ontstaan het – noodsaaklike leesstof vir enigiemand wat wil deelneem aan die debat oor die taal, skryf Joan Hambidge.

Apartheid het uiteraard ’n impak op sienings oor Afrikaans gehad. Op die foto: Twee skoolseuns by ’n swembad in Yeoville in 1986. Die swembad was destyds slegs vir wit gebruik, maar is vir ’n dag vir die publiek gesluit sodat leerlinge van ’n gemengde skool dit kon besoek. Foto: Gideon Mendel, Getty Images

Die storie van Afrikaans – uit Europa en van Afrika: Biografie van ’n taal (Deel 1) en (Deel 2) deur W.A.M. Carstens en E.H. Raidt. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R450 (Deel 1) en R750 (Deel 2).

Het ons die ketel aan die tuit beet oor Afrikaans se herkoms en toekoms?

’n Biografie oor ’n bekende persoon word altyd vanuit ’n bepaalde blikhoek geskryf, maar wanneer jy ’n biografie oor ’n táál aanpak, word dit noodwendig ’n narratief waarin verskillende, dikwels teenstrydige stemme aangehoor en selfs ongevraagde inligting uitgeblaker word.

Die Poolse akademikus Jerzy Koch het op ’n keer opgemerk hy ken min ander tale waar die sprekers so hittig en durend oor die toekoms van die taal polemiseer.

Afrikaans, Hebreeus en Maleisies (bahasa Melayu Malaysia) is drie tale wat binne 100 jaar sigself gevestig het as wetenskapstale. Hier te lande het Afrikaans letterlik beweeg van ’n kombuistaal tot Bybeltaal tot taal van onderdrukking tot taal van bevryding tot ’n taal wat dalk kan uitsterf of verdwyn.

Dis noodsaaklike leesstof vir gesprek oor Afrikaans.

Die geskiedenis van Suid-Afrika is een van dwarsheid en opstand en dieselfde geld die geskiedenis van Afrikaans, wat sowel Europese as Afrika-wortels het. Die invloede van Khoi, Arabies en wat nog is al deur menige taalkundige uitgewys, maar moenie vir ’n oomblik dink dit is net literatore wat sterk hieroor verskil en polemiseer nie.

In hierdie bakenboeke van Wannie Carstens en Edith Raidt sien ’n mens eweneens diepgaande verskille en ideologiese onmin oor presies wáár en hóé Afrikaans ontstaan het. Aan die een kant is Hermann Giliomee, ’n kundige historikus, en die Gelyke Kanse-polemici wat standpunt inneem teen die US se taalbeleid, en aan die ander kant akademici soos Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria (UP) wat aanvoer dat Afrikaans nie aan wit mense of wit sprekers behoort nie. Of die digter Antjie Krog wat daarop wys dat tale wel uitsterf. Of die komitee aan die UP wat Afrikaans as voertaal “weggegee” het asof dit hul reg was om dit te besluit namens ander, aldus Dominique Botha, die skrywer van Valsrivier.

Die UP se onderrigtaal is nou amptelik Engels, terwyl die Vrije Universiteit in Amsterdam Nederlands as akademiese vak afgeskaf het. In die geglobaliseerde wêreld is Engels die taal van kommunikasie en die voertaal, ofskoon verskeie instansies moedig terugveg. Die Princeton-Universiteit neem standpunt in en spreek sigself ten gunste van die beskerming van minderheidstale uit.

Wannie Carstens
Edith Raidt

Carstens en Raidt se studies is belangrike werk wat gelees moet word saam met relevante tekste wat die afgelope jare verskyn het. Hier bly die baken immer J.C. Steyn se Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans (1980), maar daar is ook wyle Christo van Rensburg se So kry ons Afrikaans (2012), wat die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans bespreek, Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans (2016) onder redaksie van Carstens en Michael le Cordeur, en die eweneens insigryke Afrikaans ná apartheid (1992) met V.N. Webb as redakteur.

Die baanbrekerswerk van wyle Fritz Ponelis en al die woordeboekmakers is bekend, en ’n mens durf ook nie vergeet van Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (2018) deur Achmat Davids wat deur Hein Willemse en Suleman Dangor verwerk is nie. Voorts is daar talle rubriekskrywers soos Gerhard van Huyssteen wat die transformasie van die taal registreer, en LitNet plaas nog Afrikaanse akademiese artikels in verskeie vakgebiede, ’n bewys dat daar steeds navorsers is wat in Afrikaans werk, al het Afrikaans as regstaal in ons howe verdwyn.

Die politiek oor Afrikaans en die opvatting dat die taal nie sal uitsterf nie omdat dit gepraat en gesing word, is myns insiens ’n naïewe en oningeligte standpunt. ’n Taal se hoër funksies móét beskerm en mag verdedig word. Die keiharde feite is egter dat die globalisering en anglisering van die wêreld sake dramaties verander het.

Die stroom Afrikaanse publikasies gedy nog op die ou bestel en stelsels van bevoorregting wat die posisie van Standaardafrikaans en die voorskryfmark gevestig het.

Dekoloniseer? Ons doen dit al 300 jaar lank.

In Deel 1 (oor 632 bladsye) is die fokus op die Europese verlede van Afrikaans, terwyl Deel 2 (oor 1 176 bladsye) die Afrika-geskiedenis van die taal bekyk. Afrikaans het op drie vastelande ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm; in Afrika waar die 17de-eeuse Hollandse dialek onder die invloed van verskillende invloede Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.

Volgens sekere geleerdes is Afrikaans ’n semi-kreoolse taal en Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Op bl. 439 beweer die taalkundige Ana Deumert van die Universiteit van Kaapstad Afrikaans het veel langer geneem om te ontwikkel as wat algemeen aanvaar word – ’n proses wat volgens haar ongeveer 250 jaar geduur het.

’n Nuttige tabel (bl. 428-430) som die verskillende sienings oor die ontstaan van Afrikaans (asook die polemieke daaroor) netjies op. Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (bl. 427).

Die kreoliseringsdebat is in die 1960’s weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding tussen ’n taal en sy gemeenskap ondersoek word (bl. 431) – myns insiens ’n bewys dat teoretiese ontwikkelings tog nuwe lig kan werp op navorsing.

In die afdeling oor Nederlands word beweer Nederlanders het ’n sterk taaltrots en verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ook ’n sterk kultuur van vertaling en wanneer ’n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling byna altyd dadelik beskikbaar.

Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook opvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Standaardnederlands kan “verdwyn”.

Die akademiese, politieke en kulturele boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook bespreek. Op bl. 404 lees ons in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ’n grag gesmyt; “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18de- en 19de-eeuse werke het in die slag gebly.

Diegene met ’n goeie geheue sal onthou dat hierdie leser indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. Dit het daardie tyd – 1992, lank voor die dekoloniseringsdebatte hier te lande – wyd reaksie ontlok. My gevoel was dat ons selfstandig ontwikkel en ’n aparte taal en kultuur gevestig het.

Soos met enige boikot is dit egter so dat Nederlands sigself ook skade berokken het. Die taal het byvoorbeeld stadig maar seker uit skoolleerplanne verdwyn – dít terwyl die uwe as jong student aan die Universiteit Stellenbosch Nederlandse grammatika moes bestudeer en blootgestel is aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat. Boonop het ons die jongste uitvoerprodukte van transgressiewe tekste uit Amsterdam eerstehands ervaar.

Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) is dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee of wat dekades dat die herstel van bande plaasvind en die siening van Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal” opgehef word. Nederlands is vir jong studente vandag moeilik omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.

Ons lees egter op bl. 377 in Deel I straattaal – ’n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo (’n taal wat in Suriname gepraat word) en Papiamento (die taal van Curaçao, Aruba en Bonaire) – word in die algemeen deur Nederlanders afgekeur.

Die hoofstuk oor die ontstaan van Afrikaans – en die rol van taalverandering – is eweneens boeiend. Ons vind op bl. 425 onder andere Hans du Plessis se opmerking dat die Nederlanders en Khoi in 1652 ’n gemors van Nederlands gemaak het en daardie gemors se naam is Afrikaans. Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging is uiters insigryk, soos Du Plessis se opmerking op bl. 434 – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ’n kreolied is, maar nooit ’n pidgin was nie.

Die invloed van Khoi op Afrikaans danksy die studie van die groot navorser Johannes du Plessis Scholtz word veral gesien in geografiese benamings (soos Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo en Koup), plantname (boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie), diername (koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie) en ander soos abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos en kierie.

Afrikaans is in Mei 1925 as amptelike taal erken. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel . . . ’n lang pad van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 tot erkenning as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly.

Hierdie skrywer (en leser) verkies steeds die ou Bybelvertaling bo die on­poëtiese moderne vertaling. Gee my die dankpsalms in daardie oue, gewyde taal en soos ’n hert in dorre streke.

Toe ’n voormalige dekaan my onlangs vra hoe die Afrikaansdepartement deelneem aan “dekolonisering”, was my antwoord: Ons doen dit al 300 jaar lank. Ons het ’n eie taal en letterkunde en ons doseer nie net Standaardafrikaanse tekste nie, maar ook Karibiese letterkunde. En aan die Universiteit van Kaapstad het ons Nederlands teruggebring vir jong studente, wat veel plesier gehad het aan ’n besoek deur die skrywer Adriaan van Dis.

In Deel 2 word die geskiedenis van ons land onder die loep geneem. Uiteraard is die historiese aspek van enige land of kultuurgroep problematies en die verskillende standpunte oor Afrikaans aktiveer verskillende sienings oor Afrikaans as ’n taal van uitsluiting versus ’n meer inklusiewe benadering en ’n uitwys van historiese vergissings, soos onder andere Christo van Rensburg wat vra of die Kaap regtig Hollands was. En hoe verander die sosiale veranderinge tans ons siening oor waar Afrikaans werklik begin het?

Die invloed van apartheid op Afrikaans (en die sienings tans) het uiteraard die siening oor Afrikaans help vorm. Die geskiedenis wys egter Afrikaans was nog nooit net ’n “wit” taal of die taal van die onderdrukker nie. Die grootste probleem is waarskynlik dat die meeste deelnemers aan die debat bitter min weet oor die taal en sy ontstaansgeskiedenis.

Die tabelle oor die afskaling van Afrikaans aan universiteite (bl. 774-776) is tersaaklik vir die debat. Ook die kwessie van meertaligheid word bespreek – veral die politieke verskille oor taal aan die Universiteit Stellenbosch word ’n soort toetssaak.

Enige taaldosent sal ongelukkig Anton van Niekerk, ’n professor in filosofie, se opmerking op bl. 779 moet onderskryf dat studente nie iets vir Afrikaans voel nie: Studente voel inderdaad nie emosioneel oor “ons” taalverlede nie, terwyl ander meen Afrikaans se uitsluiting (of onsigbaarheid in klaskamers) kom neer op ’n keuse vir Engels en dat meertalige woordjies in ’n klas suiwer versiersuiker is. (Hierdie skrywer is wel ten gunste van meertaligheid, maar daar heers onsekerheid oor hoe dit met ’n veeleisende kurrikulum prakties in klasse toegepas kan word.)

Die feit bly staan: Suid-Afrikaanse universiteite is in Afrika en móét voorsiening maak vir mense wat nie Afrikaans magtig is nie (sonder die verlies van inheemse tale). Juis hierom het Engels die “toevlugtaal” geword, om Van Rensburg se term te gebruik.

Die studie gee ook erkenning aan bekende persoonlikhede buite die Afrikaner-binnekring (bl. 920), soos Jakes Gerwel. Sy invloed op Mandela is bekend (hy het verskeie Afrikaanse tekste aan hom deurgegee) en sy werk oor Karel Schoeman bly tersaaklik.

Die oorbekende stelling dat die geskiedenis altyd uit die hoek van die oorwinnaar geskryf word, hou beslis nie rekening met die werklikheid dat verskillende blikhoeke al vir etlike dekades in die Afrikaanse letterkunde beskryf word nie. Vele stemme word aangehoor en gelees. En in Deel 2 van hierdie biografie word geweldig baie gedoen om aan hierdie stilgemaakte stemme erkenning te gee.

Wat sê die biografie oor die toekoms van die taal? Soos Christo van Rensburg beklemtoon: Die entoesiasme oor “ons luister na Afrikaanse liedjies en reis na familie in verre lande wat Afrikaans praat” is emosionele uitsprake en niks meer nie.

Te veel respondente in die taaldebat het die ketel aan die tuit beet, by wyse van spreke. Het dit tyd geword om weer eerder ’n hiërargie van ingeligtheid te gebruik, soos om eerder te luister na Tom McLachlan of Rufus Gouws? In Carstens en Raidt se werk is oorgenoeg voetnote en endnote vir bewyse en verdere navorsing.

Ons leef in ’n tyd waar minderheidstale en Afrikaans se regte verander het na vóórregte.

Afrikaans sluit tans vele sprekers en skrywers in – van Kaaps tot Standaardafrikaans, van SMS-taal tot rymkletsers, van Dorslandtrekkers tot dwarstrekkers, van Afrikaans in die Bo-Kaap tot by die Oranje- en Kunenerivier, van Griekwa-Afrikaans (met Hans du Plessis se lieflike herdigtings) tot moderne digters.

Die ongelukkige werklikheid is dat Afrikaanse sprekers en skrywers steeds die invloed van apartheid beleef wat betref die toekoms van die taal en taaldebatte. Wat ’n jammerte, want die geskiedenis wys juis ’n groter geskakeerde prentjie uit dat Afrikaans nog altyd aan vele sprekers behoort het.

Carstens en Raidt se tweedelige biografie oor die taal is noodsaaklike leesstof vir enige persoon wat wil deelneem aan die gesprek oor Afrikaans. Dit getuig van enorme navorsing en sal bly staan as belangrike baken in ons taaldebat.

Nou ja, so lank as die kind in die tjalie lê, dan praat hy net soos jy! (En dit moet wragtie opgeteken word dat Tito Mboweni die Universiteit van Pretoria moes aanspreek oor die verlies aan inheemse tale.)

  • Prof. Joan Hambidge is ’n digter en romanskrywer wat in Standaardafrikaans skryf. Sy beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Wannie Carstens  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.