Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Distopie gestroop van vet en oordaad

Fanie Viljoen se ‘Offers vir die vlieë’  is tegelyk ’n spannende moordondersoek, ’n vlugvoetige aksieverhaal en ’n verhandeling oor die impak van oorlog op die psige van jong soldate, skryf Jonathan Amid.

Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen. Uitgewer: Lapa. Prys: R225.

Fanie Viljoen is iets van ’n jeugboeksjamaan wat met durf en deernis dikwels omstrede onderwerpe vir ’n jonger gehoor oopskryf. Hy skryf toeganklik oor hedendaagse kwessies sonder om prekerig of afgesaag te wees en talle van sy vorige boeke, soos Onderwêreld (2008), Pleisters vir die dooies (2014), Afkop (2016) en Donker web (2020), is blitsblaaiers wat jou wind uitslaan en jou laat dink en iets voel.

Viljoen is nie ’n skrywer wat “afskryf” na sy teikengehoor nie – hy poleer eerder sy verhale so dat dit die toets van geloofwaardigheid en outentisiteit slaag. Sy agtergrond as illustreerder en visuele kunstenaar kom handig te pas wanneer daar vir ’n aandag-afleibare gehoor geskryf word en dis opvallend hoe filmies sy skryfwerk is.

Wanneer gaan Showmax of Netflix byt aan Viljoen se nuutste, ’n waardige wenner van Lapa se jeugromankompetisie in 2019?

Alfa Opleidingskamp is waar die walglike tiran sers. Torsten 30 jong mense meedoënloos dril vir ’n jaar totdat daar slegs ses van hulle oor is.

Eliam is een van die ses wat oorbly – uit die 30 is twee dood en een verlam, met geen sekerheid oor wat van die ander geword het nie. Sy verhouding met Torsten is een van die roman se eerste, belangrikste fondamente.

Die haatlike Torsten word een aand deur een van die ses soldate doodgesteek, moontlik deur Eliam self.

Die verhaal is tegelyk ’n spannende ondersoek na dié moord, ’n verhandeling oor die verwoestende impak van oorlog en indoktrinasie op die psige van jong soldate, en ’n vlugvoetige aksieverhaal danksy Viljoen se minder-is-meer-benadering. Kort, kragtige hoofstukke met paragrawe wat elkeen ’n volgende prik van die naald verskaf, lei uiteindelik tot ’n soort woorde-tatoeëermerk wat geskep word.

Jy hou elke oomblik van die karakters se waansin, pyn, onsekerheid en vrees dop en sien teen die einde presies hoe strategies die skrywer te werk gegaan het. Hy skep ’n volkome oortuigende distopie gestroop van oortollige vet en oordaad.

Daar is ’n baie goeie rede waarom tieners so gaande is oor Suzanne Collins se Hunger Games-trilogie en Viljoen se boeke. Die distopiese wêreld wat dié skrywer skep waarin die jong helde ’n verskeidenheid uitdagings moet trotseer en die oorgang na volwassenheid maak, oorvleuel sterk met die onsekerheid en verskeie konflikte van die tienerwêreld.

Dit is konflikte wat nie net handel oor ’n wêreld wat ál vinniger verander en ál moeiliker word om suksesvol te navigeer en te “lees” nie, maar ook die konflik met die self. Die binne-argumente wat gevoer word oor wie ons is, wie ons wil wees, en wat ons doel op aarde is, woed veral sterk wanneer jong mense probeer uitpluis hoe om met institusionele orde en gesag om te gaan.

Wat Viljoen met Offers vir die vlieë doen is om ’n oorlogsverhaal te pen vir ’n nuwe geslag wat nié op die grens gaan veg het nie. ’n Geslag met ouers en grootouers wat oorlog beleef het en so dikwels nog die letsels van daardie geveg binne en buite dra.

Offers vir die vlieë neem die idee van oorlog – en die breë idee van konflik met ’n duidelik bepaalbare vyand – en setel dit in ’n distopiese konteks waar daar ewe veel te sê is oor die futiele aard van oorlog as oor die aard van die mens self.

Dit is ’n roman oor kindersoldate, indoktrinasie, magsvergrype, magsug, hebsug, die versugting om sterker en slimmer en meer vaardig as die vyand te wees. Die begeerte om ten alle koste weer en weer terug te baklei. Die tragiek van drome wat oorleef word, en dromers wat hopeloos te jonk sterf. Uitsiglose bestaan en naakte vrees teenoor weerloosheid en barmhartigheid. Die opofferings wat dit verg om ’n stelsel op te bou en aan die gang te hou.

By tye laat Offers vir die vlieë ’n mens dink aan internasionale treffers soos The Hunger Games, Fahrenheit 451, Catch-22 en The Handmaid’s Tale en tog is dit geensins die geval dat Viljoen dit ooglopend probeer naboots of gegewens dupliseer nie. Hierdie offer staan nie ’n tree terug nie.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.