Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dit gaan lees laat dit ril!

Rillers is ’n groot gunsteling by laerskoolleerlinge in ’n tyd wat kinders baie kieskeurig is oor wat hulle lees.

Daarom hoop die jeugboekskrywer De Wet Hugo dat sy “ander heerlike, grillerige idees” ook stories sal word in sy nuwe Grilgrypers-jeugboekreeks.

Met die reeks, waarvan die eerste drie boeke reeds voltooi is, wil hy juis ’n liefde vir lees by kinders vestig.

Die vloek van Vreesbaai deur De Wet Hugo.

Die eerste boek, Die vloek van Vreesbaai, het onlangs by Human & Rousseau verskyn en is gemik op lesers van nege tot 12 jaar.

Hugo is ’n laerskoolonderwyser by ’n Britse skool in Djedda, Saoedi-Arabië, waar hy al agt jaar woon.

“Die feit dat kinders van rillers hou, het my gemotiveer om ’n vollengte kinderboek te skryf wat hulle goed sal laat ril. Ek was met vakansie by my ouers op Kleinmond (waar hulle afgetree het en hy self ook ’n huis gekoop het) toe ek een middag gaan stap en die idee skielik by my opgekom het. Dit het natuurlik baie ontwikkel soos ek geskryf het.”

Hugo sê die reeks is baie meer op vermaak as verskuilde boodskappe of simboliek gerig.

In Die vloek van Vreesbaai kom ’n 13-jarige seun nuut op ’n mistige dorp aan waar daar vreemde dinge gebeur. Hy sien dinge wat hom bang maak en mettertyd vind hy uit hy is nie die enigste kind wat vreemde goed sien nie. Almal se vrese verskil egter.

“Met die boek het ek glad nie aan simboliek gedink nie,” sê Hugo. “Vir my was dit belangrik dat elke karakter ’n vrees moes hê wat by sy persoonlikheid pas en dat dit die storie opwindend en interessant vir die leser moet maak. Maar ek dink dit is wonderlik hoe simboliek soms, of dalk gereeld onbewustelik by ’n storie of gedigte insluip. Dit laat lekker gesprekke ontstaan, veral in die klaskamer.”

Web van die mummie deur De Wet Hugo.

Die ander twee boeke in die reeks heet Web van die mummie en Kamp vir monsters. Die verskillende boeke in die reeks bestaan uit heel ander karakters en hoef dus nie in ’n spesifieke volgorde gelees te word nie.

“Ek dink dis wonderlik dat ander skrywers boeke skryf wat kwessies behandel of onbewustelik lesse vir die jong lesers leer, maar met my boeke is die fokus beslis op vermaak en die bevordering van lees onder laerskoolkinders, ook dat seuns en meisies dit ewe veel sal geniet.”

De Wet Hugo

Hugo, wat self van rillers hou en Stephen King gereeld lees, het in 2010 ’n skryfkursus van die kinderboekskrywer Marianna Brandt bygewoon en het daarna probeer om verskillende genres in kinder- en jeugboeke aan te pak, maar kon nooit verder as hoofstuk een vorder nie.

“Dit was asof ek elke keer belangstelling in my eie storie verloor het . . .”

Toe sien hy in 2015 ’n advertensie van Tafelberg Uitgewers waar stories voorgelê kom word vir ’n bundel bangmaakstories vir volwassenes genaamd Skrik op die lyf.

Hy het hom toe voor sy rekenaar tuisgemaak en binne ’n paar uur was twee kortverhale klaar geskryf.

Albei die verhale het die kortlys vir die bundel gehaal en Hugo het besef ’n riller is moontlik sy genre.

Hy neem sy klas een keer per week na die biblioteek.

Kamp vir monsters deur De Wet Hugo.

“Ek doen moeite om hulle te help om boeke te vind wat handel oor onderwerpe van krieket tot kookkuns waarin elkeen van hulle spesifiek belang stel. Vandag se kinders is bevoorreg om groot te word in ’n tyd dat hulle maar kieskeurig kan wees oor wat hulle wil lees wanneer hulle vir ontspanning lees, want daar is heerlike boeke beskikbaar oor amper elke soort ding onder die son. Natuurlik bly R.L. Stine se Goosebumps-reeks ’n gunsteling en nadat ons elke week boeke gekies het, moet ek vir hulle uit een van sy boeke voorlees.”

Meer oor:  Stephen King
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.