Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dít is 2020 se gewildste Afrikaanse boeke

Die gewildste Afrikaanse boeke volgens verkope is in ’n nuwe verslag deur Nielsen Bookscan SA bekend gemaak. Christiaan Boonzaier het met ’n paar skrywers van verlede jaar se topverkoper-boeke gesels oor die druk wat prestasies oplaai, boeke wat sonder resensies presteer, en die opgang van Afrikaanse kinder- en jeugboeke. 

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

As jy gewonder het watter Afrikaanse boeke die meeste in 2020 opgeraap is, het Nielsen Bookscan SA (NBS-SA) vir jou ’n antwoord.

NBS-SA, wat sedert 2003 verkoopsyfers by algemene boekhandelaars en e-handelaars versamel en ontleed, het oudergewoonte weer ’n jaarverslag uitgereik wat die jaar se boekverkope in Suid-Afrika saamvat.

Dié verslag bevat onder meer ’n ranglys van die 100 Afrikaanse boeke wat boekvrate die meeste tussen 30 Desember 2019 en 3 Januarie vanjaar aangeskaf het. Die top-20 word in die grafika hieronder gelys.

Die misdaadskrywer Deon Meyer sê hy was daarvan bewus dat sy jongste spanningsroman, Donkerdrif, in die eerste paar weke ná die boek se uitreiking in November “goed” gedoen het, maar nié dat die boek boaan die ranglys van Afrikaanse topverkopers is nie.

“Dit is uiteraard ’n lekker verrassing wat my diep dankbaar maak vir dié ondersteuning van Afrikaanse lesers en boekverkopers.

“ ’n Mens hou maar altyd asem op, want elke boek is ’n onsekere sprong die onbekende in en jy weet nooit hoe dit ontvang gaan word nie.”

Lesers het 29 813 eksemplare van die boek gekoop, wat nie net vir Meyer die boonste plek op die ranglys van Afrikaanse topverkopers besorg nie, maar ook die boonste plek op ’n bykomende ranglys van die 100 boeke, ongeag taal, wat die meeste in Suid-Afrika verkoop is. Barack Obama, voormalige Amerikaanse president, se jongste memoire, A Promised Land, is met verkope van 14 166 eksemplare tweede op dié bykomende ranglys.

“Dit is interessant dat ek vir meneer Obama die loef kon afsteek. Sy vrou, Michelle, het enkele jare gelede weer vir my nederig gehou toe haar Becoming my op die ranglyste uitgestof het. Dit is nou Meyers: 1, Obamas: 1,” sê Meyer grappenderwys.

“Ek lees terloops juis nou A Promised Land, en is diep onder die indruk van watter goeie skrywer hy is.”

Meyer sê ranglys-prestasies laat hom “nie bloos nie, dit laat my net met groot dankbaarheid – en die bewussyn dat dit die druk laat oplaai om met die volgende boek lojale lesers nie teleur te stel nie. Boonop help Nielsen-syfers, soos literêre pryse, ’n mens net mooi niks wanneer jy weer voor die leë bladsy sit nie.”

Sophia Kapp Foto: Argief

Die skrywer Sophia Kapp beklee met haar eerste historiese roman, Kanaän, die tweede plek op die ranglys van Afrikaanse topverkopers.

Kapp sê dit is vir ’n enkelma wat universiteitsgeld moet betaal altyd goeie nuus as ’n boek goed verkoop, maar Kanaän se gewildheid was vir haar meer spesiaal as net sy finansiële sukses.

“Dit is ’n storie met baie nou verbintenisse met my eie familiegeskiedenis – nie die karakters en die plot nie, maar veral die plek kom uit my eie verlede.

“My pa se herinneringe aan sy oupa se plaas was die sneller vir die boek, en ek kon baie sterk leun op sy mymeringe oor die verlede toe ek die boek geskryf het. Dit was ’n soort erkenning aan my familie en ’n vasskryf van hul syn, van hul deel wees van hierdie land en hierdie vasteland.

“My pa is intussen oorlede, en ek is dankbaar dat hy die geleentheid gehad het om die boek se sukses voor sy dood te sien.”

Boekvrate het 3 635 eksemplare van die boek opgeraap, ondanks die stelling dat die boek nie wyd in die hoofstroommedia geresenseer is nie. Jonathan Amid, ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch, het in die Facebook-groep Lekkerleesboekrak geskryf Kanaän word “in die media en in terme van resensies afgeskeep”.

Kapp sê dit was nie vir haar verbasend dat dít die geval was nie.

Kanaän is ’n liefdesverhaal, en liefdesverhale is nog nooit as letterkunde of deel van die kanon beskou nie. Dit is aan die verander, maar die opvatting is steeds maar eintlik dat liefdesverhale minderwaardige skryfwerk is. Ek skryf dus eintlik nie met die verwagting dat enige van my boeke geresenseer gaan word nie, en as dit gebeur, is ek altyd ’n bietjie verstom.

“Maar ek dink ook die ‘plek’ van resensies in die boekewêreld is aan die verskuif. In die digitale omgewing waarin ons leef, het ‘gewone’ lesers ’n mening en ’n platform om dit te lug. Lekkerleesboekrak en Goodreads doen myns insiens baie meer vir boekverkope as resensies in die tradisionele gedrukte pers.

“Dit beteken glad nie dat boekresensies onbelangrik is nie, dit beteken gewoon dat dit ’n ander rol as bemarking vervul – dit plaas myns insiens ’n boek binne die Afrikaanse kanon – en ’n mens hoef jou nie te verknies daaroor as jou boek nie geresenseer word nie.”

Kanaän is ’n liefdesverhaal, en liefdesverhale is nog nooit as letterkunde of deel van die kanon beskou nie. Dit is aan die verander, maar die opvatting is steeds maar eintlik dat liefdesverhale minderwaardige skryfwerk is.
Sophia Kapp

Sy sê Kanaän se mylpaal, ondanks “die gebrek aan formele erkenning”, verskaf haar tog ’n “bietjie (baie) binnepret”.

“Die opvatting is mos dat ’n werk swaarmoedig en polemies moet wees voordat dit in Afrikaans as invloedryke skryfwerk bestempel kan word. Ek dink Deon het daardie opvatting met elke boek van hom al deeglik verkeerd bewys, maar hier is nou ’n liefdesverhaal wat dit ook doen. Ek kry sommer namens al die ander skrywers van liefdesverhale lekker.”

‘Enige goeie nuus vir die boekbedryf is welkom’

Die skrywer Rudie van Rensburg sê ook hy is “uiteraard verras” oor goeie verkope. Van Rensburg het nie net vier boeke onder die top-100 nie, maar drie daarvan – Hans gee Herklaas horings (vierde), Hans steek die Rubicon oor (agtste) en Merk (negende) – is onder die top-tien. Vloek is in die 46ste plek.

Rudie van Rensburg. Foto: Argief
Rudie van Rensburg. Foto: Argief

“Elke skrywer strewe seker daarna (goeie verkope),” sê hy.

“My ingeboude selftwyfel oor my boeke laat my gewoonlik nie vooraf sulke verwagtinge koester nie. Dit is dus elke keer lekker en bevredigend om te hoor ’n boek van my is gewild.”

Van Rensburg sê hy vermoed dít wat hy as joernalis geleer het – om sonder tierlantyntjies of mooiskrywery te skryf – asook ’n weldeurdagte storielyn, maak lesers verknog aan sy boeke. Die akteur Tobie Cronjé se voorlesings op RSG van sy Hans-boeke het ook ’n aandeel in die gewildheid.

“Tobie se skitterende voorlesings van albei my humoristiese boeke op RSG het beslis baie gehelp om die Hans-karakter gewild te maak. Tobie het Hans ’n eiesoortige stem gegee. En dié omie wat op eie terme oud word, vind nie net deur sy dade nie, maar ook deur Tobie se toedoen, aanklank by die luisteraars en uiteindelik lesers.”

Benewens Van Rensburg spog Chanette Paul ook met vier boeke onder die 100 Afrikaanse topverkopers – Vywervrou: Corali (vyfde), Vywervrou: Mirre (24ste), Droomvanger (33ste) en Vywervrou: Lira (35ste) – terwyl 13 boeke uit die pen van die kinderboekskrywer Jaco Jacobs op die lys boer, die meeste onder al die skrywers.

“Dit is natuurlik wonderlike lekker nuus!” sê Jacobs.

“Laas jaar was, ook vir die boekbedryf, ’n ongelooflik uitdagende jaar, en skrywers, uitgewers en boekhandelaars is almal benoud oor die uitwerking van die pandemie, veral op lang termyn.

“Gewoonlik besoek ek in ’n jaar talle skole in die land, en dit kon natuurlik die afgelope jaar nie gebeur nie, wat ook ’n invloed op bemarking het. Enige goeie nuus is dus in dié stadium baie welkom.”

Die NBS-SA-verslag toon dat fiksie (vir volwasse lesers) die gewildste genre onder Afrikaanse lesers in 2017, 2018 en 2019 was. Afrikaanse kinder- en jeugboeke het egter in 2020 dié titel by volwasse fiksie weggeraap. Jacobs sê dit is moeilik om te sê wie die onbesonge helde is wat vir dié prestasie verantwoordelik is, maar hy vermoed die staat van inperking het iets met die opgang van Afrikaanse kinder- en jeugboeke te doen.

Die NBS-SA-verslag toon dat fiksie (vir volwasse lesers) die gewildste genre onder Afrikaanse lesers in 2017, 2018 en 2019 was. Afrikaanse kinder- en jeugboeke het egter in 2020 dié titel by volwasse fiksie weggeraap.

“Ek is self ’n pa van twee dogtertjies – agt en ses jaar oud – en met skole wat lank gesluit was en kinders wat tuis moes onderrig kry, was ouers baie bekommerd oor hul kinders se akademiese vordering. So, as daar onbesonge helde in die bedryf is, is ouers waarskynlik onder hulle.

“Dit is nie maklik om skielik jou kind tuis te moet onderrig nie, en ek haal my hoed af vir elke ouer wat dit tydens die pandemie moet of moes doen. Ouers het dalk in dié tye meer geld en tyd daaraan bestee om kinders te laat lees – altans, dit is wat ek hoop – en dit is fantasties. ’n Liefde vir lees en boeke bly die heel belangrikste instrument wat jy enige kind kan gee as dit kom by sy of haar akademiese vordering.”

Meer oor:  Sophia Kapp  |  Rudie Van Rensburg  |  Vloek  |  Rsg  |  Barack Obama  |  A Promised Land  |  Becoming  |  Michelle Obama  |  Pandemie  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Jaco Jacobs  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Inperking  |  Boeke  |  Deon Meyer  |  Donkerdrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.