Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dit lees lekkerder as 007

Jonathan Ancer se ‘Betrayal’ is ’n veelvlakkige, indringende boek waarin hy die leser bekend stel aan ’n magdom Suid-Afrikaanse spioene en wat hulle gemotiveer het om ’n dubbele lewe te lei, skryf Theunis Engelbrecht.

Betrayal: The Secret Lives of Apartheid Spies deur Jonathan Ancer. Uitgewer: Tafelberg. R285.

Dis nie om dowe neute nie dat spioene in Afrikaans ook loervinke, snuffelrotte, sluipjanne, loerbroers, heuningholle, heuningvinke, koekeloerders en tweegatjakkalse genoem word. (Sommige is selfs driegatjakkalse). Wie sal nie graag ’n onthullende boek oor hulle wil lees nie?

Jonathan Ancer se vorige publikasie, Spy: Uncovering Craig Williamson (2017), het op dié superspioen van die apartheidsjare gefokus. ’n Vinnige kykie na die inhoudsopgawe van sy nuutste, Betrayal, laat ’n mens se mond by voorbaat water, veral hoofstuk 6 met die titel “Williamson answers back”. Vier dae nadat Spy destyds die winkelrakke getref het, het Williamson sy eie “resensie” daarvan aan Ancer gestuur. Dit word volledig in Betrayal opgeneem saam met ander vertellings van Ancer oor sy kontak met Williamson sedert die publikasie van Spy.

Ancer skryf nie net oor spioene wat vir die apartheidsregering gesnuffel en gekonkel het nie, maar ook ANC-spioene en hoe hulle inligting oor Suid-Afrika in die apartheidsjare bekom het. Daar is selfs die fabelagtige verhaal van Jennifer Miles, ’n voormalige skoonheidskoningin van Kimberley wat vir Kuba gespioeneer het. Sy is as verleidelike heuningholletjie ingespan wat saam met talle potensiële bronne en teikens in die kooi gespring het om hulle in die ban van haar betowering vas te vang. (Oor dié buitengewone hoofstuk kan ek nie meer sê sonder om die leesplesier te bederf nie.)

En moenie vir ’n oomblik dink dis net vroue wat so gebruik is nie. Karl Edwards was in die 1970’s en 1980’s ’n lid van die destydse veiligheidspolisie in die Oos-Kaap, een van die wreedaardigste takke wat verantwoordelik was vir talle voorvalle van marteling, verdwynings en moorde op plaaslike aktiviste. Baie spioene is destyds op die kampusse van die universiteite van die Witwatersrand en Kaapstad asook Rhodes geplant om die strukture van die National Union of South African Students (Nusas) te infiltreer. As een van die min aantreklike spioene het Edwards vroue laat swymel en om meer as net sy pinkie gedraai, maar natuurlik ook talle ander bose planne in die mou gevoer.

Onder die ander spioene oor wie geskryf word, tel Gerard Ludi (wat vir Bram Fischer verraai het), Roland Hunter (wat toevallig ’n spioen vir die ANC in die destydse militêre intelligensie geword het) en Robert Whitecross (wat vir Carl Niehaus en Jansie Lourens verraai het). Daar is ook hoofstukke oor Dieter Gerhardt, wat byna twee dekades as hoë offisier in die Suid-Afrikaanse Vloot vir Rusland gespioeneer het, Gordon Brookbanks, Joy Harnden, Vanessa Brereton, die skrywer Mark Behr en Olivia Forsyth. Laasgenoemde het self ’n paar jaar gelede ’n boek oor haar ervarings as spioen die lig laat sien. Dis baie interessant om Ancer se ontleding van haar boek te lees en hoe hy heelwat van haar inligting as vals of ongegrond bewys.

Oor elke geval waaroor Ancer skryf, vra hy homself af: Wat verg dit van ’n mens om ’n spioen te wees? Om ’n dubbele lewe te lei en selfs die mense heel naaste aan jou te mislei? Wat motiveer jou? Hoe leef jy met jou gewete saam, indien jy wel een het?

’n Sterk pluspunt van Betrayal is dat Ancer moeite gedoen het om die oudspioene op te spoor oor wie hy skryf (en wat nog leef) om antwoorde op hierdie vrae te kry.

Teen hierdie tyd behoort dit duidelik te wees dat Betrayal ’n veelvlakkige, indringende boek is wat enorme leesplesier bied danksy Ancer se meesleurende manier van vertel. Die skemerwêreld van sluipjanne en snuffelrotte is glad nie so glansryk soos dié van James Bond nie, maar dis heelwat lekkerder – en insiggewender – om Betrayal te lees as om ’n 007-fliek te kyk – en boonop is dié stories nie uit die duim (of murgbeentjie) gesuig nie.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en joernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.