Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dit wat André Brink dryf

‘André P. Brink en die spel van liefde’ val oop soos ’n riller wat enduit boei. Leon de Kock slaag met durf en vaart daarin om ’n komplekse man te verbeeld – een wat op byna bomenslike skaal sy drifte laat botvier het vir woorde, verhale én vroue, skryf Jean Meiring.

André P. Brink in 1993 in Frank­ryk. Foto: Ulf Andersen, Getty Images
Getty Images

André P. Brink en die spel van liefde deur Leon de Kock. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R350.

Die nood is hóóg.

Maande lank reeds brand lesers om Leon de Kock se veelbesproke oopskryf van André P. Brink se berugte lewe onder oë te neem.

Op die elegante stofomslag tuur Brink, op die kruin van sy loopbaan, die kamera amper vol in die oog. Op sy lippe talm ’n sin. Dit is asof hy voorbehoedend wil waarsku: Moenie áls glo wat hier, uit die argief opgediep, as die waarheid voorgehou word nie.

In ’n band wat meer as 350 bladsye beslaan – uitgesluit ’n verdere gerf piepklein eindnotas – neem De Kock, akademikus, digter en vertaler, die lewe van sekerlik een van Suid-Afrika se rysigste literêre suile, in Afrikaans sowel as Engels, noukeurig en aandagtig in oënskou.

Die uitgewer se biljetteks maak daarop aanspraak dat hierdie werk “die heel eerste biografie” oor Brink is. Tog kan dít nie sonder kwalifikasie gesê word nie, want die afgelope dekade kreun die rakke onder boeke oor Brink. In 2009 verskyn uit sy eie pen die memoires ’n Vurk in die pad en in 2015 sien Vlam in die sneeu die lig – ’n bundeling van die briewe wat in die vroeë 1960’s tussen Brink en sy minnares Ingrid Jonker verwissel is (onder redaksie van Francis Galloway). In 2017 skryf Brink se weduwee, Karina, The Fifth Mrs Brink, eweneens memoires.

Hierby kom Brink se hoeveel reisboeke en ander niefiksie wat heelwat dunverniste biografiese materiaal bevat – om nie te praat van etlike van sy romans wat sterk op sy lewensfeite steun nie. Die ooglopendstes is waarskynlik Orgie (1965), wat op sy verhouding met Jonker geskoei is, Miskien nooit (1967), wat uit Breyten Breytenbach se Paryse dakkamer oopwaaier, en States of Emergency (1988), oor sy liefdesverhouding met sy vierde vrou, toe hy nog met nommer drie getroud was. Juis omrede sy négligé-dun fiksionalisering is laasgenoemde nooit in Afrikaans oorgesit nie.

’n Vriendin sou eenmaal verwoord wat baie mense dink: ‘Sy voël ja hom rond.’

Derhalwe, toe De Kock ná Brink se dood (hy het gepas op ’n vlug tussen Europa en Suid-Afrika gesterf met die lourier van nóg ’n eredoktorsgraad op sy hoof) besluit om sy lewe op te teken, het hy self voor ’n vurk te staan gekom.

Hoe op dees aarde beskryf ’n biograaf tog iemand wie se lewe reeds op soveel bladsye neerslag gevind het? Aanvanklik het De Kock beoog om ’n boek oor die formele aspekte van Brink se werk te pen. As deus ex machina tree die weduwee Brink egter op die toneel.

“[N]adat [sy] toegang gegee het tot die joernale” – dagboeke wat Brink vir meer as vyf dekades vanaf sy matriekjaar, 1952, bygehou het (bl. XII) – en De Kock “baie maande lank met hulle gesit het”, het hy besef “dit is uiters belangrik om ’n boek te skryf wat Brink se eie, dringendste belange [sic] weergee, gegrond op sy eie optekeninge oor homself en sy doen en late” (bl. XV).

Sodoende, met behulp van byna een miljoen van Brink se eie handgeskrewe woorde, pak De Kock die leeuetaak aan om die essensie van die genre van die literêre biografie te verwesenlik. Soos Michael Benton in sy boek Literary Biography opmerk: Die subjek van die literêre biografie bied “the prospect of access, however limited or illusory it may turn out to be, to the workings of the creative imagination” (bl. 2).

Ook, meld De Kock, beoog hy om op dié manier ’n bydrae te lewer tot die studie van die genre lewensbeskrywing, wat ’n kernrol in die Suid-Afrikaanse letterkunde vervul.

Dít is dan De Kock se procédé.

Die stapels joernale gebruik hy as vertrekpunt. Die basiese boustene vir sy biografie is aangehaalde grepe daaruit, wat De Kock telkens krities in konteks plaas. Sodoende bejeën hy Brink se opgeskryfde belewenisse teen die agtergrond van die bekende feite oor sy lewe en in die lig van sy skryfwerk.

Waar Brink in die skryf van ’n Vurk in die pad uit die aard van die saak sekerlik ten dele op die joernale moes staatmaak, is die prisma waardeur hul inhoud hiér herlei word meesal De Kock se beoordelende en afwegende buiteoog. Trouens, hy vertel juis nie ’n tweede keer wat elders reeds deeglik gedek is nie.

Ook soms – maar dalk minder as wat lesers sou verwag – messel hy die perspektief op gebeure van sekere van die dramatis personae in. Dié betreklike skaarste is waarskynlik te wyte aan die gerugte van reën wat geruime tyd al die ronde doen – van betrokkenes wat óf met stilstuipe óf met die dreigement van regsgedinge op De Kock se toenadering reageer.

Waar hy dit wel doen, soos byvoorbeeld deur die teenstemme van Wilhelm Liebenberg en ene Lise, verkry die teks oombliklik ’n ekstra laag tekstuur.

Kortom, sonder dat Brink onverdun aan die woord gestel word, bepaal die dagboeke tog die kontoere van die boek.

Aangesien die dagboekskrywery eers in Brink se finale skooljaar ’n aanvang neem, is dít ook waar die biografie formeel begin. Tog, op grond van onder meer herinneringe wat Brink elders neerpen, kaats De Kock sy oog ook verder terug. Só verskyn daar netjies omlynde psigobiografiese kamees van sy ouers, wat na sy kleintyd teruggryp. Daar ontbreek egter die uiteensetting van bloedlyne so kenmerkend van onder meer J.C. Kannemeyer se biografieë. Van Brink se drie sibbes is dit slegs sy ontslape skrywersuster Elsabe Steenberg wat rakelings figureer.

In die eerste hoofstuk reeds kom die sentrale patroon te voorskyn wat die boek rig en boonop in die titel gesuggereer word. Immer is daar ’n spanningslyn tussen Brink se skryfwerk en sy meesal malle najaag van seksuele vervulling. As sy hartensboot op stormwaters kantel, skryf hy vervaard sy joernaal vol. As die see kalm kimwaarts strek – wat nie alte dikwels was nie – skryf hy beuselagtighede op.

As laasgenoemde die geval is, soos byvoorbeeld vir die grootste deel van die 1990’s, toe hy met sy vierde vrou in die eg verbind was, maak De Kock desnoods meer pertinent op buitebronne staat.

Deurgaans, oor berge heen en dale deur, is Brink se lewe opgedra aan “ ’n oënskynlik eindelose oorgawe aan Eros, ’n drang wat hy uitgeleef het in erotiese verhoudings met vroue van vlees en bloed én in hul dienooreenkomstige literarisering [Brink se nuutskepping] in sy joernale en fiksie” (bl. 294).

In die eerste periode, sy pril jare, staan sy literariseringsvlugte veral skerp en hoekig uit. Tog, ten spyte daarvan dat hy gaandeweg ’n toringende internasionale reputasie verwerf, bly iets van daardie kleintydse ongeholpenheid hom tot die einde by.

’n Onsimpatieke vriendin sou eenmaal verwoord wat baie mense toe (en steeds) dink: “Sy voël ja hom rond” (bl. 103). Al hou De Kock die joernale se punteneurige lakenbeskrywings onder die maatemmer, sal lesers met brose gemoedere se koppe nogtans duisel. Soos voorheen sal daar ongeloof en afguns wees.

Tereg hanteer De Kock vir Brink met ’n gesonde vervlegting van oordeel en piëteit. Hy verbeeld met durf en vaart en groot behendigheid ’n uiters komplekse man wat op byna bomenslike skaal sy drifte laat botvier het – vir woorde en verhale én vir vroue in ’n wêreld voor #MeToo. Veral oor sy omgaan met vroue, ook op papier, staan Brink se kritici nie terug nie.

En dalk omdat De Kock juis nie die heilige graal van volledigheid nastreef nie – Brink se akademiese trajek op Potchefstroom en later as dosent word karig beskou – is dit ’n boek wat soos ’n riller oopval en enduit boei.

Benewens die warboel minne- en boekverhale – waaronder ook ’n kleurryke episode oor ’n uitval met Breyten Breytenbach – speel die land se veelbewoë politiek natuurlik deurgaans ’n leidende rol. Brink se ontwikkeling van Afrikanerseun wat dr. D.F. Malan grootoog gadeslaan tot uitgeworpene uit die laer word ellipties dog oortuigend geskets.

Met Brink as fokalisator word hierdie ook die biografie van die verbluffende wasdom van ’n buitengewone klein letterkundetjie.

Weens die belangrikheid van dié boek is dit tog nodig om sekere gebreke uit te lig. Die anoniem maak van sommige persone is seker deels te verstane. Tog, in vandag se tydsgewrig is privaatheid as sodanig nie in alle gevalle ’n voldoende verskoning hiervoor nie. In die geval van Brink se vierde vrou val dit veral vreemd op. Haar identiteit is bekend en geboekstaaf en ’n internetsoektog lewer dit tjoeftjaf op. Boonop sal die binnekring lustig met die versluierdes “Dis my geheim” speel.

Die Afrikaanse vertaling, deur Tinus Horn en De Kock self, makeer ongelukkig baie van die oorspronklike Engels se subtiliteit en nuanses. Trouens, dit is by tye effe log; dit bevat ook heelwat woorde wat vir die Afrikaanse oor vreemd opval, soos byvoorbeeld voorbeduiding (pleks van voorafskaduwing) en papiere (pleks van dokumente).

Ongelukkig is daar in die Afrikaanse teks ook heelwat wanvertalings (soos byvoorbeeld vakliteratuur op bl. XI vir non-fiction) en enkele kontinuïteitsglipse (op bl. 22 ontvang Brink in April 1952, “net twee weke voor sy 17de verjaarsdag op 29 Mei” ’n brief; in die Engels is dit “just a few weeks before”).

Ook sou die indeks netjieser kon wees. ’n Tweede druk sal hopelik die kans bied om sulke gebreke op te klaar.

Maar enkele onooglike toiings of te nie, De Kock se boek is noodsaaklike leesstof. Dit priem Brink oop soos min ander biograwe op Afrikaans al met ’n skrywer se skeppende binnewêreld kon regkry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.