Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Doemprofete stil geskryf

Ruan Kemp se op-die-man-af debuutroman, ‘Gedeeltelik bewolk’, is vol geil Afrikaans en bied heelwat om oor te glimlag of selfs hardop te lag. Vir Fanie Olivier is dit ’n voorlopige hoogtepunt van 2019 wat, ondanks enkele kleinighede, ’n breë leesgehoor verdien.

Ruan Kemp, ’n mynbou-ontleder met grade in die joernalistiek, onderwys en ingenieurswese, woon op Hermanus saam met sy vrou en drie seuns. Foto: Brenda Veldtman

Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R320.

Hoe goed dit met Afrikaans gaan, al beweer die doemprofete anders, word telkens bevestig deur nuwe prosa­debute en die verbasende getal digbundels wat steeds verskyn.

Ruan Kemp se Gedeeltelik bewolk is nog so ’n debuut waaroor ’n mens opgewonde kan raak. Volgens ’n nota agterin die boek is die skrywer in 1978 gebore (“toe PW aan bewind gekom het”), wat beteken dié roman kan nie as ’n vroeë debuut beskou word nie. Groot dele speel egter af voordat hy 20 sou wees, wat die outobiografiese element weer uitskakel.

Die eerste belangrike faktor wat die leser daarmee saam in gedagte moet hou, is die subtitel, “ ’n Lewensbeskrywing van ’n mal man”. ’n Moontlike leesverwagting is dat dit ’n vertelling déúr die mal karakter kan wees, met al die gepaardgaande probleme rondom hoe die persoon die storie logies sou kon vertel.

Dit is egter nie die skrywer se bedoeling nie. Dit is nie die hoofkarakter self wat aan die woord is nie, maar ’n vertelinstansie wat die boeiende, ontstemmende en hoogs vermaaklike verhaal grootliks deur die perspektief en ervarings van die hoofkarakter, George Moore, vertel.

’n Lekkerleesboek, met ruimer konteks.

Daar is ’n tweede sleutel vir ingeligtes en mense wat in die vroeë 1970’s op Stellenbosch studeer en daarna in die Kaapse literêre en koerantwêreld vriende gehad het. Dit is die opdrag: “In memoriam: D.B.” Dit is nie die resensent se verantwoordelikheid om hierdie verwysing verder toe te lig nie, maar diegene wat die kloutjie by die oor bring, sal ’n geweldige stuk biografiese kennis met die lees saambring en daardeur aspekte van die roman met persoonliker empatie lees. Of met ongemak. En dalk met meer begrip.

Enige historiese roman is, op stuk van sake, ook die verslag van ’n stuk persoonlike lewe, fiktief of minder fiktief ingeklee. Dit is George se lewe en dié mense met wie hy omgaan. Verder sorg die skrywer dat die roman voortdurend gemerk word deur historiese verwysings, soos dat die hoofkarakter in die jaar van Jan Smuts se dood, dus 1950, gebore is. Die merkers, baie sekerlik nie meer bekend by lesers onder 40 nie, sorg dat die verskillende fasette van George se lewe chronologies agterhaalbaar word, hoewel die vertelling nie so verloop nie.

Gedeeltelik bewolk word in vier afdelings verdeel. Die eerste, “Restant”, is chronologies die jongste: 2008-2009; die laaste, “Remissie”, dek die jare tussen 1991 en 2008. Remissie is ’n begrip wat natuurlik sterk onder meer binne die sfeer van sielkundige behandeling tuisgebring kan word, soos dit ook die geval is met die titels van die middelste twee afdelings, “Anamnese (1960-1974)” en “Katabasis (1975-1990)”.

Hierdie strukturele aard van die roman beteken die leser pak die lewe van George Moore amper soos ’n legkaart inmekaar, maar sonder om die finale, of selfs die hele prentjie, te sien. Ons leer hom ken as seuntjie van Blyverby, sy geboortedorp, en Knoxfort, sy grootwordplaas, in die Noord-Kaap, hoërskoolseun op Upington en student op Stellenbosch. Hierop volg ’n myns insiens onnodige verblyf in Duitsland om die Baader-Meinhofgroep te infiltreer. Daar is ook sy werk as joernalis (binne en buite die goeie orde) en by ’n uitgewery, die ervaring rondom die geheime Grensoorlog en twee mislukte huwelike vol tragedie.

Soos die (Suid-)Afrikaanse samelewing tussen 1960 en 1990 dieper wegsink in die waansin van die werklikheid, so disintegreer George se lewe, persoonlik en psigies. Sonder dat hy dit besef, word die kolletjies wat hy sien steeds meer gaatjies en word sy beheptheid as kind met die onvatbaarheid van tyd ’n obsessie. Ons begin saam met hom wegbeweeg van fantasie en ’n soort magiese realisme na ’n wêreld van hallusinasies en absurditeite.

Wanneer hy op ’n dag in die Goewermentstuin in Kaapstad beweer daar is ’n bom in die aangrensende parlementsgebou, word hy in hegtenis geneem en opgeneem in Valkenberg, waaruit hy later op ’n bisarre wyse ontsnap. Mettertyd word Stikland ’n tweede tuiste, maar een sonder deure. Dít is dan die mal man waaroor die roman se subtitel dit het.

In die jare wat hy in die psigiatriese inrigting deurbring, word hy deur sy mense van sy erfgoed beroof en word sy persoonlike besittings deur sy een eksvrou in ’n stoor geberg. Net sy seun, Simon, aanvaar hom en bring troos. George maak maklik vriende met vreemdelinge en kry hulle om hom te help om sy lewe stuk-stuk aanmekaar te slaan of daarvan ontslae te raak. As die roman begin, is hy juis op pad om die oorblywende familie weer van sy bestaan bewus te maak.

Ontmoet die skrywer
Hermanus: Jonathan Amid gesels eerskomende Woensdag, 7 Augustus, om 17:30 vir 18:00 met Ruan Kemp by Hemel-en-Aarde Brewery in die Hemel-en-Aarde Village op Hermanus. RSVP: rsvp@nb.co.za.

Net soos die malles spreekwoordelik altyd die waarheid praat, omdat daar geen wag voor die mond geplaas (kan) word nie, so kan die verteller in Gedeeltelik bewolk vanuit George se perspektief met groot gemak al die taboes ondermyn, politieke korrektheid (destyds en nou) eenkant toe skuif, en die mediese wêreld, die regspraktyk en die psigiatriese wêreld satiriseer. Daar is heelwat om oor te glimlag of selfs hardop te lag.

Dit is ’n geil Afrikaans wat ons in hierdie roman hoor en die beskrywings is dikwels op die man of die vrou af – kru, maar sonder om banaal te word. Wanneer dinge wel banaal beskryf word, byvoorbeeld rondom koshuisrituele en -tradisies, wil dit op hierdie manier ook kommentaar lewer.

Wat wel hinderlik is – en dit is ’n tegniese aspek wat die meeste lesers nie sou opval of pla nie – is dat die skrywer hier en daar die fokalisasie verskuif. Juis omdat die perspektief waarmee daar gekyk word so eiesoortig is (beskrywend van George se optrede of deur die oë of gemoed van George), is die enkele kere waar die skrywer iemand anders die woord gee, steurend. En onnodig.

Gedeeltelik bewolk is ’n toeganklike lekkerleesboek, maar een wat ook deur die baie verwysings na die letterkunde en filosofie (George se studierigting as student) die leser kan dwing om hierdie man se storie binne ’n ruimer konteks te sien.

Dit is ’n voorlopige hoogtepunt in 2019 en ’n roman wat vra – en verdien – om wyd gelees te word.

  • Fanie Olivier is ’n digter, taalpraktisyn en afgetrede akademikus.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.