Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dok Jan grawe Witsand se geheime onder die sand uit

Ná ’n menigte onderhoude en argiefwerk kan lesers nou met behulp van dr. Jan Langenhoven se twee stewige boeke saamstap deur die geskiedenis van die kusdorpie Witsand en sy inwoners, skryf Wium van Zyl.

Vakansie­gangers in die 1950’s.

Witsand: Terugreisen Witsand: Terugblik deur Jan H. Langenhoven. Selfpublikasie. Prys: R430 elk (hardeband) of R720 (albei in sagteband).

Treilers van die Kaap het lonkend

saans geknipoog vir ’n kind;

soveel flesse met versugtings

het vasgespoel teen Potbergpunt . . .

Só verwoord die digter Chris Lombard die verwondering waarmee Witsand by die monding van die Breërivier sy besoekers al eeue lank oorrompel. Van ’n eerste, oorblufte blik af tot by elke blye weersiens van die steeds veranderende, maar altyd glinsterende baai en rivier. Met skuins langs die see se messkerp horison Sebastianspunt, wat uit ’n oerverlede golf op golf uitdaag. En dan die dorpie met ’n gasvryheid oneindig wyer as sy munisipale grense.

’n Dekade of wat gelede het hierdie pêrel van die Suid-Kaap ’n liefhebber gekry waaroor meeste ander dorpe skaars kan droom. Dr. Jan Langenhoven, ’n chemikus, het hom met toewyding en geduld – en geen geldelike ondersteuning – gewy aan navorsing oor die plek en sy mense. Deur jare se onderhoude en ar­giefwerk het skimme vir hom name gekry. Dinge waaroor Witsanders altyd gewonder het, het hy in konteks geplaas.

Sy Gooi los! Die vissermanne van Witsand en Port Beaufort (2012), ’n boek van 371 bladsye en met meer as 800 foto’s, het pas sy langverwagte opvolg gekry. In twee stewige dele van meer as 320 bladsye elk – Witsand: Terugreis en Witsand: Terugblik – voltooi hy die storie. Nou kan lesers saamloop op paadjies wat oor baie jare na dié stukkie hartland gelei het.

Ons kry te doen met mense wat soms behoorlik moes vasbyt, soos Siebert, wat sy Dodge se stuurwiel duskant die Soutpan verloor het. Of diegene wat moes sukkel met die een pap wiel ná die ander voordat die pad van Heidelberg af geteer is. Om nie te praat van die oormoedige pa wat ná donker van Riversdal af probeer kortpad vat het, om hopeloos te verdwaal op die grondpaadjies oor die vlakte nie. Hy en sy beteuterde gesinnetjie moes met dagbreek, ná ’n gesukkel om ten einde raad in die oorvol motor te slaap, die duine en die huisies van die beloofde Eldorado sommer hier vlak voor hulle gewaar.

Die ontwikkeling van die dorpie word stap vir stap gevolg. Die boeke bevat selfs die name, besonderhede en staaltjies oor die eerste eienaars van erwe. Wat meer is, die reuse van die ou tyd, oom Boy Rademan van die losieshuis en winkel, oom Hansie Steyn met die mooi dogters, tannie Nella, oom Nickey Beukes, oom Tewie en tannie Tillie Joubert, Piet Horsie, Piet Ryspunt, die “Peebol” Swarts, oom Pieter en tannie Gus de Jager en nog vele meer word opnuut bekend gestel. Selfs die waarheid wat versteek was onder die sandvloer van oom Koen Muller se office by die Skuitbaai kom aan die lig – ’n geheime voorraad gees van die wingerd, steeds op peil gehou danksy die seekatte wat die oom aan haastige hengelaars gelewer het.

In deel 1 word ’n aantal interessante natuurverskynsels uitgelig, soos die groot vangs waarmee ’n visarend op ’n keer presteer het; of die manewales van ’n klompie astrante muskeljaatkatte. Al gou kom ’n mens uit by die steeds terugkerende probleem van waaisand en die huisverslindende lopende duine. ’n Skaars lugfoto uit 1940’s sal selfs die grootste ontkenners van hierdie probleem ’n droë keel besorg, want dit wys die dorp is nie net na die indrukwekkende sandkoppe genoem nie, maar word in werklikheid steeds daardeur omsingel. Die “waaisandteorieë” van dese en gene word op ’n rytjie gesit.

Daarna volg episodes uit die geskiedenis, onder meer oor mense wat nie oor die los sand heen met ’n ryding hul vakansieplekkies kon bereik nie en moes ver dra aan hul bagasie. Of ander wat eers die huis moes oopgrawe voordat die vakansie kon begin. Die opeenvolgende owerhede se gesukkel hiermee is ’n spanningsverhaal. Die sukses wat met die aanplant van rooikrans (hier “rooipitjie” genoem) behaal is, word in perspektief gestel deur die reguit taal van ’n inwoner: “Die rooipitjie is ’n seën en ’n pes.”

En tog was die duine nog altyd ’n heerlike speelplek, selfs ’n vername vryplek. Ons verneem hoe Sannie van oom Koen die tjoklit wat sy van ’n lustige Kapenaar gekry het, eers gegryp en toe laat spat het om aan sy haastige hande te ontglip.

Ook Witsand se ander stryd, die steeds ontwikkelende sage om vars water in die hande te kry, word liter vir liter gevolg.

Deel 2 bevat onder meer gegewens oor sommige bouwerke, onder meer die vroeër so prominente “Lighuis” wat ’n mens tans maar in jou verbeelding moet rekonstrueer. Die legendariese Oysterbeds-hotel word eweneens tot lewe gewek, onder meer deur die oë van skrywers soos T.V. Bulpin en prof. A.C. Celliers. ’n Aantal gebeurtenisse wat altyd weer in gesprekke opduik word teen die lig gehou, soos die verskillende groot vloede en opspraakwekkende verdrinkings soos dié van die Whyte-kinders in 1927. Tereg word daar nie gebly by die eng grense nie, maar word die boere en bywoners van naby Witsand ingesluit.

Só kry ’n mens nou toegang tot die boeiende stories van Westfield, Vondeling en Rhenosterfontein naas dié van die opkoms en ondergang van die voormalige hawe Port Beaufort en die dinamiese Barrys.

Soos Gooi los! bevat hierdie werke ’n rykdom foto’s waartoe baie mense bygedra het. Net soos die stranddorpie self is dit boeke waarna ’n mens oor en oor terugkeer, ’n monument in die Hessequa.

  • Meer inligting en die inhoudsopgawes is beskikbaar op die webwerf www.langenhoven.net. Stuur ’n e-pos na jan@langenhoven.net om die boeke te bestel.
  • Wium van Zyl is ’n Neerlandikus en emeritusprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Meer oor:  Terugblik  |  Witsand  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.