Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dolf van Niekerk: ‘Ná alles bly die verwondering'’
Dolf van NiekerkFoto: Enya Jansen van Vuuren

Hy vergeet dikwels van sy ouderdom wanneer hy besig raak, sê die skrywer Dolf van Niekerk, wat Vrydag 90 jaar oud is.

“Ek glo in beweeg, ek kan nie stilsit nie,” sê hy aan tafel in “die bos”, die agterplaas van sy huis in Murrayfield, Pretoria. Hy woon sedert 1968 hier “teen die kop met al die inheemse bome”.

“Jou liggaam en gees moet mos maar saamwerk. Nee, ek is dankbaar daarvoor. ’n Mens gaan voort asof niks gebeur het nie en dan op ’n dag – as jy ’n bietjie kortasem raak – besef jy, wag ’n bietjie . . . ek is nou 90.”

In die jaar dat hy 90 word, verskyn daar ook twee publikasies uit sy pen.

Legkaart van ’n jong lewe deur Dolf van Niekerk

Sy bundel essays Legkaart van ’n jong lewe is reeds deur Protea uitgereik en sy nuwe digbundel, Berigte uit die skemerland, verskyn binnekort.

Van Niekerk, ’n boorling van Edenburg in die Vrystaat, wat dan ook aan die universiteit van die Vrystaat studeer het, se loopbaan het by die SAUK begin.

“Ek dink dis eintlik ook waar ek begin skryf het.”

Hy en Pieter de Bruyn, radioman en akteur, sou by die SAUK saam sit en planne beraam.

“Dan sê ons vir onsself: Kyk, ons moet die radio wen vir Afrikaans. Ons gaan Afrikaans skryf en die radio gaan Afrikaans praat.”

Dolf van Niekerk

Van Niekerk is later Kaap toe verplaas waar hy die digter DJ Opperman ontmoet het. Opperman het ook eerste sy gedigte gepubliseer. Hy was toe redakteur van die literêre tydskrif Standpunte.

Toe het hy nog net gedigte geskryf. Die prosa sou eers later kom. Sy ontmoeting met die essayis en omroeper Audrey Blignault was die eerste tree in daardie rigting.

“Sy was redakteur van ’n tydskrif, Die huisvrou. Toe vra Audrey op ’n dag vir my: ‘Dolf (ek was vroeg in my 20’s, wat weet ek nog van skryf?), wil jy nie vir my ’n kortverhaal vir die tydskrif skryf nie?’ Ek sê maar hoe nou? Sy sê probeer, hoekom nie? En daar skryf die astrante mannetjie ’n vervolgverhaal vir Die huisvrou.”

Onder ’n skuilnaam.

“Dit was die eerste prosa, kan ek maar sê, wat die ou man gepleeg het.”

Van Niekerk is bekend om boeke soos Die son struikel en Kroniek van turf en digbundels soos Bleek planeet en Nag op ’n kaal plein.

In sy loopbaan is hy onder meer met die Eugène Marais-prys en MER-prys bekroon. Benewens sy skryfwerk was hy direkteur van die Direktoraat Landbou-inligting.

Nag op ’n kaal plein (Human & Rousseau 2006) het gespruit uit ’n besoek aan sy grootworddorp – vir die eerste keer in baie jare.

My ouers is daar in die begraafplaas begrawe. En daardie aand ná ete gaan stap ek waar ek as kind op die plein gestap het. En glo jy nou vir my: Ek staan daar en ek kyk om my . . . en dis asof al die mense wat ek geken het uit hul huise kom. Die hele plein is vol mense. Ook dié wat gesterf het. Die kinders wat ek geken het. En daar is almal om my

“Dis verstommend hoe dinge gebeur. Op ’n slag het my seun Evert (’n violis) gevra waarom slaap ek nie weer

’n slag daar oor nie. Toe volg ek dit op. Ek oornag toe daar op pad Kaap toe. Toe ek terugkom, het ek ’n bietjie meer tyd gehad.

“My ouers is daar in die begraafplaas begrawe. En daardie aand ná ete gaan stap ek waar ek as kind op die plein gestap het. En glo jy nou vir my: Ek staan daar en ek kyk om my . . . en dis asof al die mense wat ek geken het uit hul huise kom. Die hele plein is vol mense. Ook dié wat gesterf het. Die kinders wat ek geken het. En daar is almal om my.”Hy is toe terug na Pretoria en drie dae later het die eerste gedig aangemeld. So het die gedigte in Nag op ’n kaal plein die een ná die ander gevolg.

Sy pa was ’n kleremaker op Edenburg en sy ma is ’n maand ná sy geboorte dood.

“Ek dink dit het nogal ’n invloed gehad, dat ’n mens baie gevoelig is vir wat jy ervaar.”

Hy staan op en kom terug met ’n eksemplaar van Legkaart van ’n jong lewe.

“So lyk die boekie.”

Hy en twee ander kinders pryk op die foto op die omslag. Sy pa het vir hom die pak gemaak.

“Dis ek daai – met die witkop wat ek nou weer het.”

Die bundel sluit ’n filosofiese voorwoord in.

Dit het vir hom begin met ’n ervaring as ’n vyfjarige.

“Die band tussen die fisieke, jouself en die geestelike. As kind was daar iets wat ek nie kon verstaan nie. Maar ek het geweet dis is meer as wat ek sien. Dit het my my lewe lank bygebly.”

Stof om oor te skryf kry hy op eienaardige maniere. Goed prikkel of stimuleer hom.

“Kyk, ’n gedig daag op. Dis die wonderlikste ding. Daarna begin jou verstand werk. Hy daag op uit ’n verwysingsraamwerk en jou bewussynswêreld, wat jare daar kon lê, nè? En op ’n dag dan sê hy, hier is ek. Maar dan begin die werk.”

Hy praat oor Berigte uit die skemerland.

“Van kleins af het ek ’n band met die skemer. Ek is nou in die skemerland. Nog nie nag nie.

“My heel eerste gedig in die bundel gaan oor die geboorte. Dan sluit dit af met die verwondering.”

Die woord “verwondering” het ook ter sprake gekom toe hy sy goeie vriend, die skrywer Chris Barnard, die laaste keer gesien het.

Hy het hom in die Life Wilgers-hospitaal gaan besoek en soos gewoonlik het hulle aan die gesels geraak.

“Een van die aangrypendste oomblikke was vir my die besoek aan Chris. Dit was twee dae voor sy dood. Ons het gepraat oor letterkunde en filosofie. Die fisieke het nooit ter sprake gekom nie.

“Een van die aangrypendste oomblikke was vir my die besoek aan Chris. Dit was twee dae voor sy dood. Ons het gepraat oor letterkunde en filosofie. Die fisieke het nooit ter sprake gekom nie.

“Toe ek my kom kry, was ons al twee uur lank aan die praat. En weet jy, toe vra ek hier teen die einde vir Chris: Wat is dit met ons?

“Daar kom ek en hy by die volgende uit: Ná alles waardeur ons is, bly verwondering oor.

“En ek en Chris is met daardie begrip uitmekaar. Oor die grootheid, die waarheid. Dis verwondering. Die bron sal ons nooit ken nie. Dis die soort gesprekke wat ons gehad het.”

Van Niekerk het vyf kinders – sy oudste drie uit sy eerste huwelik en die jongste twee uit sy tweede huwelik. Vier van sy vyf kinders het in 2017 ’n konsert vir hom in die Brooklynteater in Pretoria gehou.

“Ja, hulle is ’n interessante klompie . . . En hier sit die ou man nog.”

Die Innibos-kunstefees in Mbombela het hom in 2017 vereer.

“Ek het dit verskriklik baie waardeer. Ek glo nie ek verdien iets nie. Nee, regtig waar. Wat ek gedoen het, het ek as my werk beskou. Jy skryf omdat jy nie anders kan nie, jy dig omdat jy nie anders kan nie, maar uiteindelik is dit jou werk, jou verstand, jou bewussyn, jou gees.”

Meer oor:  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.