Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Donker verhaal uit ’n ervare hand slaag

Sielsmokkelaar

Leon van Nierop

PROTEA, R220

Sielsmokkelaar is ’n verwerking van die oorspronklike Van Nierop-roman wat in 1996 verskyn het.

“Die enigste ding om te vrees, is vrees” – die woorde op die omslag – is ’n goeie aanduiding van wat op die leser wag.

Die sentrale karakter, die 16-jarige Ramón Fraser, is die seun van ’n sigeuner wat onwillig van plek tot plek verhuis, elke keer om oënskynlik van ’n onbekende bedreiging te vlug.

Sy ma – oorspronklik Turks maar ook Afrikaanssprekend – vlug met hom vandat hy kan onthou. Hoewel sy hulle aan die lewe hou deur ander mense se toekoms te voorspel, weier sy om Ramón se toekoms te lees, tot op ’n verskriklike dag toe die “mantelman” sy opwagting maak.

Ramón en sy ma moet wéér vlug, iets waarteen die opstan­dige 16-jarige tevergeefs protesteer. Boonop word hy geteister deur onverklaarbare drome, hoofpyne en angsaanvalle.

Dié keer beland hulle op ’n plaas in die Chrissiesmeer-distrik – ’n plek vol poue “met angsgille wat die dood nader roep’’, en met sterte “wat bestaan uit duisende oë wat tot in sy siel kyk”.

Ramón ontmoet en leer ken uiteindelik sy pa, Marnus, wat hy altyd as “oorlede” op skoolvorms aangedui het. Dis nie ’n maklike tyd vir die tienerseun nie en hy word geboelie en opgefoeter.

Ramón se grootste uitdaging is egter die mantelman wat “die niemandsland tussen hemel en hel oppas en verlore siele vir ewig daar opsluit”. Hy nooi Ramón om deel te word van sy 1 000-jarige “ryk van donkerte, moord en waansin”.

Sielsmokkelaar is ’n komplekse verhaal waarin die uitdagings van grootword en die soeke na identiteit verweef word met donker, magiese elemente. Dit is verfrissende en nieresepmatige leesstof deur ’n ervare skrywershand.

Riaan Grobler is ’n vryskutresensent en redaksielid van City Press.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.