Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dot Serfontein: 'n Groot gees groet
Dot Serfontein in 2009 in haar huis in Kroonstad.Foto: Charles Smith

Op die Afrikaanse galery van reënmakers sal daar ’n plek blý vir Dot Serfontein, skryf Leana Lategan, senior navorser van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum – en Navorsingsentrum (Naln) oor die geliefde skrywer wat vanoggend in haar huis in Kroonstad op 91 dood is.

Verskeie skrywers en uitgewers het hulde gebring aan die groot Vrystaatse skrywer, joernalis en geskiedkundige. Sy was besonder trots op haar provinsie en sy mense.

Lategan sê dis daardie Dot wat ’n joernalis waarskuwend kon wegdreig met “Ek bid jou dood!”(sou hy onmin saai tussen haar en Antjie). Maar ook die Dot wat die liewe Here persoonlik kon uitnooi na ’n leeskringbyeenkoms, kompleet met appelkoek en tee.

Dot Serfontein wat ’n konfyttert sny en tee skink, en half nadenkend praat oor haar liefde vir haar kinders, en eerlik antwoord oor die innige verhouding met haar skrywerdogter Antjie Krog.

Of Dot Serfontein die skrywer, wat fyn waarneem in ánder se skryfwerk, en duidelik uitwys hoe die gehoorgestremde Jan F.E. Celliers se poësie dikwels met dowwer klanke praat.

Of Dot Serfontein, verby 90 jaar, wat moeite doen om te bel en dankie te sê vir ’n ruiker verjaardagblomme van Naln.

Dot Serfontein was een van die beroemde, sterk, Oos-Vrystaatse vroue.

’n Mens het as leser vir Dot Serfontein liefgehad lank voordat jy die voorreg had om haar persoonlik te kon ontmoet. Liefde in die kwepertyd sou nooit ’n klassieke en tydbestande boek in die Afrikaanse letterkunde word nie, maar dit was vir ’n vroeër geslag jong lesers ’n eerste kennismaking met die Vrystaat. Die skrywer se sekure kyk na, en ’n liefdevolle deernis met die landskap waarbinne sy gebore is en grootgeword het, het haar ’n Vrystater in die diepste sin van die woord gemaak.

Nee, ’n Vrystaatse Afrikáner, want meer as enige ander skrywer het sy haar unieke skrywerstempel afgedruk op karakters (mens én dier), en gebeure (histories, sosiaal én polities), en altyd teen die herkenbare agtergrond van die Vrystaatse landskap. Verskeie eerbewyse van kultuur-instellings was die bewys dat sy vir die Vrystaat en sy mense eiesoortig en uniek was, en “een van hulle”. Want daar was ’n gemene deler van denke, emosie, begrip.

Haar verfynde en hoogs intelligente, altyd ondersoekende gees, en die vreesloosheid waarmee sy dikwels “aangekarring en aangeneuk” het, het neerslag gevind in tekste wat vir ’n ieder en elk toeganklik was, wat ’n mens opgeskerp en tot nadenke gedaag het, jou lagtrane laat afvee het, en met verwondering laat besef het waartoe die Afrikaanse woord in staat is. Die heruitgawes van verskeie van haar werke, sowel as bydraes in bloemlesings, bevestig die tydlose aard van haar skryfwerk. Die bewaring van eiegoed het vir Dot Serfontein ook die opteken van Sotho-stories en –geskiedenis beteken. Ook dít het sy met eerlikheid en integriteit gedoen. Sy het nie alleen eiehandig gehelp om ’n kliphuis vir haar gesin te bou nie, maar het ook woordmonumente staangemaak.

Breyten Breytenbach

* Breyten Breytenbach

“As ek hoed gedra het, haal ek dit nou in eerbied af by die verbygaan van hierdie moeder.

“Ek is bly vir haar naastes se onthalwe dat sy op ’n natuurlike manier kon sterwe, en soos dit nou gebeur, sterwe die tekstuur van ’n ryk geskiedenis wat van ver kom saam met haar.”

* Jaap Steyn, skrywer en letterkundige

Dot Serfontein was ’n groot Vrystaatse skrywer en miskien die Vrystaatsste van alle Vrystaatse skrywers. Sy het baie werke geskryf oor haar kontrei, oor die Vrystaatse geskiedenis en Vrystaatse mense. Een van haar indrukwekkendste werke is dié oor die geskiedenis van Kroonstad. Polities korrek was sy nooit, en sy het dit in 1993 tydens die Kodesa-onderhandelinge gewaag om skerp maar gegronde kritiek uit te spreek oor die wyse waarop die selfbeskikkingsreg van die Afrikaners prysgegee is.

Frederik de Jager

* Frederik de Jager (voormalige uitgewer)

“Ek is bly die enkele boek verhale van Dot Serfontein wat ek uitgegee het, het Vertel! Vertel! geheet. Sy was ’n aartsverteller en ’n meester van die kunste van waarneming, tydsberekening, verhulling en humor. Jy kan maar na haar verhale gaan en jy sal ’n vakkundige met die visie van ’n ou-ou oog vind. As daar ’n persepsie van haar as ’n ‘tydskrifskrywer’ is, is dit sonder twyfel ’n kru onderskatting.

“Sy het my gul op die plaas buite Kroonstad ontvang, my laat sit en my gevoer met boerekos en stories. Ons het uit die staanspoor oor die weg gekom omdat sy reguit en eerlik was. ’n Skitterende instansie van watter pasmaats ’n vlymskerp intellek en ’n argrariese bestaan is. Sy was die verpersoonliking van ’n nou vergange Vrystaat, ’n kenner van geskiedenis, families en mense, en ’n liefhebber van al drie.”

* Die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans van die Universiteit van die Vrystaat (UV) sê in sy huldeblyk hy neem met groot hartseer kennis van die dood van een van die Vrystaat se grootste en mees geliefde skrywers. Dot Serfontein was een van die beroemde, sterk, Oos-Vrystaatse vroue, iemand wat sonder skroom en sonder ’n greintjie selfkoestering standpunt kon inneem. Haar skryfwerk was soos haar persoonlikheid, aards en sonder fieterjasies. Sy het ’n besonderse oog gehad vir nie net gewone mense se koddighede nie, maar ook hul milde menslikheid. Die feit dat sy waaragtig ’n goeie storieverteller was, het verseker dat sy wyd gelees is, deur die tydskrifleser, sowel as die literêre fynproewer. Haar erwe sal bly voortleef.

* Hettie Scholtz (oud-uitgewer en sameroeper van die kykNet-Rapport-boekpryse)

“Dot Serfontein laat ’n unieke nalatenskap vir Afrikaans. Sy was gewoon ’n meesterlike storieverteller wat respek afgedwing het met haar robuuste gebruik van Afrikaans. Daarby het sy geslagte lank lesers gekweek met die gevoel van egtheid ingebed in elke storie. ’n Vrou wat geweet het wie sy is en waarvoor sy staan, een by wie ons baie geleer het van respek en van waardes met die publikasie van haar bundel Vertel! Vertel!* by Queillerie in 1995.” *Heruitgegee deur Protea Boekhuis in 2013.

* Corlietha Swart, voorsitter: Bloemfonteinse Skrywersvereniging

As daar nou een skrywer is in wie se vrugbare nalatenskap die Afrikaanse kultuur-historiese geheue, beeldskoon-ontroerende skryfstyl en Afrikaner-adel soos die drie bene van ’n koeksister aptytwekkend vervleg is, is dit in die Vrystaatse skrywer, Dot Serfontein. Van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se kant is ons diep hartseer oor hierdie formidabele Vrystaatskrywer se heengaan, maar is dankbaar vir ‘n produktiewe lewe en ’n boekrak vol onvergeetlike boekemonumente.

Sy was gewoon ’n meesterlike storieverteller.
Hettie Scholtz

My paadjie het met Dot Serfontein s’n gekruis op haar tagtigste verjaarsdag in 2005 toe mev. René Lombard, wat agt dae ouer as Dot Serfontein is, my gevra het om ’n oorkonde vir haar lewenswerk aan die skrywer in ‘n volgepakte Naln-ouditorium te oorhandig. Dames Perspektief het ook ’n paar jaar later, tydens een van hul Vrystaatse bustoere, vir Dot Serfontein in Kroonstad opgelaai waar sy, met haar rooi toerygskoene (omdat hul so gemaklik is) as iets-in-die-tagtiger, aan die toergroep in die begraafplaas en elders in Kroonstad sekere bakens uitgewys het. Vir etlike jare na die oorhandiging in 2005, selfs na Dames Perspektief ophou bestaan het met mev. Lombard se uittrede op negentig twee jaar gelede, het sy en Naln se personeel jaarliks ’n bos blomme in April by haar tydgenoot, Dot Serfontein, op haar verjaarsdag laat afleer. Ek kan nie help om vanoggend te glimlag, hoewel hartseer, as ek aan ’n ou dame met twee sinjaalrooi toerygskoene kundig aan’t beduie tussen grafte dink en aan ’n jaarlikse bos blomme van die nóg ouer mev. René Lombard en Naln “... omdat sy al so oud is ...” nie.

Dot Serfontein het elke blom en oorkonde dubbel en dwars verdien!

Meer oor:  Dot Serfontein  |  Breyten Breytenbach  |  Kroonstad  |  Letterkunde  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.