Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dot Serfontein se laaste openbare optrede in 2009

“Dis die einde van Jerusalem en jy sit met vrede, want jy is onder die uitgesoekte mense wat oorbly deurdat jy Christus deur die deurpos laat inkom het.”

Dit was die Afrikaanse skrywer Dot Serfontein se woorde toe sy in 2009 op die Vryfees in Bloemfontein met haar boek Vrypas ’n reuse-skare getrek het. Hier is die (verkorte) berig oor die geleentheid.

Dot Serfontein met haar boek oor die Anglo-Boereoorlog Rang in der Staten Rij. Die foto agter haar is van hul geliefde plaas Middenspruit buite Kroonstad.Foto: Charles Smith

“Tannie Dot laat die koppe op die oomblik draai,” het Amelia de Vaal, redakteur van haar uitgewer Protea Boekhuis, met ’n glimlag opgemerk toe sy die bekendstelling ingelei het.

De Vaal het opgemerk Serfontein het onlangs op ’n Koek & Boek-geselligheid in Pretoria net twee mense minder as Steve gelok!

“Asof dit nie genoeg is nie, gaan toets ek haar gewildheid en google haar naam. In net 30 sekondes het sy 7 600 hits gekry! Wat moet ek sê? As ek op 84 so ’n persona kan hê, dan dink ek moet ’n mens in die aand lekker slaap. Tannie Dot, jy het ’n impak gehad.”

Serfontein het gesê sy het nie al die ophef verwag nie en dit het haar nog nooit in haar loopbaan te beurt geval nie.

Sy het oor 30 jaar 16 boeke die lig laat sien en oor ’n maand word een van haar boeke by Protea heruitgegee.

“Dis aangrypend, maar dis beslis ontstellend!” het sy met haar kenmerkende grinnik gesê.

Toe De Vaal aan haar vra of haar karakter oor die jare verander het, het sy geantwoord: “Ek dink ’n mens se omgewing het ’n baie groot rol te speel in jou karakter as wat mens elke dag besef, veral as jou wortels diep in ’n sekere landskap ingeweef is, dan laat die nuwe wortels nuwe blare te voorskyn bring. Maar dit is maar dieselfde boom.”

Serfontein het gesê sy het by die skrywer Herman Charles Bosman geleer om iets moois in mense na vore te bring in haar sketse. “Hy het oom Schalk Lourens geskep. Jy lag, dis snaaks, maar hy word ’n wonderlike mens in sy hande. Jy moet net altyd die mens se ruwe kant na vore bring nie, maar om iets te hou wat die mens ook in jou na vore gebring het, van adel.”

Die lewe is baie vriendelik oor mense wat lag vir hul swakhede.
Dot Serfontein

Sy het oor haar selfspot gesê: “Die lewe is baie vriendelik oor mense wat lag vir hul swakhede. As jy kan leer dat die kat saam met jou sit en TV kyk, en sy oortjies so spits, mens, dit is wonderlik.”

De Vaal: “Wat is tannie se kat se naam?”

Serfontein: “Ek het naderhand uit name geraak!”

Op die vraag wat vir haar die somtotaal van liefde is, het sy gesê: “Al wat ek weet, is dat die liefde soos die natuur is. Hy het sy seisoene. Dis vir jou om aan te pas by die seisoen. As jy gedurig die liefde in die lente verwag, sal jy teleurgesteld wees. As jy die lente in die herfs wil beleef, sal jy nog meer teleurgesteld wees. Jy moet die liefde se seisoene herken.”

Serfontein het ook die mense laat uitbars van die lag toe sy gesê het: “Bo 80 kan jy sê wat jy wil en die Here sal jou vergewe daarvoor.”

Oor apartheid het sy gesê dit was “ ’n witmansdroom, maar nie ’n sonde nie” en Afrikaners moet ophou om skuldig te voel oor die lewe. Die land is opgebou deur Afrikaners nadat die Britte probeer het om hulle te verdruk en te verwoes.

Die ma van die digter Antjie Krog het uitroepe van “o, dis mooi!” uitgelok toe sy oor die rol van poësie in haar lewe gepraat het.

“Dit is vir my soos asemhaal.”

Van die beste gedigte is vir haar die eerste 22 hoofstukke van Openbaring volgens die 1933 Afrikaanse vertaling. “Die tonele, die perde, die apokalipsie, die engele, jy sien drake, daar is tonele van verwoesting van die kosmiese wêreld.’

“Dis die einde van Jerusalem en jy sit met vrede, want jy is onder die uitgesoekte mense wat oorbly deurdat jy Christus deur die deurpos laat inkom het.”

Dot Serfontein se lewe in kort

*Susanna Jacoba Serfontein, beter bekend as Dot Serfontein, wat talle boeke uit haar pennevrug laat publiseer het, is op 30 April 1925 gebore, die derde kind van Kootjie Serfontein.

As verbeeldingryke koshuiskind van Kroonstad het Dot vroeg reeds haar geesdrif en liefde vir die Afrikaanse literatuur ontdek.

Ná skool is Dot na die Universiteit van Pretoria waar sy in 1947 haar B.A.-graad en daarna haar Hoëronderwysdiploma behaal het. Ná universiteit, in 1948, is sy as onderwyseres in Engels en liggaamsopvoeding aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein aangestel.

In 1949 is Dot as vroueredakteur van Die Volksblad aangestel. Dot het toe ook gereeld kortverhale vir die tydskrif Sarie Marais begin skryf. Haar vervolgverhaal Liefde in die kwepertyd het gou gewildheid verwerf en is in 1960 deur Tafelberg-uitgewers as haar eerste boek gepubliseer.

Hierop het verskeie boeke gevolg, onder meer Ek is maar ene in 1972, ’n bundel sketse en vertellings rondom die Vrystaat en sy mense.

Dot het in 1982 die Helpmekaar-prys vir gewilde prosa vir haar kortverhaalbundel, Die laaste jagtog, ontvang.

In 2005, met die herdenking van Dot se 80ste verjaardag, het Lapa So min blommeOnder skewe sterre en Sonder klein trou in een volume gepubliseer. Só is Dot dieselfde jaar deur die destydse Oranje-vrouevereniging (OVV) en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein vereer.

As deel van haar 80ste verjaardagvieringe en om hulde te bring aan Dot se bydrae tot Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde, het Naln ’n oorkonde aan haar oorhandig.

In 2009 het Dot se outobiografiese vertellinge, Vrypas, deur Protea Boekhuis verskyn.

Solidariteit Helpende Hand het Dot Serfontein vir haar reuse-bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde vereer.

Meer oor:  Solidariteit  |  Bloemfontein  |  Dot Serfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.